Kragvertoning deur Yazeed vir Toyota Gazoo Racing

12465868_1043256625733644_5344045457205746628_o

UYUNI, BOLIVIA – Dit was nog ’n dunlug-sneltrajek toe die 2016-deelnemers gister (Vrydag 8 Januarie) die gedugte Sneltrajek 6 oor ’n afstand van 542 kilometer aangedurf het. Wat die Toyota Gazoo Racing SA-renspan betref, was dit ’n uitdaging om teen die uiterste hoogtes van Bolivia se hoë plato’s by die turbo-aangejaagde motors in die renveld kers vas te hou. Nogtans het Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305), bewys dat die Toyota Hilux op enige hoogte steeds mededingend kan wees.

Yazeed, wat die vorige dag weens hoogtesiekte lamgelê is, het Vrydag met mening teruggeveg en die derde vinnigste tyd in Sneltrajek 6 losgejaag. Hy was net sewe minute en 19 sekondes stadiger as die sneltrajek-wenner, Stephane Peterhansel (Peugeot), en het hard teruggeveg nadat hy aansienlik tyd in Sneltrajek 5 verloor het.

“Dit is jammer dat ek die vorige twee dae so sleg gevoel het,” het Yazeed by die oornagtentkamp in Uyuni gesê. “Ek voel nou baie beter, die Hilux is fantasties, en ons is reg om die jaers voor ons die stryd aan te sê.”

Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301), het ’n bestendige pas in Sneltrajek 6 gehandhaaf hoewel hulle tyd verloor het toe hulle stilgehou het om hul Toyota Gazoo Racing SA-spanmaats Leeroy Poulter en Rob Howie langs die pad te help. De Villiers/Von Zitzewitz is nou vyfde algeheel.

Poulter/Howie (#319) het die dag in die vyfde posisie algeheel begin, maar op ’n draai vroeg in die sneltrajek effens wyd gedraai. Hul Toyota Hilux het ’n heining getref en een van die heiningpale uit die grond geruk.

Die paal, wat nog aan die draad vas was, het om die motor gesweepslag en ’n gat in die windskerm reg voor Howie geslaan, maar gelukkig is niemand beseer nie.

Poulter-hulle het met die stukkende windskerm voortgesukkel, maar stadig maar seker tyd verloor. Hulle het egter hard probeer, maar is by die 450-kilometer-merk deur ’n knap regsdraai uitgevang. Die motor het ’n grondwal aan die buitekant van die draai getref en stadig op sy sy omgekantel.

Poulter en Howie het uitgespring en ’n sleeptou reggekry, en De Villiers voorgekeer toe hy daar aankom. Die Hilux was binne oomblikke terug op sy wiele, en hulle het sonder verdere voorval tot by die eindpunt voortgejaag. Poulter-hulle het 23 minute 37 sekondes teenoor die sneltrajekwenners verloor, en is nou sewende algeheel.

“Dit is gerusstellend om al drie ons motors onder die voorste tien te hê,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die oornaghalte naby Uyuni in Bolivia gesê. “Ons is vol vertroue noudat ons weer na die laer gebiede op pad is, en sal in die tweede helfte van die ren gewis hard druk.”

Wat die Overdrive Toyota-jaer Bernhard ten Brinke en sy navigator, Tom Colsoul, betref, was het die Dakar in Sneltrajek 6 in ’n nagmerrie verander. Dié twee, wat die voorren op 2 Januarie gewen het, het ’n pap wiel net 15 km voor die einde van die sneltrajek opgedoen. Hulle het stilgehou en die wiel geruil, en die beskadigde wiel in die ruimte onder die kajuit waar een van die spaarwiele geberg word, teruggesit. Die band het egter sonder hul medewete aan die brand geraak nadat dit pap geword het, en die motor aan die brand laat raak. Die Toyota Hilux is geheel en al in die daaropvolgende brand vernietig, maar die bemanning het ongedeerd daarvan afgekom.

Die Dakar keer ná twee dae in Bolivia terug na die laeveld in Argentinië vir Sneltrajek 7, hoewel die eerste deel van die skof steeds hoog bo seevlak in Bolivia is.

Die deelnemers sal altesaam 336 km se sneltrajek-afstand aflê, maar het ook nog ’n ooppadgedeelte van 481 km om te ry benewens die formaliteite wat by die grenspos afgehandel moet word. Dit gaan weer ’n lang dag in die kajuit wees, maar Sneltrajek 7 word deur Sondag se rusdag in Salta gevolg, wat ná die erge toestande in Bolivia deur ’n ieder en ’n elk verwelkom sal word.

Sneltrajek 7 is ook die begin van die 2016-Dakar se trek suidwaarts, en is ook die halfpadmerk in die ren wat uit 13 sneltrajekte bestaan. Alles kom op 16 Januarie tot ’n hoogtepunt wanneer die ren in Rosario in Argentinië eindig.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kragvertoning deur Yazeed vir Toyota Gazoo Racing