Splinternuwe Lexus RX maak sy Suid-Afrikaanse buiging

rx350-1_1800x1800

’n Ontwerp wat deur origami aangespoor is, ’n duiselingwekkende mengsel van skerp voue en kurwes, ’n verstoute uurglas-sierrooster en ’n sonderlinge ‘swewende’ dak kenmerk die onteenseglik visuele stelling waarmee die vierde generasie RX, die fabrikaat se suksesvolste motor nog, sy buiging maak.

Die RX, wat beskou word as die baanbreker vir die skuif na die weelde-nutsmotorsegment, het meer as 1,2 miljoen verkope sedert sy oorspronklike bekendstelling aangeteken, en met jaarlikse Amerikaanse verkope wat gereeld die 100 000-kerf oorskry, is die RX een van net twee weeldewaens in sy klas wat dit regkry. Die Lexus RX is sedert sy aanvanklike bekendstelling in 1998 uiters gewild onder kopers wat ’n behoefte het aan die veelsydigheid van ’n sportnuts met die rygemak van ’n weeldesedan wat alles in ’n aantreklike, elegante pakket verpak is.

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking, erken dat sukses ook uitdagings bied: “Lexus se ingenieurs en produkbeplanners het die moeilike taak gehad om lojale kopers gelukkig te hou en die RX terselfdertyd meer aanloklik te maak – iets wat ek gelukkig kan sê hulle op merkwaardige wyse reggekry het.

“Die nuwe RX bou inderdaad voort op die sukses van sy vorige geslagte deur die meer avontuurlike stilering, groter kajuitruimte, verbeterde krag, en iets wat uiters belangrik is – beter dinamiese verrigting. Om die waarheid te sê ‒ dit is ’n ‘uitmuntende’ pakket wat die veelsydigheid en sielkundige sekuriteit van ’n sportnuts met rydinamika waarmee sedaneienaars vertroud is, kombineer. Die feit dat die motor al die hout- en leer-toevoegings van ’n weeldefabrikaat het, is ’n bykomende voordeel. Dit is ’n model wat sedert sy aankoms in Suid-Afrika in 2006 bestendig gevaar het, en die nuweling sal gewis nuwe aanhangers lok.”

Die plaaslike RX-modelreeks is in twee ‘geure’ beskikbaar: die petrol-aangedrewe
V6-RX 350 EX en die petrol-elektriese hibriedmodel, die RX 450h, in SE-gewaad. Die RX 350 EX pronk met ’n opgegradeerde 3,5ℓ-V6 met direkte inspuiting wat 221kW en 370Nm bied ‒ 17kW en 24Nm meer as die vorige weergawe ‒ en al vier wiele deur ’n agtgang-transmissie aandryf.
Die RX 450h-hibried lewer 230kW in die gekombineerde kragstelsel (enjin en elektriese motor) – ’n 10kW-styging in die gekombineerde stelsel teenoor die vorige weergawe van die RX 450h ‒ en dryf al vier wiele deur ’n palwisseltransmissie (CVT) aan.

LANGER EN BREËR RX PRONK MET UITBUNDIGE STILERING

Die buite-stileringspakket van die splinternuwe RX sorg vir ’n dramatiese voorkoms in pas met die model se ekstroverte stileringsrigting.

Die ontwerp van sy aggressiewe uurglas-sierrooster gee die pas vir die stileringspakket aan, en smelt met die res van die romp saam om ’n slanke, vaartbelynde voorkoms te bied. Die nuwe koplig-ontwerp vul die duideliker uurglas-sierrooster aan en werk saam met die daglig-ryligte wat die vooraansig ’n sterk, visuele houding op die pad gee. Die RX 450h word treffend ‘verlig’ danksy sy drievoudige ligdiode-kopligsamestelle met ingeboude wassers. Hierdie model pronk ook met sekwensiële ligdiode-rigtingwysers wat saam met die dagligryligte werk. Die RX 350 EX gebruik hoë-idensiteitskopligte met gewone rigtingwysers.

Die kant-ontwerp word gekenmerk deur ’n skerp, hoekige sy-aansig wat die lyne van die sierrooster van voor tot agter deurvoer. Die werklike skop in die ontwerp-profiel is die swart C-pilare wat die dak ’n swewende voorkoms gee. Die agterkant-ontwerp boots die stileringselemente van die voorkant na, veral die trapesium-vormige uurglas-sierrooster-ontwerp, en bied kontinuïteit en ’n gevoel van breedte wat die aggressiewe houding van die nuweling aanvul.
Terloops, die asafstand van die nuwe RX is 50mm langer om bykomende agterste beenruimte te bewerkstellig. Die hele motor is 120mm langer en 10mm breër, maar 20mm laer as die vorige weergawe, wat sy slanke sy-aansig versterk.

Die spoor het voor en agter tot 1 640mm en 1 630mm onderskeidelik gerek ‒ ’n toename van 10mm teenoor die derde generasie van die RX.

Die splinternuwe RX bied ’n wye reeks verf- en binneruimkleure om by sy treffende romp- en kajuitontwerp te pas, waaronder ’n keuse van sewe metaalvlokkiekleure wat deur twee binneruimbeslagkleure vir die leer aangevul word – swart en ivoor. Die kleurpalet sluit in kwartswit (White Quartz), platinumsilwer (Platinum Silver), soniese titaan (Sonic Titanium), grafietswart (Graphite Black), morelrooi (Morello Red), geskroeide oranje (Amber; Burnt Orange) en weelderige blou (Opulent Blue).
Twintigsduim-wiele word in al twee modelle gebruik, maar ’n interessante stukkie wielkuns word in die RX 350 EX aangetref in die vorm van die wêreld se heel eerste kleurinsette in soniese titaan.

NUWE RX BIED BETER VERRIGTING EN GROTER DOELTREFFENDHEID

Die nuwe RX 350 het agt persent meer krag en sewe persent meer wringkrag en bied nege persent beter brandstofdoeltreffendheid. Die RX 350 se nuwegenerasie-2GR-FKS-enjin lewer 221kW teen 6 300r/min en ontwikkel 370Nm se wringkrag teen 4700r/min en ’n brandstofverbruik van 9,6 ℓ/100km in die gekombineerde siklus..
Die model het ’n nuwe viernokas-V6-enjin van 3,5 liter en ’n outomatiese agtgang-transmissie met koppelaarlose handratwerking (M-modus) wat beter rybaarheid en brandstofekonomie bied. Die enjin ontwikkel 17kW meer krag en 24Nm meer wringkrag as die vorige dubbele VVT-i-2GR-FE-enjin.

Die nuwe enjin maak gebruik van VVT-iW (Wide) in die inlaatklep-nokas en die Lexus D-4S-dubbelinspuiting vir direkte hoëdruk- en poortinspuiting. Dit is die eerste Lexus-enjin wat VVT-iW en D-4S kombineer. Die veranderlike kleptydreëling (VVT-iW) kom van Lexus se nuwe turbo-aangejaagde 2,0ℓ-enjin.

Die groter verstellingstrek beteken die kleptydreëling kan vir beter verrigting bevorder word of ingeperk word sodat die enjin in die Atkinson-siklus ten opsigte van beter brandstofekonomie ingespan kan word, wat hoër wringkrag regdeur die enjin se hele toerestrek tot gevolg het. Brandstofekonomie is vervolmaak deur die balans tussen direkte en poortinspuiting na gelang van enjinlading en gebruikstoestande te verfyn. Die Lexus VVT-iW-stelsel verstel die inlaatkleptydreëling om die enjin betroubaar in uiterste koue te laat aanskakel en bied ook indrukwekkende verrigting wanneer die versneller wyd oop is.

rx350-8_1800x1800 

Agtgang-transmissie

Die nuwe RX 350 het ’n sogenaamde sekwensiële agtgang-transmissie pleks van die vorige weergawe se sesgang. Die nuwe ratkas bied groter bestuurder-betrokkenheid, beter rybaarheid en verbeterde brandstofekonomie. Nuwe elektroniese tegnologie bevorder rybaarheid net nog verder.

Die agt interne ratverhoudings is gekies om die behoeftes vir sportiewe rygenot en ekonomiese verrigting te balanseer, met ’n lae eersterat-verhouding vir aanvanklike versnelling, nouverhoudings vir die middelste ratte en stadsry-ekonomie, en ’n lang agtste rat vir snelweg-ekonomie. Eerste rat is 20 persent korter as dié van Lexus se sesgang-transmissie, terwyl die snelrat 16 persent langer bene het. Die algehele indeling van die ratverhoudings is 44 persent beter as dié van die vorige sesgang-transmissie.

Die handratwisseling (M-modus) bied voorafgestelde ‘vaste’ ratverhoudings van derde tot agtste vir koppelaarlose handratwisseling gedurende versnelling en vaste ratte van tweede tot agtste wanneer die motor se spoed daal. Die terugskakeling in M-modus word beheer deurdat die transmissie die toerebeheer by die enjinspoed aanpas. Daarbenewens is die RX 350 se transmissie aan die Lexus Drive Mode Select-werking met sy verstellings vir ekonomiese (ECO), gewone (NORMAL) en sportiewe (SPORT) verrigting gekoppel.

Die Lexus-transmissie monitor die versneller-opening om die versnelling te bied wat die bestuurder vereis deur middel van ’n stelsel wat lineêre dryfkragbeheer genoem word.

Dit kan ’n vinnige terugskakeling bewerkstellig wat van die versnellerposisie afhanklik is om op versnelling uit ’n draai of vinnige hoërratwisseling om momentum te behou te reageer. Dit beperk die wisseling in versnellertempo namate voertuigspoed toeneem ten einde ’n vloeiende versnelgevoel te handhaaf.

Nog beheertegnologie is die terugratbeheer wat verseker dat die terugskakelingsreaksie by die bestuurder se voorneme pas. Dit bevorder die tyd wat die dryfkrag neem om die laaste ratverhouding te bereik wanneer die versneller skerp getrap word, terwyl sekwensiële terugskakeling soepel oordrag van dryfkrag bevorder wanneer die versnellerpedaal net liggies getrap word.

RX 450h: Verbeterde verrigting en doeltreffendheid

Die RX 450h-hibried het 10kW of 4,5 persent meer gekombineerde krag wat op 230kW te staan kom, gekoppel aan ’n 9,5%-verbetering in brandstofekonomie wat nou op 5,7 ℓ/100km te staan kom. Die “verpligte” naellopie van 0-100km/h word in ’n baie kredietwaarige 7,7 sekondes kafgedraf.
Lexus het rybaarheid, doeltreffendheid en verpakking regdeur die RX 450h-dryf- en hibriedstelsel verbeter. Die nuwe 2GR-FXS-Atkinson-viernokas-V6-petrolenjin van 3,5 liter met dubbele VVT-i bied ’n bykomende 18Nm se wringkrag (teen laer enjinsnelhede) en 10kW meer kraglewering as die vorige enjin.
Die petrol-enjin lewer 193kW teen 6 000r/min en ontwikkel 335Nm wringkrag teen 4 600r/min. Die Lexus-hibriedstelsel voeg dit by die 123kW van die elektriese motor en die 50kW-motor in die E-Four AWD-stelsel indien nodig.
Die RX 450h het ’n elektronies beheerde palwissel-transmissie vir volmaakte ratverhoudings te alle tye sonder energie-glipverlies.

Die nuwe enjin maak gebruik van die Lexus D-4S-dubbele ontstekingstelsel bestaande uit hoëdruk-direkte of poort-inspuiting. Die drukverhouding is van 12.5:1 tot 13.0:1 verhoog ten einde beter krag en wringkrag regdeur die toerestrek te lewer. Die verkoelde uitlaatgas-hersirkulering (EGR) is verder verfyn ten einde werktemperatuur te verbeter en uitlaatgasse te verminder.
Die silinderkop en uitlaatspruitstuk is geïntegreer om die reikafstand van die stoichiometiese lug/brandstof-verhouding te vervolmaak en uitlaatgasse te verminder.
Spesiale aandag is aan die vermindering van geraas, vibrasies en grofheid (NVH) by die oorsprong en deur nuwe enjinbedekkings gegee.
Die 2GR-FXS-enjin skakel af wanneer dit nie gebruik word om die motor aan te dryf nie, en net die elektriese motor word vir trurat gebruik.

Spesiale eienskappe in die RX 450h se ontwerp beperk die dreinering van die petrolenjin se krag om brandstofbesparings te verhoog en terselfdertyd noodsaaklike stelsels aan die gang te hou. Die voertuig het elektriese kragstuur en ’n elektries aangedrewe lugversorgingskompressor. Die RX 450h-enjin het nie ’n gewone alternator of aansitter nie. Die motor-generator in die RX 450h-hibried se halfas dien as die petrolenjin-aansitter wanneer dit benodig word.
’n DC-DC-omsetter verskaf 14V vir die RX 450h se aanvullende toerusting.
Verbeterde dryfstelsel

Die Lexus RX 450h se dwarsas is aangepas ten einde brandstofdoeltreffendheid te verbeter. Die stelsel het ’n nuwe water-tot-lug-verkoeler vir die elektriese dryfmotor met verminderde olieroeringsverlies danksy ’n nuwe keerplaat wat ingespan word.

Die nuwe elektriese motor help om brandstofekonomie te verbeter deur die verrigting van die elektriese motor ten beste te verbeter.

Die unieke RX 450h-voorasdryfstelsel bestaan uit ’n V6-petrolenjin, transmissie-demper, saamgestelde planeetratstel en twee elektriese motors/generators. Die saamgestelde planeetratstel dien as elektroniese palwissel-transmissie wat die ratverhouding vir die beste moontlike verrigting, rybaarheid en ekonomie verander.
Hipermoderne transmissie-elektronika sluit Lexus se AI Shift– en die Lexus Sequential Shiftmatic-stelsel in. Die sekwensiële ratwisseling stel die bestuurder in staat om ses ratverhoudings te kies deur die rathefboom van D tot S te skuif en ratte met die ‘+’- of
‘‒’-simbole te wissel.
Die Lexus-hibriedstelsel dryf nie net die voertuig aan nie, maar bied ook energie-besparende vertraging vir die voor- en agterasse.

Hibriedstelsel-verbeterings

Lexus het die kragbeheereenheid, hibriedbattery en die hibriedstelsel se elektroniese beheereenheid verder in die RX 450h ten gunste van verbeterde rybaarheid, brandstofekonomie, geraasoordrag en binneruimgemak verfyn. Die monteringsposisie van die battery se verkoelerwaaier is verskuif en die hoogte van die hoofromp is met 26mm verlaag om dikker sitplekkussings moontlik te maak wat groter gemak bied. ’n Polsende waaier word gebruik om geraas te beperk.
Wanneer die voertuig versnel, beklemtoon die kragmodus die verrigting deur beter van die petrolenjin se krag en die middelversnellingseienskappe van die elektriese motor gebruik te maak. Wanneer die motor spoed verloor, is die tempo en enjinklank ingestel om ’n sportiewe rygevoel te bied.
Die sekwensiële wisseling kan gebruik word om die transmissie te laat terugskakel om die gevoel van enjinremming te verkry of die motor vir ’n draai op te stel.

LEXUS RX HET TWEE VIERWIELDRYFSTELSELS

Die Lexus RX 350 en RX 450h gebruik doelontwerpte aandrywing deur al vier wiele, wat al twee ontwerp is om klouvermoë, draaistabiliteit en bestuurderbeheer te vervolmaak en steeds brandstof te bespaar. Die RX 350 benut die nuwe dinamiese wringkragbeheerstelsel terwyl die RX 450h die verbeterde Lexus E-Four-stelsel inspan.
Die bestuurders van die RX 350 en RX 450h kan die eerste keer in ’n Lexus die wringkragverdeling intyds op die inligtingvertoonskerm sien.

Al die RX-modelle het ’n nuwe voorlas-ewenaar aan die voorkant vir verbeterde wegtrekverrigting en reguitlyn-stabiliteit.

rx350-23_1800x1800 

Dinamiese wringkragbeheer (RX 350)

Lexus se ligte en kompakte dinamiese wringkragbeheerstelsel gebruik inligting oor voertuigspoed, stuurhoek, versnelleropening en gierhoek om wringkragverdeling outomaties tussen die voor- en agterasse te beheer.
Die stelsel bespaar brandstof deur net die voorwiele aan te dryf wanneer die voertuig teen kruisspoed ry, en skakel op aanvraag deur middel van ’n elektromagneties beheerde koppeling in die agterste ewenaar na aandrywing deur al vier wiele oor.
Voorlas-beheer kan 10 persent van die beskikbare wringkrag na die agterwiele stuur sodra die bestuurder die stuurwiel draai soos wanneer die motor ’n draai binnery. Die terugvoerbeheer van die gierhoek kan elke ses millisekondes bykomende wringkrag na die agterwiele stuur en die ideale wringkragverdeling tot die maksimum van 50% verseker. Wanneer die motor op ’n gladde oppervlak wegtrek, word die wringkrag in die verhouding 100:0 tot 50:50 na die agterwiele verdeel vir die beste stabiliteit met die beskikbare klouvermoë. Gewone motorrybeheer sal oorvat sodra die voertuig 25km/h bereik.

Die agterwiel-wringkrag word ontkoppel wanneer rembeheerstelsels soos sluitwerende remme (ABS) of voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) in werking tree om te verhinder dat dié stelsels onderbreek word. Die bestuurder kan die dinamiese wringkragbeheer-aandrywing na al vier wiele (AWD) teen snelhede tot 40km/h oorneem deur die AWD-sluitknop te druk om die beste moontlike klouvermoë van al vier wiele te verseker.
Die RX 350 VSC kan die nuwe AWD-stelsel gebruik om die wringkragverdeling tussen die voor- en agterkant te beheer wanneer dit vereis word. Die skielike versnelling van enige voertuig in ’n draai kan byvoorbeeld daartoe lei dat dryfwiel begin tol wat die voor- of agterwiele kan laat gly sodat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor. Die AWD-stelsel beheer die wringkragverdeling om te verseker die RX 350 volg die bestuurder se voorgenome lyn deur die draai. As die VSC stuuroorywerigheid bespeur, word die agterwielwringkrag verminder. Wanneer stuurtraagheid ondervind word, word die agterwielwringkrag verhoog.

Lexus E-Four (RX 450h)

Die Lexus E-Four se proaktiewe aandrywing deur al vier wiele (AWD) gebruik ’n elektriese motor om die agteras aan te dryf terwyl die vooras deur petrol- of elektriese krag of ’n kombinasie van die twee aangedryf word.
Die nuwe RX 450h het ’n opgekikkerde E-Four-stelsel met ’n drieas-uitleg om die hoeveelheid komponente te verminder en doeltreffendheid te verhoog deur die spasiëring tussen die inset- en uitset-as te verminder. Die E-Four-stelsel se hulsel is nou van aluminium gemaak om gewig te verminder.
Die Lexus E-Four kan wringkragverdeling na die agterwiele laat wissel, onderhewig aan die rydinamika en padtoestande. Die bied ’n megsel van wegtrekstabiliteit en versnelling op gladde oppervlakke wat gewoonlik in modelle met aandrywing na al vier wiele aangetref word.

E-Four bespaar energie en dus brandstof omdat die voertuig net aandrywing na al vier wiele gebruik wanneer die werklik nodig is, soos byvoorbeeld wanneer die voorwiele klouvermoë verloor. Sodra die stelsel bespeur dat die voorwiele gly, verminder dit die elektrisiteitsvoorsiening na die motor in die dwarsas en verhoog dit die kragvoorsiening na die agteras-motor.

Die agterkant-motor kan dan as kragopwekker dien wanneer die voertuig spoed verloor en teen die dryfstelsel rem, wat die hoeveelheid kinetiese energie wat herwin word wanneer die motor rem, aansienlik verhoog. Die nuwe E-Four pronk met beheereienskappe wat in spesifieke situasies geld, waaronder verbeterde gierhoekbeheer vir meer sportiewe verrigting.

Voorlas-ewenaar

Lexus gebruik ’n voorlas-ewenaar in al twee die RX-modelle om rybaarheid te verbeter. Dit sorg vir ’n beter stuurgevoel en makliker beheer onder versnelling en remming onder uiteenlopende ry- en padtoestande.

Die voorlas-ewenaar bied gladder beheer wanneer die motor wegtrek en beter laespoed-maneuvreerbaarheid wanneer die motor op gewone of gladde oppervlakke draai. Wanneer die voertuig teen ’n vaste spoed in ’n reguit lyn soos op ’n snelweg ry, gee die stelsel ’n meer stabiele gevoel wanneer die stuurwiel in die neutrale posisie is. Die nuwe vooras help om reguitlyn-stabiliteit op grondpaaie of rowwe oppervlakke te verhoog.
Die kernkomponent van die voorbelaste ewenaar is ’n keëlvormige veer tussen die ewenaarkas en die kantrat. Dit belas die ewenaarkas teen lae ewenaarsnelhede, wat wringkrag beskikbaar stel om die spoedverskil tussen die dryfwiele te beperk.

NUWE RX PRONK MET VERBETERDE RIT EN HANTERING

Die nuwe Lexus RX pronk met verbeterde hantering, rit en stuurreaksie. Lexus het ook die RX-rompstruktuur herontwerp om rompstewigheid te verbeter en ’n stabiele platform vir die voertuig se opgekikkerde veerstelsel te bewerkstellig.

Die nuwe RX het ’n groter voetspoor, wat beter stabiliteit bied. Die asafstand is met 50mm verleng, terwyl die spoor voor en agter 10mm breër is. ’n MacPherson-stuttipe voorvering en sleeparms met dubbelmikke word aan die agterkant gebruik.

Die agtervering het kort kronkelvere en afsonderlike skokbrekers ten gunste van ’n lae vloerlyn en die beste moontlike kajuitruimte.
Die veerstelsel en die RX se elektries beheerde tandstang- en kleinrat-stuurstelsel is aansienlik verbeter en geherkalibreer. Spesiale lugdinamiese eienskappe aan die romp en onderkant verbeter hantering- en reguitlyn-stabiliteit teen snelweg-snelhede.

Lexus het die RX-romp ook aansienlik ten gunste van beter veiligheid en groter rompstewigheid hersien. Hoësterkte en warmgevormde staal van 980MPa word gebruik, tesame met spesiale tegnieke om kernlasse te versterk ‒ bykomende sweiskolle, bykomende gomlasse en Lexus se eie ontwikkelde laserskroef-sweiswerk.

Die tussenkap en verbinding tussen die voorvering-torings en agterwielnisse sowel as die deurrame, agterdeuropening en agterste rompraam is versterk. Voorbeelde daarvan is die nuwe ringvormige samestelling van die deurhulsels en die nuwe agterkant-rompraamkonstruksie wat rompstewigheid verbeter en gewig verminder.
Verbeterings aan die RX se voorvering sluit in ’n nuwe, dikker rolstaaf om voorkant-rolstabiliteit in draaie te verbeter. Die rolstaafbusse het nou interne ringe om doeltreffendheid te verhoog en aanvanklike stuurreaksie te verbeter. Veranderings aan die rolstaaf beteken die voorveringtempo kon verminder word om ritgemak te verhoog en romprol in draaie te verminder. Sagter voorkantstoppers word gebruik om ’n meer natuurlike rolhouding in draaie te bewerkstellig. Rolstabiliteit is met 10 persent verbeter.

Nuwe wiellaers verbeter vooras-stabiliteit en dus ook voertuig-stabiliteit in draaie.

Die agtervering is ontwikkel om die fermste veringgevoel moontlik en skitterende stuurreaksie te bied. Fyn aandag is aan die stewigheid van die onderste arm se busse aan die romp en draerkante bestee.

Die RX se ritgemak is verder verbeter deur die langer asafstand en minder vertikale rompbeweging oor harde en sagte hobbels.

Die RX se remstelsel is verfyn om ’n beter pedaalgevoel in die petrolmodelle te bied. Al die weergawes het nuwe lugverkoelde agterremme, met 338x18mm skywe en swewende remknypers wat die vorige 309x10mm soliede skywe en vaste remknypers vervang. Die elektronies beheerde remstelsel in die nuwe RX 450h maak die remgevoel gladder deur ’n natuurlike oordrag tussen terugvoerremming en wrywingsremming te bied.

rx350-38_1800x1800

RX-KAJUIT SPREEK VAN STYL EN WEELDE

Met bykans fanatiese aandag aan detail, skitterende ergonomika en onoortreflike afwerking bied die vierde generasie van die Lexus RX die volmaakte binneruimomgewing vir alle insittendes.
Die uitleg is voortreflik met skakelaars vir net die goed wat ’n mens hoef te verstel sonder om deur ’n magdom items op kieslyste te blaai. Die beheerknop is die middelpunt van die werksone en is ergonomies geplaas om natuurlike en instinktiewe beheer moontlik te maak.
Die instrumentepaneel is keurig gevorm om ’n gevoel van oopheid en vloeibaarheid deur die werksone te bied. ’n Nuwe vertikale element van die kap oor die instrumentehuisie tot in die middelkonsole skei die vertoonsone en werksone van mekaar om die bestuurder ’n kenmerkende stuurkajuit-gevoel agter die stuur te gee.
Die plasing van die multimedia-vertoonskerm in die vertoonsone is spesifiek ontwerp om die maklikste gebruik te bied sonder dat die bestuurder van die pad voor die motor af hoef weg te kyk.

Die nuwegenerasie-Lexus RX het meer passasier- en begasieruimte, en pronk met die wêreld se eerste hoogteverstelbare bekerhouers aan die voorkant. Die houer kan dieper gemaak word om groter bekers te huisves deur bloot die bodem te laat sak. Die houer kan na sy oorspronklike grootte herstel word deur die druk van ’n knoppie wat verrassend genoeg nie die inhoud in jou skoot sal laat beland nie aangesien dit stadig met beker en al terugverstel. Dis dalk net iets kleins, maar ’n perfekte voorbeeld van aandag aan selfs die kleinste detail.
Nog ’n geriefseienskap is die kabellose laaier in die voorpaneel se middelboks. Dit werk met Qi-versoenbare slimfone ‒ die foon word doodeenvoudig op die kabellose herlaaiblad neergesit, die laaiwerking word geaktiveer en die stelsel doen die res.

Binneruim-gemak en gehalte-verbeterings sluit nuwe sitplekke voor en agter in. Die voorste sitplekke wat in 10 rigtings kan verstel, het ’n nuwe raam, verbeterde pelvis- en dysteun, en ’n groter verstellings. Die nuwe rugleuningsraam help om die RX se agtersitplek-knieruimte met tot 38mm te vergroot. Verhitting en ventilasie van die voorsitplekke is verbeter, met sterker bedrading vir die verwarmer en dubbele lugvloei vir die ventilators.

Daarbenewens is die nuwe RX met ’n handige stukkie toerusting genaamd klimaat-concierge toegerus. Dit integreer eintlik net die sitplekverhitting/verkoeling met die lugversorgingstelsel.

Die nuwe RX se agtersitplek-rugleuning kan in die verhouding 40/20/40 verdeel en platvou, en het ’n rugleuningdemper vir ’n meer soepel beweging wanneer die rugleuning agteroor verstel word.

Twee klankstelsels

Die Lexus RX het die jongste grootformaat-vertoonskerm met Green Edge™-luidsprekers. Die nuwe klankeenheid het ’n volskerm-TFT vir die kieslys en satelliet-navigasie op ’n 12.3”-skerm.
Al twee klankstelsels gebruik stemherkenning en Bluetooth®-verbinding, met ’n AUX-minisok en twee USB-sokke in die konsoleboks. Die klankbeheerpaneel is herontwerp en in die verwamerbeheerpaneel ingebou. Die klankgedeelte het ’n donker, gerookte hars-afwerking om die deursigtigheid te verstel dat dit onderskynend lyk.

Die Lexus-beheerknop waardeur die navigasiewerk beheer kan word, kan deur die bestuurder of voorste passasier gebruik word sonder om die bestuurder se sitposisie vir sy visie vorentoe te verander. Die ENTER-funksie kan nou deur skakelaars aan weerskante van die draaiknop beheer word. Die beheerknop het nou ook ’n terug-skakelaar om werking te vergemaklik.

Die Lexus RX 350 het 12 luidsprekers, waaronder ’n laebasluidspreker van 20cm en CST-tegnologie (samehangende klank-oordrag) vir hoëgehalte- en realistiese klank regdeur die middel tot hoë klankspektrum.
Die vlagskip-hibriedweergawe het ’n Mark Levinson-sitkamerklankstelsel met 15 luidsprekers. Die vertoonskerm is ’n 12.3”-hoëdefinisie-TFT-vloeikristal-EMV-skerm met hoëgehalte IPS. Die skerm het ligkontrole-film met spesiale weerkaatswering om weerkaatsing te verminder en weerkaatsende lig te beperk.

Die Mark Levinson-klankstelsel maak gebruik van Clari-Fi (saamgeperste musiek-restoreertegnologie) om frekwensie-eienskappe, dinamiese reik, laetoon-spanning en detail-terugspeel van saamgepersteklank-bronne soos MP3 te verhoog.

Die Green Edge™-tegnologie gebruik hoëfrekwensie-luidsprekers om die klankuitset te verdubbel en het dieselfde energieverbruik as gewone luidsprekertegnologie.

Klaviervervaardiger sorg vir rein verrigting binne die nuwe RX

Lexus se splinternuwe RX-weeldesportnuts sal die eerste in die fabrikaat se produkreeks wees wat ’n binneruimafwerking het wat as lasersny-afwerking bekend staan en die hoëgehalte afwerking van ’n weeldeklavier behels.
Die Japanse weeldemotor-vervaardiger het met sy jarelange vennoot Yamaha saamgespan om dié afwerking voort te bring. Die behels ’n dun lagie laaghout en aluminium met presisie-lasersnye deur die hout om die metaal onder bloot te lê. Die gevolg is ’n treffende lynontwerp wat die skerp kontras tussen die ryk eienskappe van die hout en die koel voorkoms van die metaal beklemtoon. Die voorkoms word deur die gebruik van ’n beskermende deurskynende harslaag wat helder gepoleer word om ’n gehalte-voorkoms en -gevoel te bied, verhoog.
Die tegniek word op mahonie toegepas. Dit het ’n kenmerkende grein en word ook in die vervaardiging van vleuelklaviere en kitare gebruik. Die werk kan weens die delikate en kwesbare aard van die hout net deur bekwame vakmanne gedoen word. Die gehalte van die eindproduk kan vergelyk word met die potloodstrepie wat in ’n handgemaakte pak klere ingeweef word of die ligweerkaatsende ontwerp wat op kristalglas gegraveer word.

Die samewerking tussen Yamaha en Lexus is ’n voortsetting van ’n verbintenis oor 25 jaar oor talle projekte, waaronder eksklusiewe ornamentasie vir die LS en soortgelyke weeldemodelle.

OMVATTENDE LEXUS-VEILIGHEIDSTELSEL

Die nuwe Lexus RX het ’n magdom bestuurderhulpmiddels waaronder blindekolmonitor met dwarsverkeer-waarskuwing (dit help wanneer die motor agteruit uit ’n parkeerruimte ry), sluitwerende remme (ABS) met remhulp en elektroniese remkragverdeling (EBD), opdraande-wegtreksteun, kloubeheer, voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), voertuigdinamikabeheer (net in die hibried-model), truratgidsmonitor, banddrukmonitor sowel as parkeersonar en afstandmonitor.

Wat passiewe veiligheid betref, het die nuwe RX nie minder nie as tien lugsakke, wat tweefase-dubbelkamerlugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, kussinglugsak vir die voorste passasier, knielugsak vir die bestuurder, gordynlugsakke en kantlugsakke vir die agterste sitplekke insluit.
Die rompstruktuur van die nuwe RX sluit groter gebruik van hoësterkte en warmgeperste staal tot 980Mpa-sterkte in, ’n nuwe boumetode vir die deuromhulsels en ’n ligte hoësterkte aluminium-versterking vir die agterste buffer in.
Die rembeheerstelsel is omvattend, met die elektroniese veiligheidseienskappe van sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling, remhulp, kloubeheer, gevorderde voertuigstabiliteitsbeheer en wegtrekhulp in.

SPLINTERNUWE RX BETREE WEELDE-SPORTNUTSSEGMENT MET SKITTERENDE PRYSE

Die nuwe Lexus RX het ten spyte van sy omvattende standaardtoerusting, splinternuwe binneruim- en rompstileringspakket en gevorderde weelde-, gemak- en veiligheidseienskappe steeds ’n mededingende prys.
Die RX 350 EX kos R799 000 en sluit die volgende standaard-toerusting in:

  • Elektries verstelbare voorsitplekke wat in 10 rigtings kan verstel
  • Leerbekleedsel
  • Lasergesnyde ornamentasie
  • Klankstelsel met 12 luidsprekers en DAB+ digitale radio
  • Verhitte en lugverkoelde voorsitplekke
  • Kabellose laaier
  • 20”-allooisierwiele met soniese titaan-kleurinsette
  • Elektriese werking vir agterste laaideur
  • Ligdiode-kopligte
  • Outomatiese agtgang-transmissie
  • Driemodus-Drive Mode Select
  • 3”-hoëdefinisie-vertoonskerm met satelliet-navigasie
  • Elektries verstelbare stuurkolom
  • Elektrochromatiese binne-truspieël
  • Reënsensor vir die ruitveërs
  • Outomaties verhitte deurspieëls
  • Banddrukmonitor
  • Privaatheidsglas agter
  • Trukamera met gidsmonitor
  • Blindekolmonitor met dwarsverkeerwaarskuwing
  • Hoogte- en truratparkeersensor
  • Slimtoegang en -aansitter
  • Spoedbeheer
  • Elektroniese parkeerrem
  • Elektriese skuifdak
  • Sleepvermoë van 2 000kg (sleepwa met remme)
  • Volgrootte allooi-spaarwiel
  • Instandhoudingsplan – Lexus Distance Plan Plus

Die Lexus RX 450h SE van R999 000 bou voort op die RX 350 EX-spesifikasie en kry die volgende by:

  • Unieke SE kroonblaargestileerde allooisierwiele
  • Drievoudige ligdiode-kopligsamestelle met ingeboude wassers
  • Sekwensiële ligdiode-rigtingwysers wat saam met dagligryligte werk
  • Mark Levinson-klankstelsel met 15 luidsprekers
  • Verhitte stuurwiel
  • Weerkaatskerm (HUD)
  • Gevorderde veiligheidspakket – geïntegreerde voertuigdinamikabeheer
  • Instandhoudingsplan – volledige Lexus Distance Plan

Posted on by jonckie

Comments Off on Splinternuwe Lexus RX maak sy Suid-Afrikaanse buiging