Toyota oorwinning vir Al-Attiyah in Abu Dhabi-Woestynuitdaging

nasser-saleh-al-attiyah-crosses-the-wilderness-in-his-overdrive-toyota_1800x1800

ABU DHABI – Toyota het sy eerste algehele oorwinning in die FIA-veldtydren-wêreldbekerreeks aangeteken toe Nasser Al-Attiyah gister (7 April 2016) die Abu Dhabi-Woestynuitdaging gewen het. Die ren, wat oor twee dae beslis is, was die tweede ronde van die Wêreldbekerreeks waarin Al-Attiyah as verdedigende kampioen in ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux gejaag het.

Al-Attiyah, wat met die hulp van Matthieu Baumel in die navigatorsitplek gejaag het, het die Toyota Hilux, wat by Toyota Suid-Afrika Motors se motorsport-hoofkwartier by Hallspeed naby Kyalami gebou is, in ’n klinkende oorwinning met ’n gaping van 32 minute voor die naaswenners oor die wenstreep gestuur. Hulle is nou bo-aan die punteleer van vanjaar se Wêreldbekerreeks, en hulle sien reeds daarna uit om die Toyota in die volgende ronde, wat van 17-22 April in Qatar beslis word, deur sy passies te sit.

“Ek is baie in my skik met ons uitslag en die vertoning van die Toyota,” het Al-Attiyah ná die ren gesê. “Dit was nie maklik nie, maar ons het die pas reg van die begin af van voor af aangegee. Ek is baie tevrede om voor in die kampioenskap te wees. Die duine was soms moeilik, maar die motor was sterk en betroubaar.”
Die Toyota Hilux wat Al-Attiyah in die Abu Dhabi-Woestynuitdaging gebruik het, is dieselfde voertuig wat vanjaar in die hande van die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, derde in die Dakar-veldtydren was.

“Die motor is ná die Dakar-ren terug Suid-Afrika toe waar dit herbou en vir die Wêreldbekerreeks voorberei is,” het Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, gesê. “Ons het die voertuig toe regstreeks Abu Dhabi toe gestuur waar ons vennote, Overdrive Racing, dit ontvang het. Hulle het hulle goed van hul taak gekwyt, hoewel ons ook een van ons eie tegnici saamgestuur het om te help.”

Die toestande in vanjaar se Abu Dhabi-Woestynuitdaging was moeilik weens reën in die woestyn sowel as talle lang duingedeeltes waardeur hulle moes jaag. Dit het die Toyota Hilux puik gepas, wat regdeur die hele ren geheel en al betroubaar was. Die voertuig het die geharde en ervare bemanning ook goed gepas. Al-Attiyah en Baumel het geen ernstige foute begaan nie, wat hulle uiteindelik van ’n gerieflike oorwinning besorg het.

In Suid-Afrika het die plaaslike veldtydrenkampioenskap verlede naweek in Vryburg begin, en die verdedigende kampioene, Leeroy Poulter en Rob Howie, het die RFS-Uithouren agter die stuur van ’n Toyota Hilux wat bykans identies is aan die voertuig van Al-Attiyah wat hy vandeesweek in die Verenigde Arabiese Emirate bestuur het, gewen.
Die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy was die naaswenners in hul Toyota Gazoo Racing SA Hilux op die tweede trappie van die wenverhoog in Vryburg, wat die betroubaarheid en spoed van die jongste weergawe van Toyota se ren-Hilux bewys.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota oorwinning vir Al-Attiyah in Abu Dhabi-Woestynuitdaging