Het jy lewensdekking nodig?

Ryan Chegwidden

Ryan Chegwidden

Lewensdekking is die eenvoudige antwoord op ‘n paar moeilike vrae: Hoe sal my gesin oorleef wanneer ek nie meer hier is om vir hulle te sorg nie? Hoe sal my lewensmaat die skuld wat ek agterlaat, soos die verband op ons huis, skik? Hoe sal my gesin vir daaglikse lewenskoste, gesondheidsorg en onderwys betaal as ek nie meer hier is nie?

“Lewensdekking beskerm die mense wat finansieël van jou afhanklik is deur hulle te voorsien van ‘n inkomste deur joune te vervang as jy sterf. Met die hulp van ‘n professionele finansiële adviseur kan jy besluit hoeveel lewensdekking jy benodig en hoe om dit by jou begroting in te werk. Hoofsaaklik is dit ‘n middel wat ontwerp is om te verseker dat jou geliefdes kan voortleef op die lewenstandaard wat jy altyd gebied het, selfs ná jou afsterwe,” verduidelik Ryan Chegwidden, tegniese hoof by Hollard Life.

Alhoewel dit eenvoudig klink, is daar baie faktore om in ag te neem wanneer jy moet besluit of jy lewensdekking benodig, hoeveel jy benodig en wat jy kan bekostig. Jy het dalk ‘n groeiende gesin met baie afhanklikes, daar was dalk ‘n onlangse verandering aan jou lewenstandaard of ʼn toename in skuld, dalk het jy kinders wat die huis verlaat of onlangs ‘n groot loopbaanskuif gemaak, of dalk is jy selfwerksaam met finansiële sakeverpligtinge wat vereffen moet word indien iets met jou gebeur. Lewensversekering word beskou as die hoeksteen van finansiële beplanning. Dit is die rede waarom die keuse van lewensdekking met die leiding van ‘n professionele finansiële adviseur gemaak moet word.

” ‘n Gekwalifiseerde finansiële adviseur sal kyk na jou behoeftes en ʼn finansiële plan ontwerp om by jou unieke omstandighede te pas. Dit is nie iets wat net in een gesprek kan gebeur nie. Net soos jou lewe ontwikkel en omstandighede verander, so moet jou finansiële plan volgens die lewensveranderinge aangepas word. Die ideaal is om jaarliks met jou finansiële adviseur te gesels, of ten minste wanneer jy ‘n beduidende lewenstylverandering ervaar. ‘n Ervare finansiële adviseur sal jou help om die beste versekering vir jou spesifieke situasie te kies, pryse van verskeie versekeraars te vergelyk en die regte hoeveelheid dekking vir jou behoeftes te bereken,” verduidelik Ryan.

Kyk na hierdie handige insigte oor lewensdekking deur Hollard Life voordat jy die allerbelangrike afspraak met jou finansiële adviseur skeduleer:

  • Het jy lewensversekering nodig? Die eenvoudige antwoord is, as enigiemand finansieël van jou afhanklik is, het jy lewensdekking nodig. Dit kan ‘n eggenoot, lewensmaat, kinders, sakevennoot of selfs afhanklike ouers of broers en susters wees. Indien iemand finansieël gaan swaarkry as jy nie meer daar is nie, benodig jy lewensdekking.
  • Die doel van lewensversekering is nie om jou begunstigdes ryk te maak nie. Lewensdekking is nie ‘n Lotto-kaartjie vir jou geliefdes nie; dit gaan oor versekering dat hul finansiële situasie nie met jou afsterwe agteruit gaan nie en dat hulle hul huidige leefstyl kan handhaaf. Dit help gewoonlik diegene wat agterbly met uitgawes en skuld, verlies aan inkomste en toekomstige lewenskoste, totdat hulle vir hulself kan sorg.
  • Hoeveel dekking het ek nodig? Twee faktore is ter sprake wanneer jy moet bepaal hoeveel lewensversekering jy benodig: hoeveel dit sal kos om jou skuld af te betaal en hoeveel jou afhanklikes nodig sal hê om hul huidige lewenstyl te handhaaf. Jy moet met jou finansiële adviseur gesels om te verstaan hoe jou behoeftes bepaal word, veral vir gesinne wat buitengewoon baie skuld en uitgawes het.
  • Hanteer  inflasie en stygende lewenskoste. Onthou dat ‘n lewenspolis met dood uitbetaal en dat dit oor ʼn jaar of oor tagtig jaar kan gebeur. Jou lewensdekking moet dus met verloop van tyd verhoog. ʼn Uitbetaling van R1 miljoen klink dalk vandag na baie geld, maar oor 20 jaar sal dit baie minder werd wees ná aanpassing vir inflasie. Voordat jy ‘n polis uitneem, vra vir jou finansiële adviseur of die polis outomaties vrywillige verhogings inreken en jou toelaat om later meer versekering te koop, indien nodig.
  • Word lewensdekking altyd as ‘n enkelbedrag uitbetaal? Lewensdekking wat as ‘n enkelbedrag uitbetaal, sal jou begunstigdes help met die onmiddellike uitgawes ná jou dood, maar wat gebeur in die maande of selfs jare daarna? Dit is waar ‘n inkomste-doodsvoordeel belangrik is. Dit betaal maandelikse paaiemente aan jou begunstigdes uit om hulle finansieël te help. Dit is handig indien jou begunstigdes nie die kennis en ervaring het om ‘n groot bedrag te bestuur sodat dit vir jare ná jou dood in hul behoeftes sal voorsien nie. ‘n Kombinasie van die twee sal verseker dat jou afhanklikes versorg sal word onmiddellik ná jou dood en ook in die maande of selfs jare daarna.

“Jy wil nie jou skuld aan jou gesin agterlaat, of nog erger, hulle agterlaat sonder ‘n broodwinner en finansiële sekuriteit nie. Gesels met ‘n professionele finansiële adviseur wat jou sal lei tot die beste lewensversekeringskeuses gegrond op jou unieke behoeftes. Lewensdekking laat jou met die gemoedsrus dat die toekoms van jou gesin veilig is, sodat jy nou jou lewe kan geniet,” sê Ryan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Het jy lewensdekking nodig?

Category: Lewens Tags :