Nuwe Fortuner veroorsaak opskudding in sy eerste 14 dae op die mark

fortuner-2_1800x1800

Toyota was in April die vierde agtereenvolgende maand Suid-Afrika se topverkoper namate die vraag na die blinknuwe Hilux en splinternuwe Fortuner die plaaslike gunsteling-motorvervaardiger gehelp het om sy naaste mededinger in die kleinhandelstryd met nie minder nie as 28 persent uit te stof. Toyota het 8791 verkope in April aangeteken en ’n voorsprong van 2529 eenhede teenoor sy naaste opponent aangeteken, wat op ’n markaandeel van ’n stewige 21,8 persent neerkom.

Die nuwegenerasie Hilux het in sy eerste volle verkopemaand 3221 nuwe eienaars gekry ‒ meer as 800 eenhede meer as die tweede model op die topverkoper-lys. Hilux geniet op die oomblik ’n 26,4%-aandeel in die segment vir ligte handelsvoertuie.

Soos Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika uitwys, verteenwoordig hierdie stewige verkope die voortgesette vertroue wat Suid-Afrikaanse motorkopers in die Toyota-handelsnaam het ‒ veral in die huidige moeilike ekonomiese klimaat.

“Die nuwe Hilux val na net twee maande op die mark duidelik in die smaak van kopers wat nie net van die verfrisde stilering, vooraanstaande tegnologie en skitterende verrigting van die jongste reeks hou nie, maar ook die intrinsieke waarde wat deel van elke Hilux is ‒ waaronder beproefde betroubaarheid en duursaamheid gekoppel aan koeëlvaste reswaardes ‒ waardeer,” het Hamman gesê.

Nog ’n ster-verkoper is die pasverfrisde Fortuner wat die segment met 846 eenhede oorheers – in dít in net 14 verkoopsdae.

“Die nuwe sewesitplek-Fortuner, wat geheel en al vernuwe is, is die uiterste veeldoeler – die nuwe model kombineer topklas-veldryvermoë met uitstaande verfyning en stilering. Dis ’n wenner en sy terugkeer na die boonste trappie van die verkope-wenverhoog is nie juis ’n verrassing nie,” het Hamman afgesluit.

Ander modelle wat gehelp het om Toyota tot die beste verkoopsyfers vir April te verhef, is die Quantum wat met 1148 verkope ook die beste in sy klas gevaar het, tesame met noemenswaardige bydraes van die Etios (785), Corolla/Auris/Quest (1054), Avanza (321) en die RAV4 (291). Nog ’n merkwaardige bydrae was dié van die nuut-bekendgestelde Landcruiser 200 – 128 eenhede is in April van die hand gesit terwyl die vraag na hierdie vooraanstaande sportnuts onversadigbaar bly.

Wat Lexus betref, is die vraag ewe bemoedigend wat dié fabrikaat se kompakte sportnuts, die ekstroverte NX, betref. Dié model het ook sy merk in April gemaak en 32 eenhede het nuwe tuistes gevind.

Die helder lig in die Hino-reeks was die 300 Series/Toyota Dyna wat met 149 verkope die hoogste syfer in die afdeling vir medium handelsvoertuie aangeteken het.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe Fortuner veroorsaak opskudding in sy eerste 14 dae op die mark