Die Nuwe Toyota Fortuner

fortuner-1_880x500

Almal wil altyd vryheid hê en is dol daaroor, of ten minste die idee daaraan. Maar wat presies is vryheid? Kortliks dit is wat jy wil hê dit moet wees: om die lewe te geniet ‒ sonder voorbehoud. Dit is die vermoë om te gaan net waarheen jy wil, en wanneer jy wil. Dit is die ware weelde van vryheid ervaar – iets wat in die nuwe Toyota Fortuner verpersoonlik is.

Die oorsprong van die Fortuner is nogal interessant, en strek terug tot 1984 toe ’n middelgrootte sportnuts wat die Hilux Surf genoem is, sy buiging in sekere markte gemaak het, waaronder Brasilië, Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk, Pakistan en Afghanistan.

Twee dekades later is die Toyota Fortuner met ’n aansienlik meer verfynde ontwerp en soortgelyke ondertone as die Hilux Surf in 2005 aan meer as 110 markte bekend gestel. Die eerstegeslag-Fortuner is in 2006 in Suid-Afrika bekend gestel, en het spoedig die voorkeur-sportnuts vir veld- en stadsleefstyl entoesiaste geword.

“Die nuwe Fortuner het ’n lang, breër houding teenoor die uitgaande model en sy vermoë om soos ’n verkleurmannetjie by enige omgewing aan te pas, is versterk,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking. “Die voertuig kan naatloos van ’n gekunstelde stadsloper tot ’n kragtige veldryer omskakel.”

TSAM het ook verseker dat daar genoegsame infrastrukturele vaardigheid in Suid-Afrika is om die nuwe Fortuner te ondersteun. “Ons het as fabrikaat wat hom op gehalte, duursaamheid en betroubaarheid (QDR) roem, verseker dat personeel by handelaarskappe regdeur die land tegniese en diensopleiding ondergaan het om Toyota se ongeëwenaarde naverkope-ervaring te versterk,” vê Hamman. “Ons het ook ver gegaan om te verseker dat die prys van onderdele, bybehore en instandhouding van die Fortuner mededingend, indien nie die beste nie, is.”

Die gemoedsrus wat die nuwe Fortuner bied, word in die volgende elemente wat sy posisionering in die mededingende middelgroot-sportnutsmark onderskei, weerspieël:

  • Nuwe-tydvak dieselenjins en kragbron
  • Verbeterde verrigting
  • Nuwe sesgang-handratkas en outomatiese transmissie

 

  • Pad- en veldryvermoë
  • Nuwe-tydvak raam en vering
  • Elektriese skakelaar om vierwielaandrywing te kies (4×4-modelle)
  • Aktiewe kloubeheer
  • Heuwelwegtrekhulp
  • Afdraandebeheer (4×4-modelle)

 

  • Groter gemak en gerief
  • Verbetede rit en gemak
  • Minder geraas, vibrasies en grofheid
  • Vooraanstaande gevoel

 

  • Verbeterde tegnologie
  • Slim toegang
  • Elektries beheerde stertdeur (4.0 V6)
  • 7”-raakskerm-klankstelsel (sekere modelle)

 

  • Groter veelsydigheid
  • Oorgenoeg bergruimte
  • Volwaardige sewesitplek-gebruik
  • Eenvoudige berging vir tweede en derde ry sitplekke

 

  • Veiligheid en sekuriteit
  • Nuwe knielugsak vir die bestuurder
  • Spoedsensitiewe outomatiese deurslotte
  • Nuwe diefwerende stelsel
  • ISOFIX-monterings bygevoeg
  • Sleepwa-swaaibeheer

fortuner-16_880x500

YSTERVUIS IN FLUWEELHANDSKOEN

Die nuwe Fortuner deel dalk ’n paar onder-die-dop-kenmerke met sy taai Hilux-stalmaat, maar wat ontwerp betref, is hulle ligjare van mekaar verwyder. In huidige formaat pronk die Fortuner met ’n meer kenmerkende, slank dog treffende en kragtige ontwerp. Die voorkant lyk aggressief en indrukwekkend, terwyl sy algehele voorkoms aantreklik en gespierd is.

Die Fortuner is verder ontwerp om in ’n stedelike omgewing uit te staan en buitelugtoestande te weerstaan. Die voertuig pronk met skerp, gevormde buitelyne, slanke kopligte en het beskerming onder die romp. Die groot boonste sierrooster is skuins gemonteer met dik verchroomde omlystings wat om die slanke en aggressiewe projektor-tipe kopligte vloei. Dié sterk ontwerp het ’n uitstaande driedimensionele trapesiumvormige voorste buffer terwyl diepversonke misligte in al die weergawes die voertuig se breedte beklemtoon.

’n Fris karakterlyn strek al langs die kante, oor die deure tussen die uitgeboude voor- en agterkant-wielnisse met ’n geronde oppervlak om verfyning midde gehardheid te behou.

Die ontwerpers het ook die gordellyn beklemtoon deur dit in die C-pilaar te laat opwip. Die Fortuner se geronde bo-romp word deur ’n verchroomde omlysting wat van die kante na die agterkantglas (in sekere modelle) omvou, beklemtoon. Die algehele uitwerking daarvan tesame met die swart pilare en uitstaande agterste lugskort is ’n swewende dak wat die voertuig ’n dinamiese houding gee ‒ selfs wanneer hy stil staan.

Die slanke stertligsamestelle en nommerplaatafwerking vloei netjies by die ingewikkelde oppervlak van die agterkant van die romp in. Al die modelle het ligdiode-remligte ten gunste van ’n hoëtegnologiese beeld, ligdiode-stertligte, tweelinghalogeen-kopligte vir die 2.4 Global Diesel (GD) en  2.7 VVT-i en hoëstraal-ligdiodekopligte vir die 2.8 GD en 4.0 V6.

BINNERUIM-WEELDE INGESLUIT

Die nuwe Toyota Fortuner is ontwerp met ’n fris dog elegante binneruim met vloeiende oppervlakke en vorms wat gemak en gerief beklemtoon. Vooraanstaande sagtegevoel-materiale word in kern-kontakoppervlakke naby die voorpaneel, windskermpilare en deurbeslag ingespan. Dit word aangevul deur ’n magdom metaalinsetsels, houtgreindetail en omsigtig ontwerpte ornamente net waar dit nodig is.

Daarbenewens word die prominente middelkonsole afgerond deur vertikale pilare in sagte materiaal aan weerskante en wat ook bykomende beensteun vir die bestuurder en voorste passasier bied. Die voertuig het sitplek vir sewe mense in drie rye, met voorsitplekke wat aan die skouers uitgebou is en stewige versterkings wat die beste moontlike steun bied.

Die tweede ry sitplekke is in die verhouding 60/40 verdeel en kan vorentoe en agtertoe verstel word, terwyl hulle ook verstelbare rugleunings het.

Die derde ry sitplekke is in die verhouding 50/50 verdeel en die rugleunings kan ook verstel word. Die twee rye kan met net een beweging geberg word om bykomende bagasieruimte te bied: die tweede ry sitplekke kan individueel gekantel en vorentoe weggevou word, terwyl die twee helftes van die derde ry sitplekke geberg kan word om ’n groter laairuim te bied.

fortuner-21_880x500 

GEEN KOSTE VIR GERIEF

Al die Fortuner-modelle het klankstelsels met vier of ses luidsprekers, ’n hulpsok/USB-poort, AM/FM-radio en ’n CD-speler. Die klankstelsels van die 2.8 GD- en 4.0-V6-modelle pronk met DAB+ digitale radio en ’n 7”-skerm met DVD-versoenbaarheid en trurat-kamerabeeld. Die vlagskip-model, die 4.0 V6, het ook ingeboude satelliet-navigasie.

Ander standaard-geriefskenmerke sluit in Bluetooth-verbinding, stuurgemonteerde kontroles vir klankstelsel- en telefoonbeheer, sowel as elektriese beheer vir die deurslotte, deurspieëls en vensters. Lugversorging is ook deel van die standaard-toerusting, en pronk met afsonderlike lugvloei-kontroles vir die tweedery-insittendes.

Een van die hoofaantrekkings van die nuwe Fortuner is die oorvloedige bergruimte en veelvuldige beker- en bottelhouers, bergkompartemente, laaie, sakke en konsoles. Die lugversorgde bergruimte bokant die paneelkissie kan gebruik word om goed warm of koud te hou, en kan twee 500ml-bottels huisves. Gerieflike inkopiesak-hake agter die voorste sitplekrugleunings is ook deel van al die modelle se standaard-toerusting.

Al die modelle het drie 12-Volt-hulpsokke ‒ onder die middelkonsole, in die middel van die middelkonsole vir die tweedery-insittendes, en agter in die laairuim.

GEBOU VIR VELD EN BESKAWING

Die nuwe Fortuner het ’n hoësterkte-raam, stewige romp, kronkelveer-vering en onderstel-kalibrering. Die gevolg is volmaakte duursaamheid, hantering wat vertroue bied en skitterende ritgemak met min oordrag van padgeraas, enjinvibrasies en grofheid (NVH).

Fyn aandag is aan volmaakte sterkte, wringstewigheid, beskerming teen opslagklipskade en roes gegee en om terselfdertyd aan streng gewigsteikens te voldoen. Die nuwe raam se kant- en dwarsbalke is versterk terwyl die romp hoësterkte staal vir uitmuntende stewigheid en botswaardigheid benut en gewig verminder.

Die uiters stewige onderstelraam en romp bied ’n stabiele platform vir die Fortuner se nuwe veerstelsel, wat ’n aansienlike bydrae tot die beste moontlike stuurreaksie bied. Die nuwe Fortuner het ’n dubbelmikveerstelsel voor en vierskakel-kronkelveer-agtervering met rolstawe voor en agter.

Die Fortuner se veringhardeware behels versterkte veringtorings en dikker skokbrekers ten gunste van duursaamheid, stabiliteit en doeltreffende beheer van klein vibrasies. Die dik skokbreker-silinders stel die dempers in staat om hoë dempkrag in ’n baie kort beweging te bewerkstellig ten einde die kleinste impak op grofheid te maak.

Die demper-kurwe is gekalibreer om ’n gelyke rit teen lae dempersnelhede te bied. Koeëlgewrig-gemonteerde rolstawe voor en agter beperk onbeheerde romprol tot die minimum. Die Fortuner het spoedsensitiewe hidrouliese kragstuur.

Die stuur-kalibrering is ontwikkel om by uitdagende en uiterste toestande, verskillende smake en uiteenlopende bestuurdersvereistes te pas, met die minste stuurmoeite teen lae snelhede, gerief en gemak en vertrouenswaardige stuurgevoel teen snelwegsnelhede.

’n Omvattende roeswerende benadering sluit in die uitgebreide gebruik van gegalvaniseerde staal vir die meeste van die voertuig se buitepanele en die kajuit. Toyota maak ook omvattend gebruik van onderlae en skerfwerende lae.

’n Spesiale skermpakket om die voertuig se onderkant te help beskerm, is ontwikkel om uiterste gebruik te weerstaan, en sluit ’n skermplaat onder die enjin vir bykomende beskerming in. Die onderbedekking vergemaklik skoonmaak ná veldrygebruik en is ontwerp om die versameling van modder onder die enjin te beperk en terselfdertyd klippe en ander potensiële skadelike voorwerpe weg van kritieke komponente te hou.

Geraasonderdrukkende maatreëls behels die afsondering van die enjinkompartement om geraasoordrag na die kajuit te beperk, en sluit klankdigting binne en buite die kajuit in. Die seëls vir die sydeure en glas word ingespan om wind- en padgeraas te verminder. Uitsit-skuim word regdeur die rompdele en seëls gebruik om geraas verder te beperk.

KRAGTOENAME

Die nuwe Fortuner word aangedryf deur ’n reeks nuutontwikkelde enjins, waaronder die 2.4 en 2.8 GD-enjinreeks, die 2.7 VVT-i en vierliter-V6-kragbronne.

Die nuwe GD-reeks enjins is die hoofaantrekking aangesien hulle beter kraglewering, doeltreffendheid en verfyning bied. Die nuwe enjins, wat hul buiging in die jongste Hilux-reeks gemaak het, is van meet af ontwikkel of ’n uitstaande pad- en veldry-ervaring te bied.

Die GD-reeks enjins plaas groot klem op wringkragontwikkeling en laespoed-buigsaamheid. Die enjins maak gebruik van ’n uitleg met dubbele bonokasse (DOHC), 16 kleppe en vier silinders, en slaan munt uit veranderlike turbo-aanjaers (VNT), wat die saamgeperste lug deur ’n nuwe voorgemonteerde tussenkoeler aanjaag.

Die 2.4 GD lewer 110 kW @ 3400 r/min en ontwikkel 400Nm se wringkrag tussen 1600 en 2000 r/min. Die 2.8 GD bied eienaars ’n stewige 130kW en moeitelose 420Nm van 1600 tot 2400 r/min in handratgewaad. Weergawes met die outomatiese ratkas se wringkrag kry ’n hupstoot tot 450Nm oor dieselfde toerestrek.

Die brandstofdoeltreffendheid van al twee dieselenjins is aansienlik verbeter teenoor die enjiins wat hulle vervang: 13% vir die 2.4 GD en 9-15% vir die 2.8 GD. Die hoëverrigtingsweergawe van die 2.4ℓ-GD bied skitterende brandstofdoeltreffendheid, en kom te staan teen 7 liter per 100km vir die handrat en 7,9 liter vir die outomatiese weergawe. Die 2,8ℓ-GD bied ’n gedugte balans tussen krag en ekonomie, en pronk met ’n indrukwekkende verbruiksyfer wat wissel van 7,5 tot 8,5ℓ/100km, afhangende van die model.

Die nuweling se sleepvermoë kom te staan op 2,5 ton vir die 2.4 GD- en 2.7 VVT-i-modelle en drie ton vir die 2.8 GD en 4.0 V6.

Twee petrol-enjins is beskikbaar, waaronder ’n hersiene weergawe van die bekende 2.7ℓ-VVT-i (wat nié voorheen plaaslik beskikbaar was nie) en die lewendiger 4.0 V6. Eersgenoemde lewer 122kW en 245Nm met ’n 10%-verbetering in brandstof-ekonomie. Verbeterings aan die 2694cc-viersilindereenheid sluit in ligter kleppe, ’n nuwe vorm vir die inlaatpoort, hervormde ontbrandsingskamers vir ’n hoë drukverhouding en die gebruik van VVT-i aan die uitlaatkant. Dit gee die 2,7ℓ-eenheid op sy beurt dubbele VVT-i, met die kleptydreëling aan die inlaat- en uitlaatkante wat ontwikkel is om doeltreffendheid en kraglewering te verbeter. Die enjinreeks word deur die vlagskip-weergawe se vierliter-V6 met ’n gesaghebbende 175kW en 376Nm afgerond.

RYK EN SOEPEL TRANSMISSIE

Die nuwe Fortuner maak gebruik van die jongste Toyota-sesgang-tranmissietegnologie ten gunste van gemak, gerief en brandstofekonomie.

Die handrat- en outomatiese transmissie, wat vir al die graderings beskikbaar is, dek ’n wye strek ratverhoudings om versnellingsverrigting en brandstofekonomie teen snelwegsnelhede te vervolmaak.

Die 2.8 GD maak gebruik van Toyota se nuutontwikkelde intelligente handratwisseling (iMT) vir gladder ratwisseling op die pad en in die veld. Die iMT-elektronika laat die enjin- en voertuigspoed by mekaar pas om gladder ratwissseling te bewerkstellig ‒ veral wanneer die voertuig swaar gelaai is.

Toyota het die nuwegeslag-transmissiestelsels ontwikkel om brandstofekonomie en wisselgevoel te verbeter, wat ook betroubaarheid en duursaamheid in die hand werk. Brandstofekonomie is aan die hand van beperkte wringverliese verbeter deur die beste moontlike plasing van die oilieskeier en beter materiale vir die bewegende dele te gebruik.

Die vyfde en sesde ratte is snelratte met ’n direktedrywing-vierderat. Die wisselgevoel is verbeter deur ’n kort ratkierie te gebruik, met versigtige aandag aan die vorm en samestelling van die ratte en laers.

fortuner-17_880x500

VEILIGHEID EN GEMOEDSRUS

Die nuwe Toyota Fortuner is ontwikkel om die beste veiligheidstandaard in die hand te werk. Standaard elektroniese veiligheidsmaatreëls sluit in voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), aktiewe kloubeheer (ATC), sleepwa-swaaibeheer (TSC), heuwelwegtrekhulp (HAC) en rymodus (Drive Mode Select). Afdraandebeheer (DAC) is net vir die 4×4-modelle beskikbaar.

Sleepwa-swaaibeheer (TSC) maak gebruik van rembeheer en enjinverrigtingbeheer om laterale sleepwa-beweging wat deur dwarswind of wisselende padtoestande veroorsaak word, te beperk. Aktiewe kloubeheer (ATC) is ontwerp om te verhinder dat die wiele op oppervlakke met min klouvermoë tol, soos in modder en sneeu. Dit sorg ook vir goeie beheer in veldry-toestande deur wringkrag na die wiele met goeie klouvermoë te herlei.

HAC verhinder dat die voertuig agteruit beweeg wanneer die bestuurder teen ’n opdraande wegtrek. DAC rem die voertuig in 4×4 hoë- of laestrek om ’n bestendige spoed teen ’n steil afdraande te behou, wat die bestuurder in staat stel om op die stuurwerk te konsentreer. ’n Elektries beheerde ewenaarslot vir die agteras is ook deel van al die 4×4-modelle se standaard-toerusting.

Die remstelsel behels lugverkoelde remskywe regdeur: 338 mm aan die voorkant en 312 mm agter. Wanneer die voertuig skielik hard rem, sal die noodflikkerligte aanskakel om ’n noodsein aan ander bestuurders te stuur. Die hoësterkte romp sorg vir ’n sterk sentrale veiligheidsel. Voetganger-veiligheid sluit in impak-absorberende samestelling vir die enjinskort, modderskermhake, enjinkap en voorste stamper.

Die nuwe Fortuner se veiligheidstoerusting sluit in terugtrek- en noodsluiting-driepunt-gordels vir al die sitplekke in, met lasbeperkerkende styftrekkers vir die voorste sitplekke. Die nuwelinge het ook ’n sitplekgordelwaarskuwingstelsel vir die voorste en tweede ry sitplekke, en drie bokant-kindersitplekankerpunte en ’n ISOFIX-monteringspunte vir ’n babasitplek.

GRADERINGS: MAAK DIE WÊRELD JOU EIE

Intree-gradering (2.4 GD-6 en 2.7 VVT-i)

  • Aansitter-drukknop
  • Kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom
  • Spoedbeheer
  • Spoedsensitiewe outomatiese deurslotte
  • Voorkant- en knielugsakke
  • Verligte ingang
  • Verkoelde paneelkissie
  • Misligte voor
  • Lugskort agter
  • Dakspore
  • Kanttrappies
  • 17”-allooisierwiele
  • Volgrootte allooisierwiel-noodwiel

Standaard-gradering (2.8 GD-6)

  • Leerbekleedsel
  • Voorkant-, knie-, gordyn- en kantlugsakke
  • Ligdiode-kopligte
  • Outomatiese volg-my-kopligte
  • Outomatiese lugversorging

Hoë gradering (4.0 V6)

  • Al die standaard-toerusting
  • Elektries beheerde stertdeur
  • Navigasiestelsel

Voorgestelde kleinhandelpryse vir die nuwe Fortuner is as volg:

2.4 GD-6 Raised Body-handrat: R436 400

2.4 GD-6 Raised Body-outomaties: R453 400

2.7 VVT-i Raised Body-outomaties: R429 400

2.8 GD-6 Raised Body-handrat: R513 400

2.8 GD-6 4×4-handrat: R571 400

2.8 GD-6 Raised Body-outomaties: R531 400

2.8 GD-6 4×4-outomaties: R589 400

4.0 V6 4×4-outomaties: R633 400

Al die voorgestelde kleinhandelpryse sluit ’n waarborg van drie jaar / 100 000 km en ’n diensplan vir vyf jaar / 90 000 km in.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Die Nuwe Toyota Fortuner