Poulter loop oorwinning in snaltrajek op Dakar net-net mis

130116_poulter2_880x500

VILLA CARLOS PAZ, ARGENTINIË – ’n Ongelooflike vertoning deur die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319) wat op die stophorlosie vir bykans vyf ure los voor die hele renveld was maar net-net nie hul eerste sneltrajekoorwinning kon deurvoer nie, het gister (Vrydag 15 Januarie) Sneltrajek 12 van die 2016-Dakar gekenmerk.

Poulter-hulle het die voortou van die eerste navigasiepunt in die sneltrajek oor 481 kilometer tussen San Juan en Villa Carlos Paz ingeneem, en tot ’n halfuur van die eindpunt af los voor gejaag.

Die sneltrajek is uiteindelik deur die MINI-jaer Miko Hirvonen gewen, met Nasser al-Attiyah (MINI) tweede, gevolg deur Poulter/Howie in die derde plek.

“Leeroy en Rob het ’n fantastiese sneltrajek gehad, en het hul vyfde plek algeheel suksesvol verdedig,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die oornagtentkamp by Villa Carlos Paz gesê. “Hulle was na ’n gewisse sneltrajek-oorwinning op pad, maar dit uiteindelik met ’n skrale 45 sekondes misgeloop – dít ná vyf en ’n half uur teen volspoed met die voet in die hoek! Die spanning het soos statiese elektrisiteit opgehou waar die ondersteuningspan hul vordering in die tentkamp (op rekenaarskerms) dopgehou en gesien het hoe Leeroy en Rob hul voorsprong by elke navigasiepunt vergroot het.”

Hul triomfantlike stormlopie is egter kortgeknip toe hulle hul spanmaats Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (#301), wat in ’n stryd van hul eie betrokke was, ingehaal het.

Poulter/Howie het in ’n skerp draai in die stof van die pad af gery.

Hulle het twee minute verloor om die Toyota Hilux uit die sloot waarin hulle beland het, te kry. Hulle was tot ná die laaste navigasiepunt los voor en het amper hul eerste sneltrajekoorwinning beklink.

In die opwinding van Poulter/Howie se skitterende vertoning was dit maklik om die ewe puik vertoning van die manne in motor nommer 301 mis te kyk. De Villiers/Von Zitzewitz het vir die grootste deel van die ren in die tweede plek gejaag, en was uiteindelik net 57 sekondes agter die sneltrajekwenners oor die wenstreep.

Dit was goed genoeg vir die vierde plek in die sneltrajek, maar wat nog belangriker is, is dat dit hul derde plek algeheel verstewig het.

“Ons het van die 250km-merk af in Nani Roma (MINI) se stof gejaag en was die res van die roete daar vasgevang,” het De Villiers verduidelik nadat hulle die bykans oneindige lang sneltrajek voltooi het. “Ons het in die geheel ’n puik lopie gehad, en die Hilux het kilometer vir kilometer soos klokslag geloop.”

Vir Hall was die betroubaarheid van die Toyota Hilux regdeur die 2016-Dakar van oorwegende belang, en soos in vorige jare het die Suid-Afrikaans geboude voertuie nie teleur gestel nie.

“Ons langste veldtydrenne in Suid-Afrika is aansienlik korter as vandag se sneltrajek, dus het ons die voertuie harder en verder as in enige van die byeenkomste in ons plaaslike kampioenskap gedruk. Die goeie nuus is dat ons nie ’n enkele meganiese onklaarraking gehad het nie, en al het ons nog ’n korterige sneltrajek om more (Saterdag 16 Januarie) te voltooi, is ons vol vertroue wat ons motors betref.”

Die derde motor in die Toyota Gazoo Racing SA-renspan, die Toyota Hilux van Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305), het die elfde beste tyd opgestel ‒ elf minute en 50 sekondes agter die sneltrajekwenners.

Hulle het gespook om tyd in die dik stof van stadiger deelnemers voor hulle op te maak, maar daarin geslaag om hul tiende posisie algeheel te behou.

“Ons is in die geheel baie trots op alles wat ons vanjaar bereik het,” het Hall gesê. “Ons het die grootste spelers in hierdie sportsoort aangedurf en ons as waardige mededingers bewys. Leeroy en Rob se vertoning vandag het die feit beklemtoon dat ons die vermoë in die span het, en dit was ’n groot teleurstelling dat ons nie die sneltrajek kon wen nie.”

Die 2016-Dakar is nog lank nie verby nie weens die moontlikheid van ’n tydboete wat nog oor die kop van die voorjaer Stephane Peterhansel (Peugeot) hang. Dit sal mettertyd deur die motorsportbeheerliggaam FIA beslis word, en die stand van sake kan moontlik binne enkele dae ná die ren se afsluitingseremonie Saterdag 16 Januarie verander. Wat die 2016-Dakar-ren se sneltrajekte betref, is daar nog net Sneltrajek 13 oor 180 kilometer met ’n ooppadgedeelte van altesaam 519 km wat die deelnemers tot by die eindpunt in Rosario sal bring.

Die tradisionele wenvlagseremonie sal op die oewer van die Paraña-rivier, waar die 2014-ren begin het, gehou word.

Dit sal die 2016-ren, wat oor 9 597 km deur Argentinië en Bolivia getsrek het – sonder twyfel die wêreld se moeilikste motorsportbyeenkoms – amptelik afsluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter loop oorwinning in snaltrajek op Dakar net-net mis