Sukses vir Toyota Gazoo Racing SA in die woestyn in Botswana

tdr1000-9679_1800x1800

• Eerste algeheel vir Poulter/Howie (Klas FIA-Toyota Hilux)
• Tweede algeheel vir Taylor/Murphy (Klas FIA-Toyota Hilux)
• Derde algeheel vir Rautenbach/Von Zitzewitz (Klas FIA-Toyota Hilux)
• Eerste in Klas T vir Venter/Van Alleman (4×4 Mega World-Toyota Hilux)
• Eerste in Klas S vir Strumpher/Hugo (4×4 Mega World-Toyota Hilux)
• Vervaardigersprys vir Toyota

Dit was ’n geval van algehele oorheersing toe Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, die 2016-Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren van 24 tot 26 Junie in Jwaneng, Botswana, aangedurf het. Die span het die algehele oorwinning in die hande van Leeroy Poulter en Rob Howie in hul uiters betroubare Klas-FIA Toyota Hilux beklink nadat hulle Vrydag se kwalifiserende voorren in die tweede plek agter hul spanmaats Anthony Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, voltooi het en daarna nie ’n wiel verkeerd gesit het nie.

“Wel, ons het gewis bewys dat ons sterk kan jaag hier in Jwaneng,” het Glyn Hall, die spanhoof van Toyota Gazoo Racing SA in samewerking met Total Quartz, by die aangewese dienspunt (DSP) gesê nadat Poulter/Howie hul renvoltooi het. “Ons is baie trots op Leeroy en Rob, en Anthony en Dennis het ten spyte van ’n paar terugslae op die eerste dag van die ren teruggeveg.”
Taylor/Murphy het die 2015-Woestynren gewen en dit het gelyk asof hulle dit weer gaan doen nadat hulle die vinnigste tyd in Vrydag se voorren opgestel het. ’n Tegniese oortreding het hulle egter Saterdag aanvanklik meer as ’n uur se straftyd gekos. Dit is later tot net 15 minute verminder nadat dit aan die lig gekom het dat die oortreding nie hul doen en late was nie. Die gevolg was dat Taylor/Murphy die laaste dag van die ren in die vierde posisie weggespring het ‒ 12 minute agter die voorjaers Poulter en Howie.

Hulle het reg van die begin af die tande ingeslaan en tot tweede posisie op die pad teruggeveg. Dié twee staatmakers het selfs met die 15 minute se bykomende tyd as algehele naaswenners geëindig ‒ ’n kortkop voor hul eenmalige spanmaats Conrad Rautenbach en Dirk von Zitzewitz, wat in ’n derde FIA-toegeruste Toyota Gazoo Racing SA Hilux gejaag het.

“Die Woestynren is ’n uiters lang en strawwe ren,” het Rautenbach gesê nadat hy die 1000km-lange ren voltooi het. “Dit was egter ’n goeie toetslopie vir die Dakar, wat my uiteindelike doel is.”

Dié jaer van Zimbabwe, wat vir hierdie ren saam met die baie ervare navigator Dirk von Zitzewitz gejaag het, het sy karakter bewys deur Suider-Afrika se mees ikoniese motorsport-byeenkoms aan te pak en dit nie net te voltooi nie, maar ook ’n podium-posisie los te jaag.

In Klas T vir Suid-Afrikaans toegeruste voertuie met vaste agterasse het die 4×4 Mega World-jaer Jason Venter en sy navigator, Vince von Allenman, die wenvlag vir Toyota gewapper deur ’n hardverdiende oorwinning te beklink. Venter/Von Alleman moes hul pad ná ’n moeilike voorren van agter af oopveg nadat hulle Saterdagoggend in die 18e plek algeheel moes wegspring.

“Ons is by baie motors verby, maar het met sorg gejaag en die ren toegelaat om in ons hande te speel,” het die manmoedige Klerksdorpse jaer ná sy epiese terugvegstryd gesê.

Nog ’n 4×4 Mega World-span, Heinie Strumpher en sy navigator, Henri Hugo, het die Klas S-oorwinning op die tweede dag van die ren beklink. Hulle, sowel as die res van die Klas S-renveld, kon nie die ren op die openingsdag voltooi nie, maar het Sondag ’n skoon lopie gehad om darem punte op die telbord te kry.

Poulter het sy voorsprong aan die bopunt van die punteleer van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap met sy dubbele oorwinning in Botswana aansienlik vergroot.

Terwyl die deelnemers in Suider-Afrika aan die Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren deelgeneem het, het Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, die Italiaanse Italian Baja, die vierde ronde van die FIA se Wêreldbeker-veldtydrenkampioenskap, aangedurf. Hulle het weer in ’n Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux gejaag en hul derde oorwinning ná mekaar in vanjaar se kampioenskap aangeteken. Dit het hul kampioenskapsvoorsprong vergroot, en hulle sien reeds uit na die vyfde ronde, wat aanstaande maand in Spanje beslis word.

“Dit was ’n groot oorwinning vir die span om in Italië te wen,” het Hall gesê. “Maar om dit by die driekuns in Botswana te voeg, het hierdie naweek tot een van my beste ervarings as spanhoof verhef.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Sukses vir Toyota Gazoo Racing SA in die woestyn in Botswana