Toyota demonstrates top quality in latest vehicle survey

Toyota South Africa Motors staan weer uit in die 2016-voertuiggehaltepeiling van Ipsos met altesaam twaalf goud-toekennings – vyf in die afdeling vir passasiersvoertuie en sewe in die afdeling vir ligte handelsvoertuie (LHV), wat Toyota se verbintenis tot gehalte net weereens beklemtoon.

Die Hilux was gewis weer ’n held in die Toyota-stal met die beste gehaltetelling vir die petrol-enkelkajuit (37). Dié model het nog twee toekennings losgeslaan – beste diesel-enkelkajuit en beste diesel-dubbelkajuit. Die Hilux is ook as beste eenton-enkelkajuitfabrikaat en beste dubbelkajuit-voertuigfabrikaat aangewys. Trouens, Toyota het skoonskip in die LHV-afdeling gemaak deur sy mededingers te klop en as beste LHV-fabrikaat algeheel aangewys te word. Van die ander hoogtepunte was die prys vir die beste LHV-aanleg, die goud-toekenning vir sy vervaardigingsaanleg in Prospecton, KwaZulu-Natal.

Nog iets wat noemenswaardig is, is dat die Prospecton-aanleg onlangs ’n belegging van R6.1 miljard vir verbeterings vir Hilux- en Fortuner-vervaardiging ontvang het. Die direkte gevolg daarvan was ’n toename in vervaardiging, bykans 2 000 werksgeleenthede en ’n styging in plaaslike inhoud vir al twee voertuigreekse. Toyota fokus op ‘ingeboude gehalte’, wat uitgebreide opleidingsprogramme vir personeel beteken om te verseker dat alle prosesse die hoogste gehalte haal. Dit word bewys deur opleiding vir personeel wat gedurende die opgraderingstydperk op R205 miljoen te staan gekom het.

“Gehalte is een van die voorkeurgebiede by Toyota,” sê Calvyn Hamman, senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors. “Ons fokus daarop om gehalte, duursaamheid en betroubaarheid in elk van ons voertuie in te bou omdat ons besef dit is ’n groot oorweging wanneer mense voertuie koop, en ons streef daarna om die beste klantediens te bied. Ons is baie in ons skik met die algehele vertoning van Toyota – veral die Hilux-prestasie. Ek glo dit spreek van ons streng interne gehaltestandaarde en ons verbintenis tot ons klante,” het Hamman gesê.

Toyota het ook in die afdeling vir passasiersmotors uitgeblink en ’n bykomende vyf goud-toekennings vir die beste klein luikrug (Yaris), beste groot luikrug (Auris), beste klein sedan (Corolla Quest), beste nuwe volume-passasiersmotor (Corolla Quest) en beste volumepassasiersmotorfabrikaat gewen.

“Ons het ook met ons verkoopsyfers op ’n regstreekse verband teenoor die tellings in die peiling gelet. In die ontleding van die produkgehaltetelling word dit net weer bewys dat Suid-Afrikaners voertuie koop wat hulle glo betroubaar is en op grond van gehalte gebou is. Hierdie bekragtig Hilux net weer as Suid-Afrika se mees geliefde voertuig,” sê Hamman.

Die peiling is die grootste van sy soort in Suid-Afrika en is deel van Ipsos se gesindikeerde voertuignavorsing. Die peiling behels elke jaar onderhoude met meer as 30 000 voertuigeienaars. Die gehaltepeiling word drie maande nadat ’n nuwe voertuig aangeskaf is, gedoen om vas te stel watter probleme die nuwe eienaar ondervind het. Die Voertuiggehaltepeiling word uitgedruk as PP100 deur nie net te bepaal hoeveel ‘defekte’ elke 100 klante ervaar nie, maar ook hoe doeltreffend voertuie in die smaak van kopers val.

“Ons is baie trots op hierdie prestasie. Ons roem ons op ons gehalte, en wanneer ons klante dit beaam, wys dit dat die werk wat ons op hierdie gebied doen, erkenning geniet. Ons het twee doelwitte by Toyota – om immer beter motors te bied en deur glimlagte op ons klante se gesigte beloon te word – en ek dink dit bewys dat ons in die regte rigting op pad is,” sê Hamman.

Posted on by Media

Comments Off on Toyota demonstrates top quality in latest vehicle survey