Al-Attiyah/Baumel wen Baja Aragon-veldtydren in Spanje in Toyota Hilux

nasser-al-attiyah-matthieu-baumel-1_1800x1800

Die Qatari-renlegende Nasser Al-Attiyah, met sy navigator Mathieu Baumel langs hom, het die naweek die Baja Aragon in Spanje gewen – hul vierde agtereenvolgende oorwinning in die Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux. Hulle het die openingsronde van die reeks oor nege rondes misgeloop, maar is desnieteenstaande los voor die kampioenskap. Hulle was voor die Baja Aragon 58 punte voor hul naaste teenstanders, Yazeed al Rajhi en Timo Gottschalk (MINI), terwyl die jongste puntestand nog op goedkeuring van die sport se beheerliggaam wag.

Al-Attiyah het die laaste sneltrajek van die driedaagse byeenkoms met ’n agterstand teenoor die Peugeot-jaer Carlos Sainz begin nadat hy vroeër in die ren in die stof van stadiger deelnemers gesukkel het, maar het uitgehaal so wat hy kon om die sneltrajek met ’n voorsprong van 1:26,0 te wen – genoeg om die 2016-Baja Aragon van Spanje met ’n gaping van ’n skrale 19 sekondes te wen.
“Dit was ’n moeilike oorwinning,” het Al-Attiyah aan die einde van die ren in die dorpie Teruel, sowat 250 km oos van Madrid, gesê. “Carlos het hard gejaag en ons moes op die laaste dag diep delf. Die Toyota het egter weereens geen probleme gehad nie en ons het geweet ons kan elke greintjie op die laaste sneltrajek uit die voertuig haal.”

Die renvoertuig word deur Overdrive Racing van Belgium bedryf. Dit is ’n uiters ervare en vermoënde span met sterk bande met Toyota Gazoo Racing SA, waar die voertuig wat die onlangse renne gewen het, gebou is. Dit is dieselfde voertuig wat die derde plek in die 2016-Dakar-ren in die hande van Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, losgejaag het.

Die Toyota Hilux was duidelik baie goed vir Al-Attiyah, aangesien hy steeds onoorwonne in vanjaar se kampioenskap is. Dié jaer van Qatar het sy 2016-seisoen met die Abu Dhabi-Woestynuitdaging in die Arabiese Emirate afgeskop. Hy het die Toyota Hilux sy eerste oorwinning daar besorg voordat hy na sy tuisbyeenkoms in die vorm van die Sealine-veldtydren in Qatar verskuif het. ’n Tweede oorwinning in die reeks het Al-Attiyah die voortou in die kampioenskap laat oorneem.

Volgende was die Italiaanse Baja, waar Al-Attiyah weer volpunte in die Toyota Hilux aangeteken het. Hy het dit met sy jongste oorwinning in die Baja Aragon in Spanje opgevolg.
Intussen het die voormalige Dakar-wenner Nani Roma hom by die groeiende brigade Toyota Hilux-jaers aangesluit. Die Spanjaard het hom vir die Baja Aragon in Spanje ingeskyf, en die derde vinnigste tyd in die openingsneltrajek opgestel. Die geluksgodin het egter haar rug in sneltrhjek drie op hom gedraai toe ’n ligte botsing hom en sy navigator, Alex Haro, laat uitval het.

Roma sluit hom aan by voormalige Dakar-wenners Al-Attiya en De Villiers as deel van die groeiende Toyota Hilux-brigade, en sal aan die res van die 2016-FIA-veldtydrenkampioenskap as lid van die Overdrive-renspan agter die stuur van ’n Toyota Hilux deelneem.

Met die 2017-Dakar-byeenkoms wat oor ses maande aan die beurt kom, het die Amaury Sportvereniging (ASO), die organiseerders van die byeenkoms, aangekondig dat hulle gehoor sal gee aan die FIA voorstel om die Toyota Hilux toe te laat om ’n effens groter lugbeperker as in 2016 te gebruik.

“Die hoofrede hiervoor is dat die 2015-byeenkoms se gemiddelde hoogte meer as 2000 meter bo seevlak sal wees. Die FIA maak voorsiening vir renne teen groot hoogtes bo seespieël deur verskillende grootte lugbeperkers voor te skryf,” verduidelik Glyn Hall, spanhoof van Toyota Gazoo Racing SA.

Die onlangse aankondiging beteken die Toyota Hilux se lugbeperker groei nou van 37mm tot 38mm, wat ’n betekenisvolle verskil op die gebied van enjinverrigting maak.

“Benewens dié aanpassing het die ASO ook aangekondig dat die Peugeot-spanne lugbeperkers van 38mm moet gebruik eerder as dié van 39mm wat hulle in die 2016-byeenkoms ingespan het – as hulle dieselfde turbo-aanjaer gebruik. Dit behoort baie te help om die speelveld gelyker te maak,” sê Hall.

Besonderhede van die 2017-Dakar-renroete moet nog aangekondig word, maar dit is reeds bevestig dat Paraguay die gasheer vir die begin van die ren sal wees, met sneltrajekte in Paraguay, Bolivië en Argentinië. Die ren sal in die Argentynse hoofstad Buenos Aires eindig.

Posted on by jonckie

Comments Off on Al-Attiyah/Baumel wen Baja Aragon-veldtydren in Spanje in Toyota Hilux