Soeke na Quest Waarde in die Suid-Afrikaanse motorwêreld

corolla-quest_standard_1800x1800

Die Corolla Quest is en bly een van die beste waardeproposisies in die Suid-Afrikaanse motorwêreld. Die Corolla Quest, wat die grootte en praktiese gebruik van ’n tradisionele “C-segment”-sedan teen ’n “B-segment”-prys bied, bring klante ’n unieke aanbod.

Hierdie wesenlike waarde het só in die smaak van kopers geval  dat die Corolla Quest-modelnaam een uit elke vyf verkope in die C-segment (22%) verteenwoordig.

Verbeterings vir 2016

“Een van Toyota se staatmaker-beginsels is voortgesette ontwikkeling, ofte wel “Kaizen” soos dit in Japan bekend is. Kaizen verteenwoordig die benadering van onophoudelike verbetering, en is op veel meer as net die vervaardigingsproses van toepassing aangesien dit ook tot ons produkaanbiedings strek,” sê Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking by Toyota Suid-Afrika. “Dit beteken dat ons motors altyd ontwikkel in ons strewe om klante iets meer te bied.”

Die Corolla Quest is vir 2016 verfris met die toevoeging van smaakvolle kleurgekodeerde aanvullings. Die kleurbehandeling is op die deurhandvatsels en elektries beheerde deurspieëls van toepassing om ’n tikkie moderne smaak tot die buitekant te voeg.

Wat gemak betref, pronk al die modelle nou met elektries beheerde vensters met enkelaanraking vir dié van die bestuurder. Dit vul die omvattende lys standaard-toerusting aan wat in al die Corolla Quest-modelle aangetref word, waaronder die volgende:

  • Lugversorging
  • Toegangsbeligting
  • Multi-inligtingsvertoonskerm
  • Elektriese kragstuur
  • Kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom
  • Diefwerende stelsel
  • Outomatiese deurslotte
  • Afstand beheerde sentrale sluiting
  • ISOFIX-ankerpunte
  • Lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier
  • Sluitwerende remme (ABS) en elektroniese remkragverdeling (EBD) plus noodremhulp

Die Corolla Quest kan in twee modelgraderings bestel word ­– Standard en Plus. Die ‘Plus’-model het ’n bykomende viersluidspreker-klankstelsel met ’n CD-speler en USB-sok. Die Plus-modelle kry as deel van die 2016-opgradering ook Bluetooth-werking vir handvrye selfoongebruik met die bykomende voordeel van Bluetooth-terugspeelklank.

Beproefde kragbron

Die Quest word aangedryf deur die beproefde “1ZR-FE”-dubbelbonokas-sestienklepper van 1,6 liter wat 90 kW teen 6000 r/min lewer en 154 Nm se wringkrag teen 5200 r/min ontwikkel. Dié enjin word deur sy vrylopende vermoë gekenmerk en is suinig met die voggies ­– ’n skrale 7,1 liter per 100 km – om korte mette van gesinsvervoer met bagasie en al te maak.

Kopers het ’n keuse van ’n soepel sesgang-handratkas of ontspanne viergang-outomaties vir die standaard-model. Die Plus-modelle word eksklusief van ’n sesgang-handratkas voorsien.

Gemoedsrus

Al die modelle word gesteun deur ’n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en ’n diensplan vir drie jaar of 45 000 km.

Regte prys

Die pryse van die nuwe modelle is steeds uiters mededingend en sit die Quest se geskiedenis van puik waarde vir geld voort:

Quest 1.6                    –           R199 400

Quest 1.6 outo            –           R214 600

Quest 1.6 Plus            –           R215 100

corolla-quest-plus-interior_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Soeke na Quest Waarde in die Suid-Afrikaanse motorwêreld