Nuwe Projek poog om Selfoon verwante botsings te voorkom

driving-barista_1800x1800

Die Toyota-Motorkorporasie (TMC), die Komeda-maatskappy Beperk (Komeda), en die KDDI-korporasie (KDDI) het op 20 September 2016 met ’n nuwe inisiatief begin waarin ’n slimfoon-toepassing wat as Driving Barista bekend staan, gebruik word. Dié toepassing is daarop gemik om die aantal botsings in die Aichi-prefektuur deur bestuurders wat hul slimfone in die ry gebruik, te verminder. Dit is die eerste verkeersveiligheidsinisiatief in Japan waar ’n motormaatskappy ’n slimfoon-toepassing saam met ’n kommunikasie- en ’n eet- en drikgoed-maatskappy gebruik en ontwikkel.

Die Aichi-prefektuur het die afgelope 13 jaar agtereenvolgens die meeste noodlottige botsings in Japan gehad. In 2015 was daar 44 3691 botsings wat beserings of sterftes veroorsaak het. Daarbenewens was daar ook 50 1011 inhegtenisnemings weens die gebruik van slimfone agter die stuur, terwyl die toename in hierdie soort oortreding ook die probleem vererger het.

Hierdie hoë syfers dui daarop hoe belangrik dit is om die aantal botsings in die prefektuur te verminder. Die mediamaatskappye2 in Nagoya het in reaksie daarop begin saamwerk met die doelwit om dié omgewing se paaie onder die vaandel “AICHI: Nie meer die ergste”-projek wat op 2 Augustus afgeskop het, veiliger te maak. Toyota en KDDI is ook die borge van die projek.

Toyota, Komeda en KDDI sal hul eie gesamentlike projek in samewerking met die Japannese regering se 2016-herfsverkeersveiligheidsveldtog (21 to 30 September) begin. Die maatskappe bevorder verkeersveiligheid in die Aichi-prefektuur aan die hand van ’n opvoedingsinisiatief waar deelname toeganklik vir almal is en tot ’n vermindering in padongelukke kan lei.

Die Driving Barista-slimfoontoepassing kan net binne die Aichi-prefektuur gebruik word. Die toepassing gebruik ’n girosensor om die hoek waarteen die foon gehou word te meet en die GPS om die afstand gery te bepaal, en bereken dan die afstand wat die bestuurder met die foon met die gesig na onder gery het. Wanneer die saamgestelde afstand3 die 100km-kerf bereik, ontvang die bestuurder ’n koepon vir ’n gratis yskoffie by ’n Komeda-koffiewinkel4.

Volgens een peiling het sowat 60% van die deelnemers erken hulle gebruik hul selfone wanneer hulle bestuur, terwyl sowat die helfte5 van hulle gesê het hulle ry met net een hand op die stuurwiel. Die maatskappye hoop nou die nuwe toepassings sal bestuurders se bewustheid verhoog om nie hul slimfone te gebruik wanneer hulle bestuur nie.

Wat dié nuwe insiatief betref, het Shuichi Murakami, die bestuurshoof van Toyota, gesê: “Toyota het in pas met sy bydrae tot die uiteindelike doel om alle padsterftes en alle padongelukke te help voorkom, voertuigveiligheidsmaatreëls as een van sy grootste voorkeure ingestel. Ons hoop om met hierdie nuwe verkeersveiligheidsopleidingsinisiatief saam met Komeda en KDDI padongelukke verder te verminder.”

Die besturende direkteur van Komeda, Masashi Komanba, het gesê: “Ons hoop as maatskappy wat deur die inwoners van die Aichi-prefektuur ondersteun word, om die aantal padongelukke deur ons deelname as verskaffer van heerlike koffie te verminder.”

Die direkteur in bevel van CSR en omgewing by KDDI, Akira Dobashi, het gesê: “Ons gebruik reeds opvoedingsaktiwiteite om die gebruik van slimfone agter die stuur te voorkom, en hoop hierdie inisiatief tussen die drie maatskappye sal help om die probleem in die Aichi-prefektuur op te los. Ons het die Driving Barista-slimfoontoepassing ontwikkel as prettige manier om botsings te help voorkom. Ons hoop om ’n bydrae tot botsvoorkoming te lewer deur bestuurders ’n nuwe ervaring te bied.”

Toyota, KDDI en Komeda sal aanhou stappe doen om ’n veilige en beskutte samelewing te help skep.

“Suid-Afrika het een van die wêreld se hoogste padongeluksyfers en nagenoeg 25% van hierdie botsings word deur bestuurders veroorsaak wat hul selfone agter die stuur gebruik,” het Glenn Crompton, visepresident van bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, gesê. “Suid-Afrika ervaar ’n toename in ongelukke wat veroorsaak word wanneer motoriste hul slimfone in die ry gebruik, wat ’n groot ekonomiese uitwerking op die land se BBP het. Toepassings soos Driving Barista kan help om padongelukke wat deur selfoongebruik veroorsaak word, aansienlik te verminder, wat ons paaie nie net veiliger sal maak nie, maar ook die uitwerking daarvan op die ekonomie sal verminder. Driving Barista is nog in die loodsfase, maar ons hoop dat soortgelyke toepassings gou hul opwagting in Suid-Afrika sal maak.”

Duur van die projek

Aflaaitydperk vir die toepassing: Begin op 20 September 2016

Gebruiksperiode: 20 September tot 6 Oktober 2016

Koffiekoepon-inruilingstydperk: 20 September tot 31 Oktober 2016

1Data deur die Aichi-prefektuur-polisie saamgestel

2Die organiseerder Chunichi Shimbun, die mede-aanbieders CBC Televisie, die Tokai-televisie-uitsaaikorporasie, die Nagoya-uitsaaikorporasienetwerk, die Chukyo-televisie-uitsaaikorporasie, die Aichi-televisie-uitsaaikorporasie, CBC Radio, die Tokai-radio-uitsaaikorporasie, FM AICHI, ZIP-FM.

3100 km die eerste keer, en elke 200 km daarna.

4Klante kan hul koffiekoepons ná 12:00 gebruik. Koepons mag net by sommige winkels gebruik word.

5Data saamgestel deur die KDDI-korporasie. Enige gebruik van ’n slimfoon, ongeag of die motor ry of by verkeersligte staan, is as gebruik van ’n selfoon agter die stuur beskou.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Projek poog om Selfoon verwante botsings te voorkom