Toyota Suid-Afrika Motors hernieu kontrak met Vrystaat-Cheetahs vir nog ’n driejaar-tydperk

_XT12905

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) kondig met trots die hernuwing van die Toyota-Vrystaat-Cheetahs-borgskap vir nog drie jaar aan. Die kontrak sluit die titelborgskap vir die SuperRugby-span sowel as die Curriebeker- en junior spanne in.

TSAM het die afgelope drie jaar sy steun aan en verbintenis tot die Cheetahs sowel as die Vrystaat verstewig. Die borgskap het ongelooflike geleenthede vir Toyota geskep om nie net interaktief met Cheetah-ondersteuners om te gaan nie, maar ook bande met rugby-ondersteuners regoor Suid-Afrika te smee. Die borgskap het afrigtingsklinieke vir kinders in Bloemfontein, ’n Ondersteuner-van-die-wedstryd-prys by elke tuiswedstryd, spesiale parkering vir Toyota-eienaars en ’n nuwemodel-Toyota-dag ingesluit.

Die volgende drie jaar sal vir Toyota en die Cheetahs daarop fokus om by aanhangers en ondersteuners regdeur Suid-Afrika en die wêreld in te skakel. Dit het met ’n vennootskap met Toyota Verblitz in Japan afgeskop. Dié verbintenis, wat in 2015 opgestel is, laat die twee klubs personeel en spelers deel om talent te ontwikkel en die twee klubs te help groei. Die vennootskap het reeds daartoe gelei dat die oud-Springbok Os du Randt Japan toe is om Verblitz se voorry en skrum af te rig. Dit het ook tot uitruilspelers tussen die twee klubs gelei, waaronder die slot Francois Uys wat die eerste speler was wat na die klub in Japan verskuif het.

Hilux Tough Ambassadors

’n Nuwe toevoeging tot die kontrak is die titel-borgskap van die Vrystaat-stadion wat nou as die Toyota-stadion bekend sal staan.

“Die Vrystaat is die tuiste van baie rugbytalent ‒ op en langs die veld. Ons is trots op ons verbintenis met die Vrystaatse Rugby en die stadion. Ons glo dat die holistiese borgskap van Vrystaat Rugby ’n unieke geleentheid vir die Toyota-handelsnaam skep om nie net by rugby betrokke te wees nie, maar ander sportsoorte ook,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

Daarbenewens het TSAM drie spelers gekies om agter die stuur van die nuwe Toyota Hilux, wat aanstaande week bekend gestel sal word, in te skuif. Dié drie gekose ambassadeurs sal die trotse bestuurders van ’n ten volle toegeruste Hilux met al die kentekens wees en sal deel van die maatskappy se Hilux-Taai-Ambassadeur-program wees. Dié drie spelers is die Springbokke Oupa Mohoje en Lood de Jager, en die Cheetah-kaptein Francois Venter. Die Toyota-Cheetahs sal ’n eenmalige spesiale swart en geel uitrusting vir die eerste wedstryd teen die Argentynse Jaguars dra om die bekendstelling van die nuwe Hilux te gedenk.

Die swart en geel uitrusting is in lyn met die bekendstelling-kleure van die nuwe Toyota Hilux bakkie maar die duidelike watermerk van die Cheetah gesig gee dit steeds ‘n sterk Vrystaat gevoel.  “Ons by die Toyota Cheetahs sien ongelooflik uit daarna om vir die eerste keer in die geskiedenis in ‘n swart uitrusting te speel.  Met die Argentyne in oranje gaan die nuwe generasie Cheetah ‘n vir ‘n baie interessante afskop van die seisoen sorg,” sê Harold Verster, Besturende Direkteur van die Toyota Cheetahs.   Die Toyota Cheetahs sal weer in hul kenmerkende wit en oranje teen die Stormers op 5 Maart in Toyota Stadion op die veld draf.

Die Toyota-stadion sal in die bekende rooi van Toyota getooi word met buite-kentekens en geprojekteerde beligting op die gebou wat die Bloemfonteinse lug snags sal verhelder. Dit alles sal die bestaande binnekant-kentekens, waaronder die nuwe Toyota-rooi-sitplekke, aanvul.

New Hilux Brand Ambassadors Vehicle

“Al hierdie aktiwiteite sal die jaarlikse projekte soos Toyota-dag aanvul. Hierdie borgskap is vir Toyota baie belangrik weens die geleenthede wat dit vir jong en talentvolle spelers in die Vrystaat en omliggende gebiede skep. Toyota is al lank by die sportsoort betrokke en ons glo dit is ’n belangrike deel van jeugontwikkeling. Dit is ook belangrik aangesien die stadion-borgskap ons in staat sal stel om by ’n nuwe gehoor in te skakel.

“Toyota wens die Cheetahs alles van die beste vir die komende seisoen toe. Ons vertrou dat hulle hul harte sal uitspeel en ons en al hul getroue ondersteuners trots sal maak,” het Hamman afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Suid-Afrika Motors hernieu kontrak met Vrystaat-Cheetahs vir nog ’n driejaar-tydperk