Die Nuwe Toyota Hilux

hilux-1_1800x1800

Die Hilux-erfenis is legendaries. Dié model het sedert sy bekendstelling in 1969 ’n benydenswaardige reputasie regoor die wêreld opgebou waar sy duursaamheid, sterkte en suiwer gehalte hom in die harte van sy eienaars verewig het.

Dit is nêrens ’n groter waarheid as reg hier in Suid-Afrika wat die eerbiedwaardige Hilux-handelsnaam betref nie ‒ nie net as ’n blote vorm van vervoer nie, maar ook as betroubare lid van die gesin.

“Dit het regdeur die verkoopsyferstate weerklink waar die Hilux trots die vlag as Suid-Afrika se topverkoper-voertuig en as sakevennoot en ontspanningsvoertuig vir die gesin wapper,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota SA. “Die Hilux se verkope getuig van die vertroue wat ons klante in die produk het en versterk Toyota se steunpilare vir gehalte, duursaamheid en betroubaarheid.”

Wat die mark vir ligte handelsvoertuie (LHV) betref, verwag klante lank nie meer net ’n taai en duursame bakkie nie, maar plaas hulle ook groter klem op gemak, gerief en ontwerp. Die hedendaagse bakkie moet ’n verskeidenheid rolle vervul, en nie net bloot nog ’n ‘Hansie my kneg’ wees nie, maar inderdaad ’n meester op sy gebied.

“Die nuwe Hilux bou voort op die rotsvaste reputasie van sy voorgangers, en verteenwoordig ’n bakkie wat taaier as ooit voorheen is, dog klante terselfdertyd van die gemak, verfyning en eienskappe van ’n passasiersmotor voorsien,” sê Glenn Crompton, Toyota se Vise-President van Bemarking.

Gevorderde ontwerp

Die mees treffende eienskap van die nuwe Hilux is waarskynlik sy gevorderde buite-ontwerp. Die ontwerpspan het daarop gefokus om ’n voertuig te skep wat ’n taai houding sou uitstraal, en terselfdertyd spreek van ’n sin vir vernuwing en verfyning ten einde ’n meer emosionele verbinding tussen bestuurder en bakkie te ontketen.

Aan die voorkant strek die uitstaande sierrooster met sterk horisontale stawe tot by die omvou-kopligte, wat ’n fris, verenigde voorkoms bied. Die wielnisse met hul ingeboude spierbulte laat die voertuig nog frisser lyk.

Van die kant gesien vloei die gespierde wielnisse netjies by die sterk visuele lyn wat van voor tot agter strek, in. Die skuins agterkantvenster en kajuit-silhoeët vorm ’n visuele eenheid met die nuwe agterkant-ontwerp. Die skuins tema word verder deur die sterk ontwerplyn wat harmonieus van die stertligte tot aan die sykant vloei, versterk.

Die kajuit se dak is versigtig gevorm om stilering en praktiese sin te verbeter. Die dak het nou ’n lugdinamiese ‘pagode’-agtige V-vorm wat help om lug bo-oor die dak en verby die kante van die voertuig eerder as in die laairuim in te stuur, wat turbulensie en sleur verminder.

Verfynde binneruim

Die binneruim-ontwerp van die Hilux stel nuwe standaarde vir ligte handelsvoertuie. Dieselfde ontwerpbenadering ‒ taaiheid en vernuwing ‒ is gebruik om ’n binneruim te skep wat gehardheid en praktiese gebruik met vernuwing en ontwerp kombineer. Vloeiende metaalbeslag wat regoor die voorpaneel strek, skep ’n gevoel van styl en verfyning.

Die binneruim-nuwighede wat die kollig steel, behels die nuwe hoëtegnologiese raakskerm-klankstelsel wat lyk asof dit uit die middel van die voorpaneel ‘sweef’. Dié gevorderde stelsel, wat ’n platskerm-ontwerp, veegwerking en vingertik-tegnologie inspan, is ’n juweeltjie. Wanneer die eenheid afgeskakel word, word nog ’n nuwigheid ontbloot ‒ al die verligting word gekanselleer, wat dit soos ’n tabletrekenaar laat lyk en voel.

Die bestuurder se instrumente werk dieselfde, en die hoërgraderingsmodelle kry ’n volkeur-TFT-inligtingskerm van 4.2” by, met maklik leesbare inligting en kragtige vorms wat alles ’n bydrae tot die gevorderde fris tema lewer. Die bestuurder het toegang tot ’n magdom inligting deur die blote aanraking van die vierrigting-skakelaars wat op die nuutontwerpte stuurwiel gemonteer is.

Die stuurwiel-ontwerp het sterk horisontale speke om by die res van die binneruim in te skakel, en pronk met reik- en hoogteverstelling sowel as duim-ruspunte en ’n dikker ring wat skitterende gemak en gevoel bied.

Koel, blou beligting vloei regdeur die kajuit ‒ van die maklik leesbare instrumentehuisie tot die beheerpaneel vir die lugversorging, klankstelsel en skakelaarbeligting.

Al die Hilux-modelle het stewige en duursame swart sitplekbekleedsel met ’n patroon op en wat pasgemaak vir hul hoofdoel is. Al drie ontwerpe bied skitterende duursaamheid sonder om ontwerp of sin vir gehalte prys te gee.

Die werkesel-modelle fokus meer op robuustheid terwyl die middel- en hoëgraderingsmodelle eerder ’n gevoel van weelde en moderne materiaal bied. Leerbekleedsel kan bykomend vir die hoëgraderingsmodelle bestel word.

Die algehele gevoel van die kajuit is een van hoë gehalte, vernuwende ontwerp en gebruiksvriendelikheid. Gemak en gerief het ’n groot invloed op die ontwerp gehad en die Hilux is deurspek van bergruimtes en toerusting om bruikbaarheid te verhoog.

Verbeterde verpakking

Die nuwe Hilux slaan munt uit meer binneruimte en gemakliker sitplekke, sowel as ’n magdom praktiese bergruimtes wat noodsaaklik is vir ’n voertuig wat in ’n werks- of ontspanningsomgewing ingespan word.

Die bestuurdersitplek se heuppunt is 10mm hoër en die hoogteverstelling is met 15mm verleng. Die voorsitplekke, wat onderskeidelik 8- en 19mm meer kop en skouerruimte bied, het ’n nuwe raamstruktuur met ’n langer, goed-opgestopte sitplekkussing wat groter gemak bied. Die agtersitplekke het soortgelyke behandeling gekry, terwyl die effens dunner rugleuning van die agtersitplekke die agterste insittendes 10mm meer beenruimte bied.

Die dubbelkajuit-modelle maak gebruik van ’n 60:40-verdeelde opwip-sitplekkussing om veelsydigheid te verhoog, en het ook ’n handige versteekte bergruimte in die vloer.

’n Koel eienskap (verskoon die woordspeling) is die koelboks wat in die hoërgraad-modelle ingebou is. Dit is in die vorm van ’n tweede paneelkissie, en maak op slim wyse gebruik van die lugversorging om die inhoud te verkoel of warm te maak.

’n Groot middelkonsole sorg vir oorgenoeg bergruimte en dien terselfdertyd as armleuning. Die hele reeks het ’n 12V-kragsok met ’n tweede sok wat deel van die reeks se topmodelle se standaard-toerusting is.

Die deursakke hou eenliter-waterbottels met gemak terwyl ’n magdom bekerhouers en geriefshake, waaronder ’n hakie in die plafon bokant die agtersitplekke van die dubbelkajuit-modelle, sowel as winkelsak-hake aan die agterkant van die voorsitplekke in die hoëgraad-dubbelkajuitmodelle, regdeur die kajuit aangetref word.

hilux-5_1800x1800

Taaiheidsgrondslag

Die nuwe model word beklemtoon deur ’n splinternuwe raam wat aansienlik sterker en stewiger is om verbeterde hantering, ritgemak, geraas en botsveiligheid met uitstaande duursaamheid in selfs die uitsterste gebruikstoestande te kombineer.

Verbeterings sluit in 30mm dikker systawe en dwarsbalke wat die rompwringstewigheid met 20% persent verbeter en duursaamheid verder verhoog.

Die aantal verbindingspunte tussen die onderstelraam en die romp is met 45% meer sweiskolle vermeerder (van 268 in die vorige model tot 388 in die nuwe Hilux).

Die duursaamheid van die nuwe model word versterk deur ’n nuwe swaardiens-onderplaat met bykomende versterking en dikker materiaal. Die hoek van die voorste gedeelte is aangepas om ’n beter sleursyfer te bied.

Die romp maak gebruik van sterker plaatmetaal (tot 590Mpa). Dit lei tot groter rompsterkte terwyl dit ook gewig verminder. Die sterker onderstelraam en nuwe romp dien as grondslag vir die algeheel hersiene vering wat skitterende verrigting deur die bank bied.

Absorberende veerstelsel

’n Nuwe, frisser veringspakket is ontwikkel en fokus op die behoefte vir uitstaande ritgemak en skitterende duursaamheid. Die Hilux span ’n dubbelmikveringontwerp voor met bladvere en tweeling-skokbrekers agter in.

Die bladveer is 100mm langer om padoppervlakvibrasie beter te onderdruk, terwyl die hegpunt vir die agtervering na die voorkant van die bladveer verskuif is. Die vering skuif 100mm vorentoe en 25mm laer en help ook met beter stuurbestendigheid.

Daarbenewens het die nuweling dikker skokbrekers wat op ’n nuwe hegpunt gemonteer is om duursaamheid en stabiliteit te verbeter en meer doeltreffende beheer van klein vibrasies te verseker. Die hersiene geometrie sorg ook vir beter agteras-wielbewegingartikulasie, met ’n 20%-verbetering in wielbeweging wat selfs nog beter veldryverrigting bied.

Die stuurkolom is herontwerp om die oordrag van vibrasies van die padoppervlak te verminder, en die hidrouliese kragstuurstelsel is verfyn ten einde ’n beter stuurgevoel te bied. Teleskopiese verstelling wat nou bygevoeg is, is deel van die meer leefstyl-geöriënteerde modelle.

Duik- en skommel-beheer

’n Vernuwende eienskap van die nuwe Hilux is Toyota se sogenaamde duik- en skommelbeer, wat enjinwringkrag outomaties in regstreekse reaksie op padoppervlaktoestande verstel. Die stelsel kan die duik- en skommel-beweging van die romp verminder wat ritgemak en hantering verbeter.

Die stelsel gebruik inligting van wielspoedsensors om te bepaal wanneer die neus van die voertuig deur veranderings in die padoppervlak lig of sak. Enjin-wringkrag word aangepas om die vorentoe- en agtertoe-beweging van die insittendes te voorkom deur dit te verhoog wanneer die neus van die voertuig duik en dienooreenkomstig te verlaag wanneer die neus lig. Dit help om die rit meer soepel te maak en skitterende ritgemak en hantering te bied.

Kry koers veld toe

Vir kopers wat gereeld in die veld ry, het die nuwe Hilux uit die aard van die saak ook weergawes met vierwielaandrywing wat op die vermoë van sy voorgangers uitbou. ’n Hoogtepunt van die nuwe stelsel is die elektroniese 4WD-draaiknop op die voorpaneel wat die vorige tweede ratkierie vervang. Dit maak dit aansienlik makliker om te gebruik en bied ook ’n ‘skoner’ binneruim-ontwerp.

Die bestuurder kan die 4WD-draaiknop in die ry teen snelhede tot 50 km/h gebruik om tussen 2WD, gewone 4WD en 4WD met laestrek te wissel. Nuwe hoëvermoë-vastrapewenaars (LSD) word in die voor- en agterewenaars ingespan om eweredige wringkragverdeling te verseker. Die verbeterde LSD-eenhede maak gebruik van ’n nuutontwikkelde solenoïed-aandrywer.

Steun vir die bestuurder

Die nuwe Hilux, wat behoorlik aan die belofte oor gevorderdheid voldoen, pronk met ’n aantal elektroniese bestuurdershulpmiddels om korte mette van enige taak te maak. ’n Hoogtepunt daarvan is Toyota se hoogsaangeskrewe aktiewe kloubeheer (A-TRC) wat in die Land Cruiser-reeks voertuie aangetref word.

Die A-TRC gebruik ’n kombinasie van enjinwringkragbeheer en remdrukaanpassing om die beste klouvermoë in alle toestande te lewer. Wanneer die stelsel ’n verlies aan klouvermoë bespeur, word die wiele wat gly, outomaties gerem terwyl die wringkrag na dié wiele wat wel klouvermoë het, herverdeel word.

Opdraandewegtrekhulp (HAC) keer dat die voertuig agtertoe loop wanneer die bestuurder die rempedaal teen ’n helling los. Die stelsel behou tydelike remdruk op al vier wiele vir minstens twee sekondes om die voertuig op dieselfde plek te hou.

Afdraandebeheer (DAC) is eksklusief aan die 4×4-weergawes en help die bestuurder om die voertuig se spoed teen steil, gladde of ongelyke afdraandes te beheer.

Wanneer enjinremming op sy eie nie goed genoeg is om die voertuig se kruipspoed te handhaaf nie, pas die stelsel outomaties remdruk toe om ’n bestendige afdraandespoed te behou – sonder dat die bestuurder aan die versneller- of rempedaal raak.

Die laairuim is herontwerp ten einde beter verpakking met meer bruikbare ruimte te bied terwyl dit ook meer versterking het en algeheel sterker gemaak is.

Kraglewering

’n Reeks nuutontwikkelde enjins sal die nuwe Hilux aandryf en bied beter verrigting, doeltreffendheid en verfyning. Die nuwe ‘Global Diesel’-reeks is van voor af ontwerp, en pronk met ’n aantal tegniese vorderings wat daarop gemik is om ’n uitmuntende ry-ervaring op die pad en in die veld te lewer.

Die GD-reeks enjins is in 2,4ℓ- en 2,8ℓ-formaat beskikbaar, en al twee weergawes plaas groot klem op wringkragontwikkeling en laespoed-buigsaamheid. Al twee enjins gebruik ’n uitleg met dubbele bonokasse (DOHC), 16 kleppe en vier silinders, en slaan munt uit veranderlike turboaanjaers (VNT), wat die saamgeperste lug deur ’n nuwe voorgemonteerde tussenkoeler aanjaag.

Die wegspringpunt van die dieselreeks is ’n 2393cc-eenheid wat 110 kW en 343 Nm bied en in die nutsmodelle ingespan word. ’n Weergawe met hoër verrigting vir die 2,4ℓ-enjin is ook beskikbaar en lewer dieselfde kraglewering met ’n wringkragpiek wat tot 400 Nm verhoog is en alles tussen 1600 en 2000 r/min beskikbaar is.

Die diesel-vlagskip is die 2755cc GD-enjin wat kopers ’n stuitige 130 kW en moeitelose 420Nm van 1600 tot 2400 r/min in handratgewaad bied. Die outomatiese weergawe se wringkrag is tot 450Nm oor dieselfde toerestrek verhoog.

Die brandstofdoeltreffendheid van al twee enjins is met 9% teenoor hul voorgangers verbeter. Die hoëverrigting-2,4ℓ-GD het die beste brandstofdoeltreffendheid in sy klas, wat op net 7,3ℓ/100km te staan kom. Die 2,8ℓ-GD bied ’n gedugte balans tussen krag en ekonomie, en pronk met ’n verbruiksyfer van 8,5ℓ/100km.

Die doeltreffendheid van die in- en uitlaatpoorte en die brandstofinspuitingstelsel is vervolmaak ten einde die beste moontlike wringkrag te bied. Twee inlaatpoorte word saam gebruik – afhangende van enjinspoed: ’n raaklynpoort wat hoëspoedvloei moontlik maak en die lug/brandstofmengsel roer om ontbrandingsdoeltreffendheid te verhoog, en ’n spiraalvormige poort wat ’n hoëvloei-volume het.

Die GD-enjins gebruik elektronies beheerde hoëdrukbuis-inspuiting wat groter druk en meer gevorderde inspuitdrukbeheer bied. ’n Nuwe suiervorm word ook ingespan om by die nuwe vorm van die ontbrandingskamer te pas.

’n Interessante punt van die nuwe 2,4- en 2,8ℓ-GD-reeks enjins is die vermindering van die drukverhouding in vergelyking met die vorige 2,5- en 3,0ℓ-D-4D-kragbronne (16 en 13% onderskeidelik). Hoewel dieselenjins vir hoë drukverhoudings ontwerp is en hoë drukverhoudings doeltreffendheid bied, is dit nie altyd goeie nuus nie. ’n Kragtiger en meer gewelddadige ontploffing in die ontbrandingskamer lewer meer geraas in die vorm van diesel-‘klop’ en -‘ratel’, en gevolglik moontlik meer enjinvibrasies. Hoë drukverhoudings lewer ook meer stikstofoksied, of NOx, wat die omgewing meer beskadig.

Hierdie laer drukverhouding help die enjin dus om gladder en stiller te loop, wat tot ’n meer doeltreffende kragbron en minder uitlaatgasse lei. Toyota se ingenieurs het daarin geslaag om verrigting en doeltreffendheid ten spyte van die laer drukverhouding te verbeter, wat tot ’n wen-wen-oplossing gelei het.

Drie petrolenjins is beskikbaar ‒ ’n tweeliter-viersilinder-VVT-i van 100 kW en 182 Nm wat as wegspringpunt vir die petrolreeks dien. Dié enjin sal aangevul word deur ’n hersiene weergawe van die bekende 2,7ℓ-VVTi wat 122 kW en 245 Nm met ’n 10%-verbetering in brandstofekonomie bied.

Verbeterings aan die 2694cc-viersilinder-eenheid sluit in ligter klepwerking-komponente, ’n nuwe vorm vir die inlaattuimelpoort, ’n nuwe vorm vir die ontbrandingskamer om ’n hoë drukverhouding te bewerkstellig, en die gebruik van VVT-i vir die uitlaatkant. Dit bied die 2,7ℓ-eenheid op sy beurt dubbele VVT-i terwyl die kleptydreëling vir die inlaat- sowel as uitlaatkleppe so goed as moontlik gemaak is om doeltreffendheid en verrigting te verbeter.

Verdere doeltreffendheidsmaatreëls sluit in ’n Teflon-laag vir die suierstange en die gebruik van ’n laewrywingstydketting en -oliepomp.

Die reeks word deur die bekende vierliter-V6 wat ’n gespierde 175kW en 376 Nm lewer, afgerond.

Kragoordrag

Die gevorderde nuwe enjins en die dryfwiele word deur ’n splinternuwe, soepel 5- of 6-gang-handratkas gekoppel. Die werkesel-modelle sal die geharde vyfgang-handratkas kry terwyl die hoërgraadse modelle ’n keuse tussen die nuwe sesgang-handratkas of outomatiese sesgang-transmissie bied.

Die ratverhoudings van die nuwe sesgang-handratkas is ontwikkel en het nou ’n 10% laer eerste rat vir beter laespoed-wringkragoordrag en ’n 23% hoër snelrat vir beter brandstofdoeltreffendheid en ooreenstemmende hoëspoed-motorry.

Die duursaamheid en betroubaarheid wat van enige veldryvoertuig vereis word, word verseker deurdat die ratvorm en aantal tande aangepas en versterk is terwyl die beladingsvermoë van elke rat verhoog is. Die laers aan die voorkant van die tussen-as is aangepas en die bestaande rollaer is deur ’n gekombineerde rol- en koeëllaer vervang om aslas en radiale lading doeltreffend te balanseer.

’n Wêreld-eerste in hierdie segment is die gebruik van Toyota se intelligente handratskakeling (iMT) vir sekere modelle. Die iMT-stelsel maak gebruik van tegnologie wat die enjinspoed by die ratkas aanpas wanneer die bestuurder deur die ratte skakel ten einde ’n ultra-soepel rit te bied en die voertuig seepglad te laat wegtrek.

Die rathefboom is in pas met die meer ontspanningsgerigte binneruim verkort om ’n gladder (en meer passasiersmotoragtige) wisselgevoel te bied.

Aanhangers van outomatiese transmissie sal dol wees oor die nuwe sesgang-transmissie met super-intelligente beheer. Hierdie uiters tegniese transmissie is die eerste toepassing van ‘hoëspoed-rateffektiewe gebruiksbeheer’ in ’n Toyota.

Hierdie soort beheer ontleed die intydse gebruik van die hoër ratte in werklike rytoestande. Die stelsel, wat voertuiglading en versnellerposisie in ag neem, bepaal dan die behoefte om byvoorbeeld na sesde oor te skakel of in vyfde te bly ten einde die beste moontlike balans tussen ryverrigting en brandstofdoeltreffendheid te bewerkstellig.

Spoedverminderingsbeheer vervolmaak terugskakeling wanneer die voertuig spoed verloor om brandstofverbruik te verminder. Die stelsel sluit die brandstoftoevoer na die enjin af en skakel die ratte outomaties terug om enjinremming te benut.

Kunsmatige intelligensie vir wisselbeheer gebruik pasgemaakte beheerlogika om die transmissie te verhinder om onnodig in reaksie op skielike versnellerbewegings (oop of toe) op of af te wissel.

Diesel-modelle wat met die nuwe 6-gang-transmissies toegerus is, word GD-6 genoem, terwyl die intreevlak-weergawes met ’n vyfgang-handratkas die GD-kenteken het.

hilux-84_1800x1800 

 

Krag om te sleep

Die gevorderde nuwe kragbronne stel die nuwe Hilux in staat om ’n gedugte vrag te sleep. Sleepvermoë is deur die bank verhoog (buiten die intreevlak-petrolmodel) en die 2.8 GD-6 4×4-modelle pronk met ’n monstergatige 3,5 ton se sleepvermoë.

Ry-modus

Nog ’n nuwigheid vir Hilux is die nuwe rymodus-skakelaar. Bestuurders kan tussen ekonomiese (ECO) en hoë verrigting (POWER) na gelang van rytoestande kies. Die ekonomiese modus verminder kragverbruik in verhouding tot versnelling, verhitting en verkoeling ten einde brandstofekonomie te verbeter, terwyl die hoëverrigtingsmodus die bestuurder vinniger versnellerreaksie vir ’n meer begeesterde rit bied.

Graderings vir almal

Die nuwe Hilux bied in pas met sy nuwe ontwerp ’n omvattende lys toerusting waarvan sommige die eerste keer ter wêreld in ’n voertuig in hierdie segment aangetref word. Skerp fokus is op veiligheidstoerusting geplaas, en die nuwe Hilux pronk met ’n string veiligheidseienskappe waaronder ’n lugsak vir die bestuurder, sluitwerende remme (ABS), noodremhulp (BA) en ’n diefwerende stelsel ‒ alles as deel van die standaard-toerusting vir al die modelgraderings.

Die nuwe Hilux is met vier toerusting-graderings beskikbaar ‒ elk vir die spesifieke behoeftes van die gebruiker se toepassing en beoogde gebruik. Die intreevlak-werkesel-gradering is soos die naam aandui op werksgebruikers gerig en bied kopers noodsaaklike toerusting soos kragstuur, afstand beheerde sentrale sluiting, elektries beheerde vensters en die veiligheidstoerusting wat reeds genoem is.

Die middelgradering, wat ‘SRX’ genoem word, skep ’n balans tussen werking en vorm, met bykomende toerusting soos kantel- en teleskopiese stuurkolomverstelling, inligting-vertoonskerm, ’n 12V-kragsok, stuurwielskakelaars en USB- en hulp-sokke.

Die Raider-gradering verteenwoordig vlagskipstatus in al drie rompweergawes. Hierdie weergawes van die nuwe Hilux het volledige toerusting wat gemak, gerief en veiligheid betref, en gee kopers ’n bakkie met ’n sportnutsvoertuig-gevoel.

Van die hoogtepunte sluit in outomatiese klimaatbeheer, volkleur-inligtingvertoonskerm, raakskerm-klankstelsel met ses luidsprekers, Bluetooth, USB, outomatiese kopligte, dagligryligte (DRL), 17”-allooisierwiele en metaal-binneruim- en elegante chroom-buitekant-insetsels.

’n Nuwe toevoeging tot die reeks is die SR-gradering wat spesifiek op mynbouklante gerig is. Hierdie weergawe is op die SRX-gradering gegrond en kry voorkant- en gordynlugsakke sowel as voertuigstabiliteitsbeheer by om aan ’n volwaardige ANCAP-botsveiligheidspesifikasie te voldoen. Dié gradering gee die klankstelsel en kanttrappies weens die aanwending van die voertuig prys.

’n Romp wat jou sal pas

Drie rompvorms word ‒ net soos voorheen ‒ gebied: enkel-, Xtra- en Dubbelkajuit. ’n Uitstaande kenmerk van die Xtra-kajuit-weergawe is die hangkas-tipe deure om toegang na die agterste kompartement te vergemaklik.

Veiligheid kry voorkeur

Die Hilux se nuwe, sterker leerraam-onderstel sorg vir groter verwringingsweerstand terwyl sy botsenergie-absorberende eienskappe met 15% teenoor dié van sy voorganger verbeter is. Dit maak die voertuig veiliger en beskerm die insittendes beter.

Die gevaar van voetganger-beserings is ook verminder deur die gebruik van impak-absorberende maatreëls vir die voorste buffer, enjinkap, modderskerm-monteringsraam en enjintussenkap-samestelling. Dit alles verminder die impak op ’n voetganger se kop en bene in die onvoorsiene geval van ’n botsing.

Passiewe veiligheid word aangevoor deur ’n string lugsakke. Al die modelle het ’n bestuurderlugsak, terwyl die middelgadering- en enkelkajuit-Raider-modelle ook ’n passasierslugsak het. Die middelgradering-dubbelkajuitmodelle het kantlugsakke voor benewens die lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier.

’n Uitstaande kenmerk is die toevoeging van ’n nuwe knielugsak vir die bestuurder in al die dubbelkajuit-modelle.

Die dubbelkajuit-Raider-weergawes het altesaam sewe lugsakke wat die bestuurder- en voorste passasierslugsakke, knielugsak vir die bestuurder, kantlugsakke voor en gordynlugsakke behels.

ISOFIX-monteringspunte en ’n driepunt-sitplekgordel vir die middelste agtersitplek is ook deel van die dubbelkajuit-toerusting.

Die nuwe Hilux het ’n omvattende lys aktiewe veiligheidstelsels om botsings te help voorkom, voertuigstabiliteit te bevorder en selfs die bestuurders te help om ’n sleepwa in moeilike rytoestande te beheer.

Die gewone rembeheerstelsels ‒ sluitwerende remme (ABS), noodremhulp (BA) en elektroniese remkragverdeling (EBD) ‒ is die eerste linie aan die aktiewe veiligheidsfront. ’n Nuwe toevoeging is die noodremsein, wat die bestuurders van ander voertuie in die geval van noodremgebruik waarsku deur die noodligte te laat flikker.

Sekere modelle is verder toegerus met voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), wat geaktiveer word wanneer sensors stuurtraagheid of stuuroorywerigheid waarneem. Die stelsel gebruik outomatiese beheer van enjinverrigting en individuele wielremme om die uitwerking van stuuroorywerigheid of stuurtraagheid teen te werk, wat voertuigstabiliteit en uiteindelik veiligheid aansienlik verbeter.

Sleepwa-swaaibeheer (TSC) gebruik enjinverrigting en individuele rembeheer om ’n sleepwa in toom te hou deur volgehoue swaaibewegings teen te werk.

Bogenoemde veiligheidstelsels word verder deur A-TRC, DAC en HAC, wat in detail in die veldry-gedeelte beskryf word, aangevul.

Opsomming van modelgraderings

Werkesel-modelle:

  • Elektries beheerde vensters en outomatiese oop-werking vir bestuurder
  • Leesligte en inklimbeligting
  • 12V-kragsok
  • ECO-aanwyser (ekonomie)
  • Swart elektries verstelbare spieëls
  • Sluitwerende remme (ABS)
  • Lugsak vir die bestuurder
  • Afstand beheerde sentrale sluiting met outomatiese deursluiting
  • Diefwerende stelsel

SRX-models kry by:

  • Stuurwielskakelaars
  • Kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom (Extra- en Dubbelkajuit)
  • Ekonomie-meter
  • Inligting-vertoonskerm
  • Klankstelsel met Radio/CD, Bluetooth en USB-sok
  • Deur-oop-waarskuwing
  • Wielnisskerms
  • Kanttrappies
  • Knielugsak vir bestuurder
  • ISOFIX in dubbelkajuit-modelle
  • Driepunt-sitplekgordel vir middelste agtersitplek
  • Eko-rymodus (Eco/Power-skakelaar)
  • 17”-staalwiele

Raider-modelle kry by:

  • Metaal-binneruimafwerking
  • Sitplekbekleedsel met weelde-patroon
  • Trurat-kamera
  • Teleskopiese verstelling vir die stuurkolom
  • Volkeur-TFT-inligting-vertoonskerm
  • Raakskerm-klankstelsel met DVD en video-terugspeelwerking
  • Verkoelbare paneelkissie
  • Outomatiese kopligte met vertraagde afskakeling
  • Dagligryligte (DRL)
  • Verchroomde sierrooster en buite-afwerking
  • Breë ingeboude wielnisskermstroke
  • Ruitveërs met veranderlike onderbroke werking
  • Outomatiese klimaatbeheer
  • 2 x 12V-kragsokke
  • Intelligente handratwisseling (iMT)
  • Opdraande-wegtrekbeheer (HAC)
  • Afdraande-beheer (DAC) [net in die 4×4-modelle]
  • 17”-allooisierwiele

hilux-93_1800x1800

Modelreeks

Enkelkajuit

  • 0 VVTi 5-gang-handrat
  • 0 VVTi 5-gang-handrat A/C
  • 4 GD 5-gang-handrat
  • 4 GD 5-gang-handrat A/C
  • 4 GD-6 Raised Body SRX 6-gang-handrat
  • 4 GD-6 4×4 SRX 6-gang-handrat
  • 4 GD-6 4×4 SR 6-gang-handrat
  • 7 VVTI Raised Body SRX 5-gang-handrat
  • 8 GD-6 RB Raider 6-gang-handrat
  • 8 GD-6 4×4 Raider 6-gang-handrat

 

Xtra-kajuit

  • 4 GD-6 Raised Body SRX 6-gang-handrat
  • 8 GD-6 Raised Body Raider 6-gang-handrat
  • 8 GD-6 4×4 Raider 6-gang-handrat

Dubbelkajuit

  • 4 GD-6 Raised Body SRX 6-gang-handrat
  • 4 GD-6 4×4 SRX 6-gang-handrat
  • 4 GD-6 4×4 SR 6-gang-handrat
  • 7 VVTi Raised Body SRX 5-gang-handrat
  • 8 GD-6 Raised Body Raider 6-gang-handrat
  • 8 GD-6 Raised Body Raider 6-gang-outomaties
  • 8 GD-6 4×4 Raider 6-gang-handrat
  • 8 GD-6 4×4 Raider 6-gang-outomaties
  • 0 V6 Raised Body Raider 6-gang-handrat
  • 0 V6 4×4 Raider 6-gang-outomaties

Versieningstussenposes en diensplanne

Al die modelle word gedek deur ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 kilometer (wat ook al eerste voorkom) met versieningstussenposes elke 10 000 kilometer.

Pryse

Die nuwe Hilux-reeks se pryse bly uiters mededingend, en sommige modelle is ten spyte van aansienlik meer toerusting eintlik goedkoper as hul voorgangers. Toyota het skerp op die waarde-proposisie van die nuwe reeks gefokus en bied kopers skitterende waarde vir geld.

 

Enkelkajuit:

Van R228 900 tot R 435 900

Xtra-kajuit:

Van R333 900 tot R470 900

Dubbelkajuit:

Van R 377 900 tot R593 900

Posted on by jonckie

Comments Off on Die Nuwe Toyota Hilux