Versekering-openbaarmaking 101: Jy het jou vriende vertel van jou mediese geskiedenis, maar het jy jou versekeraar vertel?

susan-gonnermanlrOns vriendskappe is een van ons belangrikste verhoudings en baie van ons sal nie twee keer dink om mekaar te vertel van ons lewenstyl en gesondheidsuitdagings nie, dikwels met al die fyn besonderhede. Wat jy dalk nie weet nie, is dat dit baie belangrik is om hierdie inligting, en nog meer, met jou lewensversekeraar te deel.

Met lewensversekering is eerlikheid oor jou gesondheid, leefstyl, familiegeskiedenis en stokperdjies op jou aansoekvorm noodsaaklike faktore om te verseker dat jy op ʼn latere stadium ‘n goeie eiservaring het. Om inligting uit te laat – selfs per ongeluk – is een van die vernaamste redes waarom jou eis afgekeur kan word of die uitbetaling minder sal wees as wat jy verwag het. Om verkeerde of onvolledige inligting op jou aansoekvorm te gee, word nie-openbaarmaking of wanvoorstelling genoem, en versekeraars neem dit baie ernstig op.

“Alhoewel jou besoek aan die chiropraktisyn twee jaar gelede nie so belangrik vir jou lyk soos die feit dat jy ‘n familiegeskiedenis van diabetes het nie, is dit baie belangrik,” verduidelik Susan Gonnermann, hoof van eise by Hollard Life. “In baie gevalle kom dispute oor eise tussen versekeraars en polishouers op kwessies van nie-openbaarmaking neer. Konflik ontstaan wanneer die gegewe inligting by die eisstadium nie pas by die inligting wat op die aansoekvorm verskaf is nie.”

Hoe word die geopenbaarde inligting gebruik?

Om te verstaan waarom openbaarmaking so belangrik is, moet jy weet hoe die inligting deur die versekeraar gebruik word. ‘n Versekeraar assesseer jou aansoek om dekking op grond van die inligting wat op jou aansoekvorm verskaf is, asook die uitslae van enige vereiste mediese toetse wat jy moet ondergaan. Op grond van hierdie inligting sal die versekeraar die bepalings van jou polis spesifiseer, asook watter premie jy sal betaal en of daar enige spesiale voorwaardes verbonde is aan die dekking.

Al hierdie inligting word geassesseer om te verseker dat jy korrek verseker word, met die toepaslike premie, op grond van jou gesondheid en omstandighede.

Dit is ook belangrik om te onthou dat selfs nadat jy ‘n polis uitgeneem het, ‘n verandering in jou werk, stokperdjies of die sport waaraan jy deelneem die oorspronklike assessering van jou aansoek kan beïnvloed, asook die premies wat jy betaal en die bepalings en voorwaardes van die polis. Verskillende versekeraars het moontlik verskillende vereistes rakende belangrike veranderinge waarvan hulle moet weet. Dit is dus raadsaam om dit met jou finansiële adviseur te bespreek.

“Gesels met jou finansiële adviseur as jy onseker is oor enigiets wanneer jy die aansoekvorm vir lewensversekering invul. Professionele advies sal verseker dat jy die regte dekking vir jou en jou geliefdes kry, dat enige eise moeite-vry afgehandel word en dat jy die volledige voordeel van jou dekking geniet, ” sê Susan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Versekering-openbaarmaking 101: Jy het jou vriende vertel van jou mediese geskiedenis, maar het jy jou versekeraar vertel?