Nog ‘n oorwinning vir Toyota Gazoo Racing SA

leeroy-poulter-elvene-coetzee-11_1800x1800

Heildelberg in Gauteng was die naweek die gasheer vir die vyfde ronde van die 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap waar Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, hul vyfde agtereenvolgende algehele oorwinning losgejaag het. Die renspan van Toyota Gazoo Racing SA in samewerking met Total Quartz het ’n gebeurtenisvolle dag gehad, maar uiteindelik agt van die byeenkoms se 13 sneltrajekte gewen en die Heidelberg-tydren met ’n gaping van ’n minuut en ’n half minuut (01:31) beklink.

“Ons het in van die sneltrajekte ’n paar benoude oomblikke met toeskouers en wild gehad,” het Poulter by die eindpunt by die Heidelberg-winkelsentrum gesê, “maar in die skoon sneltrajekte was ons egter vinnig genoeg om steeds die eerste plek te verseker.”

Poulter/Coetzee het geen probleme met hul Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000 aangemeld nie en sodoende hul vyfde oorwinning in al vyf byeenkomste tot dusver vanjaar aangeteken.

Hul spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, het oortuigend begin en sneltrajek vyf gewen, maar is in Sneltrajek 6, die laaste van Dag 1, deur dik stof gekniehalter. Dit het hulle die dag 20 sekondes agter Poulter/Coetzee laat afsluit, wat Ernie van der Walt en sy navigator, Gerhard Snyman (Vecto Petroleum Toyota Yaris S2000) in die tweede plek laat inskuif het.

Saterdag het met nuwe hoop vir De Villiers/Swan aangebreek, maar die noodlot het in die tweede dag se eerste sneltrajek toegeslaan. De Villiers-hulle het halfpad deur die sneltrajek dubbele pap wiele opgedoen, maar hoewel hulle die eindpunt gehaal het, moes hulle noodgedwonge hul Toyota Yaris S2000 aan die ren onttrek.

“Giniel en Carolyn het soos altyd net een noodwiel in die kar gehad, en toe hulle twee pap wiele in Sneltrajek 7 opdoen, moes ons halt roep,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, verduidelik. “Hoewel hulle teoreties sou kon voortgaan, sou dit teenstrydig met die reëls wees om die ooppadgedeelte met ‘n pap wiel af te lê.”

Die podium is in De Villiers/Swan se afwesigheid deur Poulter/Coetzee in die eerste plek, Van der Walt/Snyman tweede en Theuns Joubert met Mari van der Walt in die navigatorsitplek van hul Salom Racing Toyota Auris NRC4 in die derde plek voltooi.

Agter hulle was die Klas S1600-spanne in nog ’n strawwe stryd gekoppel. Die 2016-seisoen het tot dusver vanjaar nog net een klaswenner ‒ Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle ‒ opgelewer. Alles het daarop gedui dat dié Yato Toyota Etios S1600-renspan hul stormlopie sou voortsit, maar ’n enjinkets in die laaste twee sneltrajekte het hulle van ’n vyfde agtereenvolgende oorwinning beroof.

Hulle het uiteindelik 14 sekondes agter die klaswenners, Richard Leeke (Ford Fiesta S1600), geëindig, maar het steeds ’n stewige greep op die 2016-kampioenskap.

Die volgende byeenkoms op die 2016-tydrenkalender is die Toyota-Kaap-handelaarstydren, wat tradisioneel ’n uiters skouspelagtige byeenkoms in die Swartland in die omgewing van Malmesbury in die Wes-Kaap is. Dit sal die sesde ronde van die reeks oor sewe tydrenne wees, en word vir die naweek van 16 tot 17 September beplan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nog ‘n oorwinning vir Toyota Gazoo Racing SA