Toyota Gazoo Racing onder groot druk in dun lug

dkr16-5321_1800x1800

Die groot hoogtes waar Sneltrajek 5 van die 2016-Dakar-veldtydren beslis is, het die spanlede van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan onder groot druk geplaas ‒ nie net weens die verrigtingsverskille tussen hul turbolose V8-aangedrewe Toyota Hilux-renvoertuie nie, maar ook die uitwerking wat die skielike styging tot hoër as 4 300 meter bo seevlak op hul liggame het. Die span is nogtans hoopvol, hoewel hulle reeds daarna uitsien om na die laer gebiede terug te keer.

Dit was veral Yazeed al Rajhi, wat saam met sy navigator, Timo Gottschalk (#305) in een van die drie Toyota Gazoo Racing SA-Hilux-renvoertuie jaag, wat onder die uitwerking van die dun lug gely het. Hy het regdeur die sneltrajek hoofpyn en maagkrampe gehad, maar is oorgehaal vir Sneltrajek 6, hoewel dit op dieselfde uiterste hoogtes as Sneltrajek 5 sal wees.

“Ons sal maar moet sien hoe dit gaan, maar ons sal gewis hard terugbaklei om van die tyd wat ons vandag verloor het, terug te wen,” het Yazeed by die oornag-tentkamp by Uyuni in Bolivia in die omgewing van die bekende soutpanne gesê.

Yazeed/Gottschalk kon net die vyftiende vinnigste tyd in Sneltrajek 5 opstel en het 16 minute algeheel afgestaan. Dit plaas hulle nou tiende algeheel, hoewel hulle vir Sneltrajek 6 in dieselfde posisie as waarmee hulle Sneltrajek 5 afgesluit het, sal wegspring.

“Dit beteken ongelukkig dat hulle ’n stofgaping van net twee minute sal hê,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Maar dis nie al nie ‒ hulle sal in die geselskap van talle stadiger deelnemers wees, wat dit moeilik sal maak om verlore tyd in te haal. Wat dit betref, is Yazeed en Timo egter verwoede deelnemers en ek is seker hulle sal hard terugbaklei.”

Sneltrajekte 4 en 5 was vir Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301), ook baie erg. Hulle het dié twee skofte, wat as die marathon-sneltrajek sonder oornag-dienssteun gegroepeer is, relatief sterk begin. ’n Amperse botsing teen ’n stadiger motorfietsjaer in Sneltrajek 4 het hulle egter groot laat skrik en hulle het die voet effens gelig.

“Dit lyk asof ons daarna egter onnodig oorversigtig was,” het De Villiers gesê nadat hulle Sneltrajek 4 afgelê het. “Ons het meer tyd verloor as wat ons bereid was om af te staan, maar ons het ’n beter lopie in Sneltrajek 5 gehad.”

Die twee het ’n bestendige vertoning gehad namate die Dakar-deelnemers van Argentinië tot die hoë plato’s (Altiplano) van Bolivia verskuif het. ’n Teleurstellende pap wiel in die laaste gedeelte van die sneltrajek het hulle egter van ’n beter sneltrajektyd beroof. Soos dinge nou staan, was hulle Donderdag sewende vinnigste, en is nou sesde algeheel.

Leeroy Poulter en Rob Howie (#319) was weer uiters bestendig in Sneltrajek 5 nadat hulle aan die einde van Sneltrajek 4 tot die vierde plek opgeskuif het. Hulle het ’n skoon lopie in Sneltrajekte 4 en 5 gehad, maar het ook tyd teenoor die Peugeot’s aan die voorpunt afgestaan. Hulle was ten spyte van die dun lug vyfde vinnigste in Sneltrajek 5, en het een posisie tot vyfde algeheel teruggesak.

“Die Hilux het in al twee sneltrajekte werklik baie goed geloop, en ons moes skaars iets tussen die twee lang sneltrajekte doen. Die voertuig is nog die hele tyd uiters betroubaar, en hoewel enigiets te eniger tyd fout kan gaan, het ons baie vertroue in die motor,” het Poulter gesê.

’n Ongelukkige gevolg van die groot hoogtes bo seevlak in hierdie gedeelte van die Dakar-veldtydren is dat die turbolose V8-petrolenjins bloot nie naastenby soveel krag en wringkrag as die turbo-aangejaagde enjins van die turbodieselmotors lewer nie.

“En om dinge vir ons nog moeiliker te maak, het die duinebesies soos dié wat deur Peugeot gebruik word, baie groter bande met heelwat meer wielbeweging. Hulle het ook groter luginlaatbeperkers en banddrukbeheerstelsels ‒ goed wat alles in hul guns tel,” het Hall verduidelik. “Wat dit betref, voel ons egter dat die Hilux wat ons gebruik, uiters vermoënd is, en sodra ons aanstaande week na die laer gedeeltes terugkeer, sal dinge op ’n gelyker voet wees. Daar is nog baie sneltrajekte oor, en ons moet die beste daarvan maak. Sneltrajek 5 het met ’n aantal baie rowwe paaie afgesluit, en ons jaers het laat weet die nuwe Hilux was in die omstandighede baie indrukwekkend, wat goed lyk vir die pad vorentoe.”

Sneltrajek 6 is ’n sirkelroete van 542km om die bekende Salar de Uyuni, en die diensspanne sal vir twee nagte in dieselfde tentkamp bly. Dit beteken dat die dun lug steeds ’n uitwerking op die volgende twee sneltrajekte sal hê, waarna die Dakar na Argentinië terugkeer waar die roete op ’n heelwat laer hoogte bo seevlak is.

Die 2016-Dakar-veldtydren eindig op 16 Januarie in Rosario in Argentinië.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing onder groot druk in dun lug