Volspoed vorentoe vir Toyota Gazoo Racing SA in Lichtenburg 450

tdr1000-0230_1800x1800

Dit is volstoom vorentoe vir die onoorwonne Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap terwyl die span hulle op hierdie naweek se Lichtenburg 450 voorberei. Poulter/Howie het hul Toyota Gazoo Racing SA Hilux, met die steun van Total Quartz, nog in elke ronde van die 2016-seisoen tot dusver tot oorwinning aangevoer. Dit sluit die moordende Toyota-1000-Woestynren verlede maand in Botswana in.

Hul spanmaats, die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy, is die naasvoorlopers in die kampioenskap nadat hulle in elke ren van die 2016-seisoen op die wenverhoog gestaan het.

“Dit was ’n droomseisoen tot dusver,” sê die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall. “Leeroy en Rob het vanjaar werklik gewys waartoe hulle in staat is, terwyl Anthony en Dennis is so bestendig soos altyd is.”

Die twee Toyota Hilux-renvoertuie is bykans identies aan die voertuie wat in die jaarlikse Dakar-veldtydren in Suid-Amerika deelneem, en neem sodoende in plaaslike byeenkomste in die FIA-klas deel.
“Dit stel ons in staat om nie net aan die plaaslike kampioenskap deel te neem nie, maar ons plaaslike renne ook as verlengde toetslopies vir ons Dakar-aanslag te gebruik,” verduidelik Hall.

Die Lichtenburg 450, die vierde ronde van die 2016-kampioenskap, is die eerste ren van die seisoen oor ’n gewone veldren-afstand, en volg op die Vryburg-Uithouren (750 km), die Vredefort-Supernaelren (250 km) en die Toyota-1000-Woestynren (1000 km). Hierdie naweek se ren volg ’n meer bekende formaat met ’n voorren oor 100 kilometer Vrydag 29 Julie en twee rondtes van 190 kilometer elk, wat Saterdag 30 Julie aan die beurt kom.

Posted on by jonckie

Comments Off on Volspoed vorentoe vir Toyota Gazoo Racing SA in Lichtenburg 450