Nuwe Hilux in Julie weereens SA se topverkoper-voertuig

 

hilux-1_1800x1800

Motorkopers het altesaam 3 153 nuwe Hilux-bakkies in Julie opgeraap wat dit Suid-Afrika se gunsteling-voertuig gemaak het en sy naaste bakkie-mededinger met meer as 840 eenhede oortref het. Dit het gehelp om Toyota se nuwevoertuigverkope tot 10 224, ofte wel 3 410 aflewerings meer as die naasbeste motorvervaardiger, te verhoog.

Dit kom neer op ’n algehele markaandeel van 22,7 persent.

Calvyn Hamman, senior visepresident vir verkope en bemarking by Toyota SA Motors, stel dit só: “Iets wat selfs nog meer bemoedigend is, is dat 23 persent van alle handelaarsverkope vir Julie aan ’n Toyota, ’n Lexus of ’n Hino-agentskap toegeskryf kan word, wat effektief beteken dat elke vierde voertuig wat deur die handelaarsnetwerk van die hand gesit is, een van ons voertuie is.

“Die feit dat Toyota die enigste vervaardiger was wat die kerf vir 10 000 verkope vir die maand oorskry het, is bewys van die vertroue wat kopers in ons produkte het. Mense koop in onsekere tye soos hierdie produkte wat hulle ken en vertrou, en Toyota bied juis dit en baie meer.

“Gesien in die lig daarvan bly die daling van 17 persent in die nuwemotormark ’n groot kommer vir die bedryf in sy geheel,” sluit Hamman af.

Benewens die Hilux het Toyota in Julie ook die pas in verskeie ander individuele marksegmente aangegee, waaronder die Fortuner wat weereens ’n ongeëwenaarde verkoopsyfer van 1418 eenhede gehaal het, die Quantum (1435) en die RAV4 (441), terwyl die Corolla en Corolla Quest los voor in die C-segment met verkope van 484 en 670 eenhede onderskeidelik is.

Nog noemenswaardige Toyota-volumes was van die RAV4 (441), Avanza (357) en die immergroen LandCruiser-bakkie, wat 343 verkope aangeteken het.

Wat Hino betref, het die 300 in Julie weereens vir dié handelsvoertuigfabrikaat geskitter en ’n markaandeel van 25% in die MHV-segment aangeteken. Die Hino 500 eweneens sy aandeel tot 18 persent in die SHV-segment verhoog – ’n verbetering van meer as 1 persent teenoor Junie 2016.

toyota-info-july-16_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Hilux in Julie weereens SA se topverkoper-voertuig