Waarom ry ek fiets? Die waarde van een talent!

12507470_10207767685817732_6565937748814376682_n

Iemand vra my nou die aand by ʼn sportfunksie hoekom ek fietsry, want vir hom is fietsry, hardloop, swem en roei tydmors.

“Julle spandeer ure aan julle sport. Julle spandeer derduisende aan tekkies, broeke, hemde, fietse, spane, wiele-die hele boksemdais, en wat kan jy wys aan die einde van ʼn seisoen- ʼn paar medaljes en ʼn bankbestuurder wat jou bloed soek.”

Volgens hom is die wiel al miljoene jare gelede uitgevind en is ons arme drommels agter die tyd.

Waarom trap of draf of selfs nat word as jy ʼn kar het?

Ek het hom nie klaar geantwoord nie, want sien, ek is seker dat die briljante wetenskaplike, Steven Hawkins wie se lewensfliek ek nou die dag gekyk het, só gevoel het oor die mense se reaksie op sy teorieë oor die ontstaan van die heelal. Nou nie dat ek my hoegenaamd met die briljante man vergelyk nie, maar ek meen te sê, ek’s darem nou nie ʼn uilskuiken nie en ek meen te sê dat ek soms doelbewus ‘n antwoord swyg as die oomblik daarvoor vra.

Daar is ʼn paar redes hoekom ek fietsry, en een daarvan is omdat ek tyd kry vir myself en Anita.

Soms is dit net ons twee, ek en myself want daar is tye wanneer ons moet praat oor goed. Vandag besluit ek om vir die wat wonder oor ons sport, so ʼn skrefie oop te maak.

Verstaan mooi, ons as amateurs se kompetisietyd is waarskynlik lankal verby en ‘n comeback is ʼn vae hoop.

As ek rondom my kyk, het Bruce Fordyce wat in die 1980’s die Comrades gewen het, saam met my verouder. Dieselfde geld vir fietsryers soos Andrew McLean en Bruce Reyneke; oud en alhoewel hulle stadiger is, is hulle nog steeds vinniger as ek.

My liefdesverhouding met langafstand sport het begin met die Comrades in 1986, toe ek in uniform was en ek vir ʼn dare die “af” Comrades gaan hardloop en voltooi het. Ek was superfiks, danksy die SAW en Kie, maar die gogga het my gebyt. My laaste een was in 2006, maar toe is dit te laat vir opgee.

Soos ek ouer word en die medaljes nie meer saakmaak nie, word my kompetisie aptyt ook minder. Ek ry nou vir my, vir ons.

Vanoggend op die fiets het ek weer so ʼn bietjie van myself geleer; ek geniet die endorfiene en die natuur. Ek geniet die meganika van my padfiets wat in sy soveelste ewolusie is, van ruimteeuse materiaal gebou is en meer as net ʼn vervoermiddel geword het.

Ek geniet dit dat ek gelyke tyd die ding se passasier en enjin is.
Ek geniet die eenvoud van mens en masjien en jou eie vermoë om swaartekrag te uitoorlê.

Maar soms, op so ʼn oefenrit van ‘n paar uur gebeur iets anders met my.

Die slimme proffie wat vetvreet legal gemaak het, Professor Tim Noakes het toentertyd uitgevind dat iets met jou brein gebeur as jy so lank kan aanhou, want blykbaar skop jou kreatiewe regterbrein in hier so na ʼn uur se endurance. Dit is dan wanneer pure lekkerte begin, want dan reël die orgaan jou gemoed, jou buie, jou agterkop se herinnerings en die deel van jou kop wat sukkel om jou budget te balanseer.

Dis wanneer ek planne maak en oplossings kry, verhoudings evalueer en antwoorde kry wat duur kopdokters my nie mee kan help nie.

Maar meestal was ʼn ry soos vanoggend s’n ʼn uit-my-hart-dankie een vir lug wat nog soos reën ruik. Vir ʼn liggaam wat nog werk in sy vyfde dekade van dankbaarheid en dat ek as ʼn mens geskep is met een talent.

En dat ek dit nie begrawe het nie.

[Geskryf deur Simon Riekert / PaleToe]

Posted on by jonckie

Comments Off on Waarom ry ek fiets? Die waarde van een talent!

Comments are closed.