Toyota belê R6,1 miljard vir vervaardiging van splinternuwe Hilux en Fortuner in Durban

toyota-day1-269-hr_880x500

Die Japannese voertuigvervaardiger Toyota het vandag aangekondig dat hy meer as R6,1 miljard vir die vervaardiging van die splinternuwe Hilux en Fortuner by die Prospecton-aanleg in Durban belê het.

Dit herbevestig Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) se posisie as die grootste voertuigvervaardiger in Suid-Afrika, wat nie minder nie as vyf individuele modelreekse (Hilux, Fortuner, Corolla, Corolla Quest en Quantum) in ongemonteerde vorm (CKD) sowel as sekere Hino- en Dyna-modelle in deelsgemonteerde vorm (SKD) bou.

“Hierdie jongste aankondiging bied bewys van ’n maatskappy wat ongetwyfeld tot Suid-Afrika verbind is deur strategies te belê in die mense, gereedskap en toerusting om motors en handelsvoertuie van wêreldgehalte te bou wat nie net vir die binnelandse mark bestem is nie, maar ons vlag ook op die internasionale verhoog danksy ’n stewig gevestigde uitvoerplan wapper,” het die TSAM-president en uitvoerende hoof, Andrew Kirby, by Toyota se Prospecton-aanleg gesê.

“Dit is eintlik baie meer – dit is ook ’n viering van die toonaangewende rol wat die Hilux sowel as die Fortuner in die algehele ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse motorbedryf speel.”

Dr Johan van Zyl, voorsitter van Toyota Suid-Afrika en uitvoerende bestuurshoof van Toyota Motors Europa, het Kirby se stelling beaam en bygevoeg die “TSAM van vandag verskil aansienlik van dieselfde maatskappy net tien jaar gelede ‒ alles danksy ’n vermoë om saam met die tye te verander, en ek is trots om te sê dat ons tot die voordeel van ons klante verander het, verbeter het en meer gefokus is”.

Van Zyl het egter die belang van stabiliteit op die produksielyn herhaal: “Hoewel ons met reg trots is op die prestasie van die motorbedryf deur vervaardiging en veral uitvoer ná 1994 te laat uitbrei, moet ons onthou dat Suid-Afrika minder as 1% van die 90 miljoen voertuie wat elke jaar wêreldwyd vervaardig word, produseer.

toyota-day2-68-hr_880x500

“Ons moet egter wêreldmededingend bly – nie net wat lone en produktiwiteit betref nie, maar ook arbeidsbestendigheid. Ek kan egter nie genoeg beklemtoon hoe belangrik ’n verbintenis tot die behoefte van geskiloplossing as die eerste en uiteindelik enigste vorm van verdediging is eerder as om oor te gaan tot staking as die oplossing nie,” het Van Zyl gesê.

“Ek is nogtans vol vertroue dat ’n regverdige en billike arbeidsooreenkoms bereik kan word en wil die versekering gee dat ongeag wat gebeur, Toyota sy bes sal doen om sy klante en Suid-Afrika steeds eerste te plaas.”

55 jaar se voortdurende belegging

Toyota se erfenis in Suid-Afrika strek oor meer as 55 jaar, en was die begunstigde van voortgesette belegging sedert die aanvang van vervaardiging in 1972 toe die maatskappy met sy bedrywighede in Prospecton begin het.

Onlangse beleggingshoogtepunte:

• In 2011 is ’n nuwe groen veld-pakhuis in Boksburg opgerig.

• In 2012 het deelsgemonteerde vervaardiging van die Quantum-taxi ’n aanvang geneem waarna Toyota in 2015 verder hierin belê het toe dit na ’n volwaardige vervaardigingsaanleg omgeskep is, wat ’n splinternuwe aanleg by Prospecton vereis het. Die laaste fase sal in Julie vanjaar voltooi wees. Dit sal vervaardigingsvolumes van 9 500 eenhede tot 13 000 eenhede per jaar verhoog, wat op ’n styging van 37% te staan kom.

• In 2014 is die Prospecton-aanleg opgegradeer om met die vervaardiging van die nuwe Corolla en Corolla Quest te begin.

• 2014 was ook die jaar dat ’n splinternuwe voertuigbergingsperseel in Prospecton aan die gang gekom het.

• 2014 was ’n besige jaar vir Toyota, aangesien dit ook die inlywing van die nuwe Hino-aanleg in Prospecton was.

Belegging van R6,1 miljard

Hierdie jongste aankondiging verteenwoordig die grootste enkele belegging wat Toyota nog gedoen het.

Die belegging van R6,1 miljard behels onder meer R1,9 miljard vir verskafferstoerusting, R1,4 miljard vir binnenshuise gereedskap en toerusting, en die oorblywende bedrag vir belegging in binnenshuise geriewe en geboue om voorsiening vir die nuwe persmasjiene te maak.

Toyota se komponent-aanlegte (wat aan die anderkant van die pad oorkant die hoofaanleg is) moes ook aansienlike aanpassings en ombouings ondergaan met die leerraamonderstel-aanleg wat geheel en al vir die nuutontwerpte onderstel wat ’n unieke verkooppunt van die nuwe modelle is, aangepas moes word. Dit was ook ’n geleentheid om nuwe wêreldwye vervaardigingstoerusting in gebruik te neem ten einde akkuraatheid, gehalte en stabiliteit te verbeter terwyl outomatisering terselfdertyd verhoog is.

Nuwe geriewe is ingerig vir die vervaardiging van ’n verskeidenheid binnenshuise komponente waaronder die nuwe instrumentepaneel, uitlaatsamestel, rem- en koppelaarsamestel, agterbufferversterking, katalitiese omsetter, samestelle vir die voorste en agterste asse, sowel as die geverfde harsbuffers vir die voorkant. Die vorige Hilux- en Fortuner-modelle het sowat 1 500 plaaslike onderdele vir die nuwe modelle gehad, wat nou tot 2 700 verhoog het. Hierdie prestasie doen baie om in die behoefte van die plaaslike komponentverskaffersbedryf vir groter plaaslike inhoud vir voertuigvervaardiging te voorsien.

Benewens TSAM se belegging van R6,1 miljard het Toyota se verskaffers ook aansienlike belegging van oor die R1,7 miljard gedoen, terwyl dit ook vyf nuwe internasionale verskaffers gelok het, wat verdere indiensneming in die verskaffingsnetwerk (sowat 2 000 nuwe werksgeleenthede) tot gevolg gehad het. Dit alles lewer ook ’n bydrae tot groter plaaslike inhoud wat onderdele en moderne geriewe en prosesse betref.

toyota-day2-127-hr_880x500

Dit het ’n regstreekse voordeel vir produksievermoë by die Prospecton-aanleg tot gevolg gehad, wat nou van 120 000 tot 140 000 per jaar gestyg het. Die Hilux en Fortuner is plaaslike kernmodelle vir Toyota wat handelsnaam- en vervaardigingsperspektief betref, en lewer dus ’n stewige 80 persent van die algehele vervaardigingsvolume.

Die Hilux en Fortuner is die onbetwiste leiers in hul segment, en in die geval van die Hilux dra dié voertuig ook die kroon as Suid-Afrika se gewildste voertuig vir 43 van sy 47 jaar.
Plaaslike verkope staan nou al op meer as een miljoen voertuie. Trouens, die Hilux is die langslewende modelnaam op die Suid-Afrikaanse mark. Verkoopsvolumes vir die Hilux word in die omgewing van 3 400 eenhede per maand geraam, terwyl die Fortuner na verwagting gemiddeld 1 100 eenhede per maand sal handhaaf.

Deur Suid-Afrikaners vir Suid-Afrikaners – en die res van die wêreld – gebou

Gesien in die lig van hoe belangrik hierdie twee modelle in die Suid-Afrikaanse mark is, het TSAM sy stem op die gebied van plaaslike vereistes laat hoor. Die ingenieursontwikkelingspan wat in Suid-Afrika gesetel is, het die nuwe Hilux se prototipe modelle deur die strafste toetse denkbaar by die maatskappy se toetsgrond by Eston naby Pietermaritzburg gesit. Dit het in 2010 al begin toe die ontwerp van die nuwe Hilux aanvanklik geskets is, en die doelwitte was taaiheid, ’n motoragtige binneruim en rit, gevorderde sekuriteit sowel as verbeterde sleepvermoë. Van toe af was dit ’n kwessie van genadelose toetswerk van die hele pakket, maatstafbepaling en doelwitstelling. Geskiktheidstoetse is uitgevoer waarin elke toetsmodel 15 000 tot 20 000 km in die strafste grondpad- en veldrytoestande afgelê het om te bewys dat die nuwe ontwerp die vermoë gehad het om die legendariese Hilux-gehardheid tot die volgende vlak te neem. Die ingenieurs het die toetseenhede aan die einde van hierdie proses geheel en al uitmekaar gehaal om te sien of enigiets dalk bykomende aandag sou vereis.

Wat uitvoer betref, is hierdie twee modelle net so belangrik – TSAM is die tweede grootste wêreldvervaardiger van die Hilux en Fortuner (ná Toyota Motors Thailand) en die enigste vervaardiger wat Hilux-modelle bou wat aan die nuwe Euro 6-vereistes voldoen. Uitvoer sal effens meer as 50% van TSAM se algehele 2016-vervaardigingsoplaag van die Hilux en Fortuner wees.

TSAM sal vanjaar meer as 55 000 splinternuwe Hilux’e en Fortuners na 74 lande uitvoer (waaronder van die kieskeurigste markte ter wêreld) ‒ Afrika (43), Europa (28) en Latyns-Amerika (3). Hierdie uitvoermodelle sluit linker- en regsterstuur-modelle in en behels honderde verskillende weergawes wat bewys net hoe vaardig en veelsydig TSAM is.

TSAM is ook uiters trots daarop dat die nuwe en verbeterde plaaslik vervaardigde Hilux steeds aan 16 Verenigdenasie-projekte, fondse en agentskappe verskaf sal word.
Dit sluit die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) en die internasionale Rooikruisverenigings (UNIRFC) in.

Benewens die vervaardiging en verskaffing van volledig gemonteerde ligtehandelsvoertuie en passasiersmotors aan die wêreldmark, sal TSAM ook nuwe komponente na Thailand vir hul eie Hilux / Fortuner / Innova-vervaardigingsaanleg uitvoer. Hierdie nuwe besigheid sal uit die aard van die saak aansienlike waarde tot die plaaslike verskaffingsketting voeg terwyl dit ook as belangrike mylpaal in TSAM se groei as uitvoertoegangspunt aan die onderpunt van Afrika sal dien.

toyota-day2-322-hr_880x500

‘Ons besigheid is nie net om motors te bou nie…’

Soos Andrew Kirby dit stel: “Ons besigheid is nie net om voertuie te bou nie; dit gaan om immer beter voertuie te bou, en die enigste manier wat ons dit kan vermag, is deur in die mense wat ons voertuie bou, te belê.”

TSAM is die grootste werkgewer onder die oorspronkliketoerusting-voertuigvervaardigers in Suid-Afrika en het 8 500 mense in sy span. Hierdie syfer sluit die bykomende 557 mense in wat as deel van die nuwe Hilux- en Fortuner-projek aangestel is. Dit is die helfte van die werkmag wat tot die vervaardiging van net hierdie twee kernmodelle verbind is.

Opleiding was die kern tot die sukses van die Hilux- en Fortuner-projek en was dus allesomvattend ‒ van monteerlyn-spanlede tot handelaar-personeel. Meer as 1,6 miljoen uur is aan die onderskeie aspekte van die nuwe opleidingsprogram bestee wat eweneens die volle spektrum van die opleiding gedek het. Dit het nie net vaardigheidsoordrag behels nie, maar ook die Toyota-kultuur van ’n omgee-maatskappy, transformasie in die werkplek en die ontwikkeling van ’n goed opgeleide, geïntegreerde verskaffingsketting.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota belê R6,1 miljard vir vervaardiging van splinternuwe Hilux en Fortuner in Durban