Kampioenskap wink vir Toyota Gazoo Racing SA op Kaapse byeenkoms

giniel-de-villiers-carolyn-swan-4_1800x1800

Die sesde ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskapsreeks van sewe rondes is die Toyota-Kaap-handelaarstydren wat op 16 en 17 September in die Swartland beslis word. ’n Oorwinning vir Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, in Toyota se ‘tuis’-byeenkoms sal hulle die 2016-kampioenskap laat wen. Hulle het nog elke ronde van vanjaar se kampioenskap in hul Yaris S2000 in die kleure van Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, gewen.

“Dit was ’n ongelooflike seisoen tot dusver,” sê Poulter. “Ons het ’n fantastiese lopie gehad en die Toyota Yaris was absoluut foutloos. Ons het verlede jaar ’n moeilike byeenkoms in die Kaap gehad, en sal daarop uit wees om hierdie keer daarvoor te vergoed.”

Hul spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, is die enigste ander span met ’n berekende kans om Poulter/Coetzee se kollig nog te steel. As De Villiers/Swan die Toyota-Kaap-handelaarstydren wen, sal dit die titelstryd tot in die sewende ronde neem.

“Leeroy en Giniel was al twee superbestendig vanjaar,” sê Glyn Hall, Toyota Gazoo Racing SA se spanhoof. “Nie een van hulle het ernstige foute begaan nie en ons kon nie gelukkiger gewees het met die stand van sake nie.”

Die private jaer Ernie van der Walt is op die oomblik derde in die kampioenskap in sy Vecto Petroleum Toyota Yaris S2000, wat Toyota skoonskip aan die bopunt van die punteleer laat maak.

Klas S1600 vir voorwielaangedrewe tydrenmotors met enjins tot 1600cc is die domein van die verdedigende dubbele kampioen Guy Botterill wat nog koning in sy Yato Toyota Etios S1600 kraai. Hy het ’n kussing van 39 punte teenoor die naasvoorloper, Richard Leeke (Ford), wat beteken die Toyota-jaer kan ook die kampioenskap met ’n klasoorwinning in die Swartland wen.

“Dit kon nie groter opwinding gewees het nie,” sê Glenn Crompton, Toyota SA Motors se visepresident vir bemarking. “Dit is ons ‘tuis’-byeenkoms, met twee kampioenskappe wat moontlik beklink kan word. Daarbenewens kan al twee dié kampioenskappe deur Toyota-jaers gewen word.”

Die tydren begin Donderdag 15 September om 18:00 met die voorondersoeke by Imperial Toyota Cape Gate. Die seremoniële wegspring is Vrydag by McCarthy Toyota Table View waarna die deelnemers vier sneltrajekte op die Killarney-renbaan aandurf.
Die byeenkoms eindig Saterdag ná die herwegspring by Malmesbury Toyota en grondpadsneltrajekte om dié Swartlandse dorp.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kampioenskap wink vir Toyota Gazoo Racing SA op Kaapse byeenkoms