Nasser Al-Attiyah wen met Toyota Hilux in Qatar

we-are-the-champions-nasser-saleh-al-attiyah-and-matthieu-baumel-celebrate-the-sealine-win_1800x1800

DOHA, QATAR – Die laaste sneltrajek van die Sealine-veldtydren, die derde ronde van die FIA se veldtydren-wêreldbekerreeks, het nog ’n oorwinning vir die Dakar-wenner Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Mattieu Baumel, in hul Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux opgelewer. Hulle het die vyfdaagse byeenkoms van begin tot einde oorheers en vier agtereenvolgende sneltrajekoorwinnings aangeteken.

“Ons het dit vandag rustig gevat,” het Al-Attiyah gesê nadat hy Vrydag 22 April die Sealine-veldtydren in Doha, Qatar, gewen het. “Ons het ons Toyota Hilux sagter gery en was tevrede om net die naasbeste tyd aan te teken aangesien dit oorgenoeg was om die byeenkoms te wen.”

Die laaste sneltrajek van die byeenkoms, Sneltrajek 5, is deur die MINI-jaer Yazeed Al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, wat uiteindelik net 01:55 voor Al-Attiyah by die eindpunt van die laaste sneltrajek was, gewen. Dit beteken die MINI was ná bykans 1 500 kilometer deur Qatar steeds meer as 12 minute agter die Toyota Hilux.

“Ons is almal baie tevrede met Nasser se vertoning in hierdie byeenkoms,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Die Toyota Hilux het soos klokslag geloop, en ons internasionale vennote, Overdrive Racing, het die voertuig sonder enige uitdagings in stand gehou.”

Dit was Al-Attiyah, van Qatar, en sy navigator, Baumel, van Frankryk, se tweede agtereenvolgende oorwinning in die kajuit van die Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux in vanjaar se kampioenskap nadat hulle ook in die Abu-Dhabi-Woestynuitdaging geseëvier het, en hulle is steeds los voor in die FIA se veldtydren-wêreldbekeerreeks.

“Ons was baie beïndruk met die Toyota Hilux,” het Al-Attiayh gesê ‒ “veral wat spoed en betroubaarheid betref.”

Die volgende ronde in die Wêreldbekerreeks is die Baja Italia, wat van 23 tot 26 Junie 2016 plaasvind.

crossing-the-dunes-nasser-saleh-al-attiyah-style-in-qatar_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Nasser Al-Attiyah wen met Toyota Hilux in Qatar