LEXUS LC 500 beindruk in kronkelende bergpasse

lexuslc500-3_1800x1800

Hierdie wulpse, atletiese vlagskip-koepee maak die skerpste stelling nog oor die rigting wat Lexus inslaan. Die missie van die LC 500 ten opsigte van die toekoms van die Lexus-handelsnaam is om ’n dinamiese ry-ervaring en karakter wat nog in geen ander Lexus aangetref is nie, te bied.

Die strewe na ’n skerper, meer verfynde ry-ervaring het die ontwikkelingspan se fokus geword terwyl hulle ook daarop uit was om die uitstaande Lexus-ritgehalte wat ’n vlagskip-sportkoepee toekom, te behou.

Stel jou nou die nuwe Lexus LC 500 voor wat teen ’n kronkelende bergpas op versnel, en wanneer hy verbykom, versplinter sy brullende enjinklank die rotswande om hom en ’n bank pompende suiers en draaiende ratwerk word ontbloot… Of wat van ’n toneel waar ’n gesig wat in die rotswand uitgekap is, die kop draai om die verbygaande motor agterna te staar? Dit is ’n asemrowende skouspel om die koms van Lexus se vlagskip-koepee in te huldig en die gevolg van ’n baanbreker-filmprojek wat betowerende rekenaarbeeldkunsies ten gunste van werklikheidsbeeldkuns op ongehoorde skaal inspan.

Die LC 500-koepee het vroeër vanjaar ’n sensasionele onthulling as die koppedraaier-ster van die Detroit-Motorskou gehad. Die briljante dinamika van sy ontwerp en ingenieursontwikkeling word in ’n kortfilm gevier wat help om die afwagting op die motor se markbekendstelling aanstaande jaar te verhoog. Die film is op 22 Junie op Lexus se YouTube-kanaal in die VK tesame met ’n agtergrondkykie na hoe die film gemaak is, vrygestel.

Die pragtige LC word in dieselfde gees as Lexus se kreatiewe vernuwing wat tot die Origami-begeesterde IS-sportsedanreplika en die werkende yswiele vir die NX-nutsmotor gelei het, gevier in ’n film wat grense van filmtegnieke tot die uiterste druk. Die mikpunt is om kykers ’n diep visuele en klankervaring van die LC te gee voordat hulle die motor in lewende lywe ervaar.

Die film, wat in die afgeleë Sierra Nevada-bergreeks in Spanje geskiet is, het die talente van die vooraanstaande bewegingsontwerper Edgar Davey en ’n span projeksiekaartspesialiste van QED Productions onder die leiding van Paul Whigfield saamgevoeg. Davey gee mense ’n kykie onder die dop van die LC 500 met beelde van die asemrowende V8-enjin en die wêreld se eerste outomatiese 10-gang-transmissie. Hy het seker gemaak elke beeld kon getrou lyk wanneer dit teen die ongelyke bergoppervlak – die film se natuurlike agtergrond en die doek vir Davey se kunswerk – geskyn word, wat die presiese plasing van elke kamera en projektor vereis het.

“Dit is nie iets alledaags om só opdrag kry nie,” het hy gesê. “Dit was só ‘verregaande’ dat ons eintlik baanbrekerswerk gedoen het.”

Die verfilming het ’n span van 20 mense op die toneel vereis. Hulle het vier van die helderste projektors ter wêdreld gebruik en net drie nagte gehad om Davey se beelde in die eindproduk om te skep. Whigfield het die skaal en uitdaging van alles as volg verduidelik: “Ek dink nie dit sou ’n jaar of twee gelede moontlik gewees het nie; dit sou net nie ’n praktiese proposisie gewees het nie. Dit sou maklik gewees het om te probeer om iets soos hierdie na te maak, maar om dit werklik te doen, was ’n ongelooflike uitdaging.”

Veelvuldige projektors moes gekoppel word om ’n naatlose agtergrond van bewegende beelde oor die rotswande te skep, en die tydberekening moes volmaak met die LC 500 gesinchroniseer word terwyl die motor teen die kronkelende bergpaadjie uitgery het. Buiten die projeksies fokus die film ook op sommige van die ontwerp- en ingenieursontwikkelingseienskappe wat die nuwe koepee definieer, soos sy treffende rompontwerp, koolstofveseldak en terugtrekbare drukvlerk. Aan die binnekant kontrasteer die vakmanskapdetail soos die stikwerk van die seemsleeragtige Alcantara-beslag en die gevormde oppervlak van die magnesium stuurgemonteerde ratwisselpedale met die hoëtegnologiese voorkoms van die 3D-instrumente wat voor die bestuurder opdoem wanneer die enjin se aansitterknoppie gedruk word.

“Niks is al op hierdie skaal gedoen nie,” het Davey gesê, “en dit was ’n uitdaging om selfs net daaraan te dink. Maar in die eindproduk het dit soos oëverblindery gebeur.”

Die nuwe LC 500 word vandag (23 Junie 2016) by die Goodwood Festival of Speed onthul en sal vroeg aanstaande jaar in Suid-Afrika te koop wees.

lexuslc500-5_880x500

Posted on by jonckie

Comments Off on LEXUS LC 500 beindruk in kronkelende bergpasse