Totota Hilux in beheer met Al-Attiyah voor in Qatar

abu_dhabi_desrt_challenge_stage5_mkin_008_1800x1800

DOHA, QATAR – Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, wat pas ’n oorwinning vir Toyota in die Abu Dhabi-Woestynuitdaging losgejaag het, het die vroeë voortou in die volgende ronde van die FIA se Wêreld-veldtydrenbekerreeks geneem. Die Sealine-veldtydren word in Qatar beslis, en strek oor vyf dae wat Vrydag 22 April 2016 eindig. Die twee openingsneltrajekte is nou agter die rug en Al-Attiyah en Baumel, wat in ’n Toyota Hilux jaag wat in Suid-Afrika gebou en ontwikkel is, het ’n voorsprong van net minder as agt minute.

“Vandag se sneltrajek was baie rof en klipperig,” het Al-Attiyah by die tentkamp by die internasionale Losail-rensentrum in Doha gesê. “Die Toyota Hilux is sterk en ons het geen probleme gehad om die moeilike terrein kaf te draf nie.”

Die deelnemers het in Sneltrajek 2 ’n woestynroete oor 346 km aangedurf, met ’n 50km-duinegedeelte naby die eindpunt. Dit was ná die openingsneltrajek oor 226 km wat Al-Attiyah/Baumel met ’n gaping van 44 sekondes voor Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk (MINI) gewen het. Die Toyota-jaers het hul voorsprong in Sneltrajek 2 met 7 minute en 12 sekondes vergroot, en is nou 7:56 voor Al Rajhi/Gottschalk.
“Die Toyota Hilux was die afgelope twee dae absoluut foutloos, en ons het geen probleme om aan te meld nie,” het Al-Attiyah afgesluit.

Al-Attiyah/Baumel jaag in die Toyota Hilux waarmee die Suid-Afrikaanse jaer Giniel de Villiers derde algeheel in vanjaar se Dakar-ren was. Nog ’n Toyota Hilux-span ‒ Marek Dabrowski en sy navigator, Jacek Czahor ‒ het hulle onder die top-10 by Al-Attiyah/Baumel aangesluit. Hulle het die tweede sneltrajek in die sewende plek algeheel klaargemaak en was net 2:03 agter die duinebesie van Jutta Kleinschmidt en Philipp Beier.

Sneltrajek 3 behels 355 km se veldtydren-woestynroete en word Woensdag 20 April 2016 beslis. Dit word gevolg deur nog twee sneltrajekte wat die algehele renafstand op bykans 1 500 km te staan bring voordat die byeenkoms Vrydag in Doha afsluit. Die tydren word in ’n klawer-formaat beslis met die oornag-tentkamp wat vir die duur van die ren by die Losail-renbaan staan.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Totota Hilux in beheer met Al-Attiyah voor in Qatar