Wat rowers nie wil hê jy moet weet van huisbraak nie

Thief with a bar of iron in the hand to open a door

Thief with a bar of iron in the hand to open a door

Dertig gevangenes het tydens in-diepte onderhoude onthul hoe hulle te werk gaan wanneer hulle by jou huis inbreek. Die gevangenes, wat met dr. Rudolph Zinn van UNISA gesels het, is almal skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.

Wat jy moet weet

• Agt uit tien huisinbrake word uitgevoer met die hulp van inligting van bediendes, tuinwerkers en voormalige werknemers.
• Rowers sal jou huis tot twee weke lank monitor voordat hulle inbreek.
• Die meeste aanvalle vind tussen 19:00 en middernag plaas. Dit is gewoonlik die tyd wanneer jy ontspan, slaap, kook of TV kyk, en jou alarmstelsel nie geaktiveer is nie. Inbrake kan tot 04:00 plaasvind.
• 97% van rowers is gewapen.
• ‘n Bende gewapende rowers bestaan gewoonlik uit vier lede.
• Die gemiddelde huisrower is tussen 19 en 26 jaar oud.
• Amper ‘n derde van alle huisrowers het óf al moord gepleeg, óf sal nie skroom om dit te doen nie.
• Slegs 17% van alle huisrowers is buitelanders.
• Die gemiddelde rower slaan 103 keer toe voordat hy vasgetrek word.
• Die meeste rowers se ‘basisse’ is slegs 10 tot 30 minute weg geleë vanaf die huis wat geteiken word.
• Rowers word nie afgeskrik deur alarms of gewapende reaksiespanne nie.

Hiérdie is groot afskrikmiddels vir rowers:

• Elektriese heinings
• Infrarooi-strale (detection beams) in jou tuin
• Kringtelevisie
• Klein hondjies wat in die huis slaap (rowers is die bangste hiervoor!)

Doen dít voordat jy jou huis verlaat

• Maak seker alle struike en bome is goed geknip sodat ‘n rower nie ‘n wegkruipplek het nie. Indien moontlik, plant doringbossies rondom dié areas.
• Moenie enigiets in jou tuin laat rondlê wat rowers kan help om toegang tot jou huis te verkry nie. Sluit lere, stapelbokse of enige tuingereedskap toe. Skuif ook enige buitemeubels binnetoe in die aande.
• Probeer om jou daaglikse roetine soveel as moontlik te verander, aangesien rowers jou bewegings vir lank kan dophou. Verlaat jou huis op verskillende tye, gebruik verskillende roetes en doen jou inkopies by ‘n ander winkelsentrum as gewoonlik.
• Wees uiters versigtig wanneer jy ‘n bediende of ander diensverskaffers aanstel. Doen ‘n agtergrond-ondersoek en vra vir verwysings vanaf sy/haar vorige werk.

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat rowers nie wil hê jy moet weet van huisbraak nie