Tegnici in snelrat terwyl renjaers en navigators rus by Dakar 2016

service3_1800x1800Die spanne wat aan die 2016-Dakar-veldtydren deelneem, het Sondag 10 Januarie ’n bietjie asem geskep ‒ maar net die renjaers en hul navigators. Die tegnici wat die voertuie in stand hou, het in snelrat oorgeskakel.

Die rusdag is ’n kritieke deel van elke Dakar-ren aangesien die menslike liggaam ’n ruskans nodig het nadat hulle vir sewe dae voluit gejaag het. En selfs die uiters betroubare Toyota Hilux-renvoertuie het ná sewe sneltrajekte van die Dakar-ren ’n bietjie aandag nodig. Die rusdag is dus vir die diensspanne die geleentheid om seker te maak die voertuie is slaggereed vir die week wat wag.

Die Toyota Gazoo Racing SA-span het genadiglik min onverwagse uitdagings vir die tegnici gebring. Hoewel die ren nou eers halfpad is en dit nog gans en al te vroeg is om te ontspan, was die drie Toyota Hilux-renbakkies tot dusver stewig en uiters betroubaar.

“Ons is baie tevrede met die wyse waarop ons motors tot dusver gevaar het,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die rusdag-tentkamp in Salta gesê. “As dit nie was vir ’n heiningpaal wat ’n gat deur Leeroy en Rob se windskerm gesteek het nie, sou alles tot dusver blote roetinewerk gewees het.”

Dié voorval was in Sneltrajek 6 toe Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319), wyd deur ’n skerp draai gegly het. Hulle het ’n heining getref en een van die pale uit die grond geruk. Die heiningpaal het egter die laaste sê gehad en aan ’n stuk heiningdraad wat die motor vasgegryp het, om die voertuig gesweepslag en ’n gat deur die windskerm reg voor Howie in die navigatorsitplek geslaan.

“Dis maar een van daai goed,” het Poulter verduidelik.

“Die Dakar boul talle wipballe, maar dit was nogal ’n ongewone een. Ons het die res van Sneltrajek 6 weens die stukkende windskerm gesukkel om behoorlik te sien.”

Die diensspan het soos altyd ’n nuwe windskerm gereed gehad toe motor nommer 319 aan die einde van die sneltrajek by die tentkamp aankom, en die voertuig was kort daarna gereed om verder te jaag. Dit bewys net weer die professionalisme en toewyding van die Toyota Gazoo Racing SA-diensspan wie se lede ten spyte van die uiterste toestande waarin hulle hulle bevind, aanhou werk totdat alles gedoen is.

“Ons het vanjaar al erge hitte, oorstromings, stofstorms, bitter koue en bedompige humiditeit gehad,” het Wimpie ‘Mac’ Botha, spanhoof van die Toyota Gazoo Racing SA-diensspan, gesê. “En ons is nou eers halfpad deur die ren!”

Die moeilikste dienspunt tot dusver was by die Uyuni-tentkamp in Bolivia aan die oewer van die grootste soutpan ter wêreld. Die dorp is 4 000 meter bo seevlak, wat dit moeilik maak om veeleisende werk te doen sonder om uitasem te raak. Daarbenewens is die tentkamp ook deur ’n magtige stofstorm getref, wat alles in ’n fyn lagie stof bedek en sig tot minder as tien meter beperk het.

Die tegnici het vandag (Sondag 10 Januarie) al drie die span se renvoertuie kaal gestroop, herbou en vir die volgende week se sneltrajekte voorberei.

Wat die uitslag tot dusver betref, het die Toyota Gazoo Racing SA-renspan die uitwerking van die hoogliggende dele op meer as een manier aan hul bas gevoel. Die gemiddelde hoogte bo seevlak was ver oor die 2 000 meter, wat die punt is waar turbolose voertuie soos die V8-aangedrewe Toyota Hilux toegelaat word om ’n groter lugbeperker te gebruik. Dit sou die span ’n bietjie meer broodnodige verrigting gegee het, maar die roete het ongelukkig op die nippertjie verander en die span moet nou as gevolg daarvan met ’n kleiner lugbeperker jaag. Die gemiddelde hoogte daal oor die volgende ses sneltrajekte aansienlik, en die span sal dus uithaal so wat hulle kan om so veel as moontlik verlore tyd in te haal.

Intussen was een van die seswielaangedrewe ondersteuningsvragmotors (Klas T4) wat onderdele aan die Toyota Gazoo Racing SA-span voorsien as enigiets op die roete gebeur, in ’n botsing op die lang ooppadgedeelte tussen Uyuni in Bolivia en Salta in Argentinië betrokke. Niemand is beseer nie, maar van die onderdele wat vir die rusdag benodig is, was in dié vragmotor, wat nog groter druk op die tegnici geplaas het.

Die 2016-Dakar betree nou die tweede helfte met die sneltrajekte wat afgetel word totdat die ren Saterdag 16 Januarie in Rosario in Argentinië eindig.

service1_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Tegnici in snelrat terwyl renjaers en navigators rus by Dakar 2016