Poulter nou 4de algeheel in Dakar 2016

devilliers1_1800x1800

Die 2016-Dakar-deelnemers het Woensdag 6 Januarie Sneltrajek 4 aangedurf terwyl die diensspanne en ondersteunende personeel na Tajita in Bolivia verskuif het. Die marathon-sneltrajek, wat ’n sirkelroete van 429 km teen hoogtes tot 4 000 meter bo seevlak behels, was ook ’n marathon-sneltrajek, wat beteken dat die spanne Donderdag 7 Januarie se vyfde sneltrajek sonder enige tegniese steun tussenin moet aanpak. Sneltrajek 4 was ’n strawwe uitdaging vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan, veral wat die groot hoogtes bo seevlak betref.

Die beste Toyota Hilux in Sneltrajek 4 was dié van Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, wat die sesde vinnigste tyd van die dag opgestel het. Hulle was egter net ses minute stadiger as die sneltrajekwenner, die voormalige Dakar-wenner Stephane Peterhansel (Peugeot), wat die marathon-afstand in 03:42:42 voltooi het.

Die sneltrajek het vir Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in die tweede Toyota Gazoo Racing SA-Hilux jaag, met ’n effense navigasiefout afgeskop. Hulle het vroeg sowat twee minute verloor, maar voortgejaag om hul posisie te behou en die sewende vinnigste tyd in die proses op te stel. Hulle was uiteindelik net 16 sekondes agter hul spanmaats Al Raji/Gottschalk.

Toyota se Dakar-veterane Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het die dag as die algehele naasvoorlopers begin nadat hulle ’n goeie dag in Sneltrajek 3 in die kajuit van hul Toyota Hilux gehad het. Hulle het teen hul eie pas gejaag en sowat agt minute 34 sekondes teenoor die sneltrajekwenners afgestaan. Dit het hulle tot sesde algeheel laat terugval, maar hulle is vol vertroue om in die twee weke lange ren daarop te verbeter.

Aangesien Sneltrajek 4 as marathon-sneltrajek geklassifiseer is, was die terugvoer van die renjaers beperk. Om sake nog verder te bemoeilik, mag nie eens die bemanning self oornag aan hul voertuie werk nie, en die deelnemers moet Sneltrajek 5 aandurf met die vertroue dat hul renmotors steeds goed genoeg is om die 327 km tot die groot hoogtes by Uyuni in Bolivia kaf te draf.

Sneltrajek 5 is ook die begin van drie sneltrajekte in Bolivia, wat almal teen baie groot hoogtes bo seevlak is, voordat die Dakar-brigade op 9 Januarie na Argentinië terugkeer. Die terugkeer na Argentinië beteken egter nie dat die ren enigsins makliker word nie. Verskeie sneltrajekte wat die deelnemers hare op hul tande sal gee, waaronder die gedugte Sneltrajek 10 met sy vreesaanjaende sandduine in en om Fiambalá, wag op die jaers.

Die 2016-Dakar sluit op 16 Januarie af wanneer Sneltrajek 13 in die Argentynse stad Rosario eindig.

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter nou 4de algeheel in Dakar 2016