Toyota bied opwindende modelle, uiterste ritte en vele meer by SA Motorfees

is_3_4-f_1_1800x1800

“Die Suid-Afrikaanse Motorfees lui ’n nuwe tydvak vir voertuigbyeenkomste in waar die motors die sterre is.” Dit is die eerste bemarkingsinnetjie van die organiseerders van die SA festival of Motoring, en dit som die byeenkoms perfek op. “Ons as Suid-Afrika se voorste motorvervaardiger beskou hierdie byeenkoms as die perfekte platform om by ons klante in te skakel en hulle terselfdertyd ’n voorsmakie van sommige van die opwindende nuwe modelle wat op pad is, te gee,” sê Glenn Crompton, visepresident van bemarking.

ETIOS SPRINT
Die gerespekteerde Etios-reeks het hom as staatmaker in die mark vir klein passasiersmotors in Suid-Afrika gevestig. Die nuwe ‘Sprint’-model bou op hierdie gevestigde platform voort en sorg vir ’n tikkie oemf in die Etios-reeks wanneer hy sy buiging in die eerste kwartaal in 2017 maak.

Die Sprint-weergawe pronk met ’n heeltemal hersiene voorkantstilering met ’n sportiewe en duidelike voorbuffer-ontwerp wat die hoof-fokuspunt is. Die groot, onderste lugskort met ingeboude misligte word deur die kenmerkend gevormde sierrooster aangevul.

Die agterbuffer was ook onder die mes en het ’n laer voulyn wat sy profiel beklemtoon. Die binneruim pronk met verbeterde tasbare binneruimelemente regdeur.

Die pakket word deur vyftiensduim-allooisierwiele met tweelingspeke afgerond.

etios_003_880x500

OPGEKIKKERDE SRX (HILUX)
Die jongste weergawe van die Hilux het hom weereens as Suid-Afrika se gunsteling-bakkie bevestig deur elke maand met meer as 3000 eenhede bo-aan die verkopetrefferlys te eindig.

“Die nuwegeslag-Hilux is uiters goed ontvang en klante waardeer die omvangryke vermoë van die jongste Hilux-pakket ten volle. Toyota roem hom daarop dat hy uiters klantgerig is, wat hoofsaaklik aan omvattende marknavorsing toegeskryf kan word. Ons het op grond van hierdie klanteterugvoer sekere veranderings aan die SRX-modelgradering aangebring om dit in pas met die behoeftes van leefstylkopers te bring sonder om die duursaamheid en gehardheid waarvoor die SRX-modelle bekend is, prys te gee,” sê Crompton.
Die kern-verandering is die skuif na ’n wyerompkonstruksie tesame met ’n breë, ingeboude wielnis soos dié van die bestaande Raider-gradering. Die omskakeling na die wyeromp-profiel gee die SRX-modelle ’n meer gespierde houding danksy die gebruik van sewentiensduim-allooisierwiele met 265/55-bande.

Die hersiene SRX-modelle maak hul buiging in die vierde kwartaal.

fortuner-18-inch-wheel_1800x1800

FORTUNER KRY ’N EKSTRA DUIM
In ooreenstemming met die soortgelyke suksesverhaal van sy Hilux-stalmaat is die Fortuner ’n wenner onder ’n verskeidenheid gebruikers.

Die 2.8 GD-6 en V6-modelle word almal met stylvolle agtiensduim-allooisierwiele met ’n kenmerkende dubbelprofiel-masjienafwerking opgegradeer. Die teikendatum vir sy bekendstelling is ook in die vierde kwartaal.

CHARISMATIESE NUWELING
Die fokuspunt van die Toyota-uitstalling is ’n holografiese voorskou van die futuristiese en prettige C-HR-nutsmotor. Die C-HR sal as Toyota se eerste probeerslag in die kleinsportnuts/nutsmotor-genre ’n gewisse indruk met sy buitestilering met ’n diamanttema maak.

Die nuweling word deur ’n baanbreker-viersilinderturbo-enjin van 1,2 liter aangedryf, wat vir ’n perfekte balans tussen ekonomie en moeitelose dinamika sorg.

Sy plaaslike bekendstelling word vir die eerste kwartaal in 2017 beplan.

OPGEKIKKERDE IS (LEXUS)
Die opgekikkerde IS Sport-sedan maak sy eerste openbare verskyning by die Lexus-uitstalling. Die IS se kenmerkende hoekige ontwerp is verbeter, wat sy aggressiewe houding versterk. Sy voorkant pronk met ’n splinternuwe buffer met groter en duideliker luginlate. Uiters helder en energie-doeltreffende ligdiode-kopligte bied skitterende beligting.

Die stertlighulsels het nou in pas met die nuwe ligte-tema drievoudige liggidse wat die kenmerkende Lexus L-motief verder beklemtoon.

Die reeks sluit soos voorheen die turboaangejaagde tweeliter-IS 200t in wat met E- en EX-gradering beskikbaar is, en die IS 350 met ’n V6-enjin van 3,5 liter en wat eksklusief in F-Sport-beslag beskikbaar is. Die nuwe IS sal Lexus-handelaars teen November bereik.

VAT, VOEL EN GENIET
“’n Feestelike infrastruktuur stel ons in staat om op ’n meer interaktiewe manier met ons klante om te gaan, en stel hulle in staat om ons voertuie eerstehands te in ’n beheerde omgewing te ervaar,” sê Crompton.

Twee aktiwiteite wat besoekers nie moet misloop nie, is die Toyota Urban Trax en die Toyota Extreme-avonture. Urban Trax stel passasiers in staat om die 4×4-mag van die Toyota-sportnuts- en bakkie-reekse te ervaar (wat die indrukwekkende Lexus LX 570 insluit) waar die voertuie teen op- en afdraandes van 45 grade sal ry. Mense wat nog ’n groter happie adrenalien wil hê, kan by Toyota Extreme aanklop waar hulle as passasiers ’n wipwaentjie-rit met spronge, hobbels, skuins draaie, handremdraaie en talle ander waagkunsies sal ervaar.

Ander aktiwiteite sluit ’n toegewyde 4×4-baan in waar skougangers die nuwe Hilux en Fortuner sowel as die RAV4, Prado en Lexus NX kan ervaar.

Al hierdie aksie en opwinding is by die volgende uitstallings te sien: T1 06, 07, B1a, B2

2016_c-hr_01_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota bied opwindende modelle, uiterste ritte en vele meer by SA Motorfees