Toyota maak skoonskip in Donaldson-veldtydrenkampioenskap in Vryburg

rfs-endurance-podium_1800x1800

• 1e algeheel vir Leeroy Poulter en Rob Howie
• 2e algeheel vir Anthony Taylor en Dennis Murphy
• 3e algeheel vir Jason Venter en Vince van Alleman
• Spanprys vir Toyota

Toyota het ’n uitstekende begin in die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap gehad toe die seisoen Vrydag 1 April in Vryburg in Noordwes begin het. Die twee fabrieksingeskrewe Toyota Gazoo Racing SA Hilux-renvoertuie het die byeenkoms in die eerste en tweede plekke algeheel kafgedraf, met Jason Venter en sy navigator, Vince van Alleman, wat derde algeheel in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux was.

“Wat ’n begin vir ons motorsport-seisoen,” was die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, se reaksie ná die ren. “Ons het die jaar begin deur eerste en tweede in die openingsren van die tydrenkampioenskap te eindig, en het nou dieselfde in die openingsren van die veldtydrenkampioenskap gedoen.”

Die eerste ronde van vanjaar se Donaldson-veldtydrenkampioenskap was die RFS-Uithouren in Vryburg – ’n ren van bykans 700 km in die omgewing waar dié sportsoort sy oorsprong bykans vyf dekades gelede gehad het. Die naweek het vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan begin toe die verdedigende kampioene, Leeroy Poulter en Rob Howie, die kwalifiserende voorren wen ten spyte van die feit dat hulle vir die hele roete voor moes jaag. Hul spanmaats, die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy, was die naaswenners in die voorren ‒ net 1:17 agter Poulter/Howie.

Toe die vlag vir die hoofren sak, het Poulter/Howie ’n blitsige pas opgestel en ten spyte van die feit dat hulle hul pad deur die deel van die roete moes oopveg wat nie deel van die voorren was nie, nooit van hul voorsprong afstand gedoen nie.

“Die Toyota Hilux het op die ou einde absoluut foutloos geloop, en ons het ’n volmaakte ren gehad,” het Poulter by die aangewese dienspunt (DSP) aan die buitewyke van Vryburg gesê.

Taylor en Murphy moes dit net skoon en netjies hou, en dit is presies wat dié ervare renpaar gedoen het. Hulle het nie dieselfde ervaring in die kajuit van die nuwe voertuig as Poulter/Howie wat vroeër vanjaar vyfde in die Dakar-veldtydren in dieselfde Toyota Hilux was nie, maar het nogtans van meet af aan by die jongste weergawe van Toyota se uiters betroubare renvoertuig aangepas.
“Ons kon waarskynlik op ’n paar plekke ’n bietjie harder gejaag het,” het Taylor ná die ren gesê. “Die nuwe Toyota Hilux is ’n groot sprong voor verlede jaar se voertuig, maar nou weet ons waartoe die motor in staat is en ons sal niks in die volgende ronde terughou nie…”

Toyota se kragvertoning in die RFS-Uithouren het ’n verdere hupstoot gekry deur die private inskrywing van Jason Venter en Vince van Alleman in hul 4×4 Mega World-Toyota Hilux. Hulle het uiters goed in een van die langste renne op die veldrenkalender gejaag en nie net derde algeheel geëindig nie, maar ook die louere in Klas T ingeoes. Toyota het sodoende ook die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen.

“Dit was ’n perfekte begin vir ons,” het Hall gesê. “Ons sien nou eers uit na die volgende tydren voordat ons die eerste naelren in die veldtydrenkampioenskap aandurf.”

Die tweede ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap word op 7 Mei in Vredefort in die Vrystaat beslis, en behels ’n nuwe, kompakte renformaat waarin die deelnemers in ’n enkele ren deelneem sonder die gebruiklike voorren waarin wegspringposisies bepaal word.

anthony-taylor-dennis-murphy-1_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota maak skoonskip in Donaldson-veldtydrenkampioenskap in Vryburg