Goeie begin vir Toyota Gazoo Racing SA-jaers nadat Dakar 2016 hervat

dakar 2016 drivers

Sneltrajek 2 van die 2016-Dakar-veldtydren is gister (4 Januarie) ten spyte van nog dreigende swaar reën tussen Villa Carlos Paz en Termas de Río Hondo in hoofsaaklik sonnige en warm toestande hervat. Die sneltrajek is egter met 134 kilometer verkort ten einde ’n oorstroomde gedeelte van die roete te vermy, maar dit was nogtans ’n stewige uitdaging vir die 110 motors wat op die wegspringstreep aangetree het. Onder hulle was die Toyota Gazoo Racing SA-jaers Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (#301), wat deurgedruk en ’n bestendige vierde plek vir die dag aangeteken het.

Die sterjaer vir die dag was egter hul spanmaat Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in die 23e posisie weggespring het nadat hulle in die voorren agter ’n stadiger jaer in die stof gesit het. Die Dakar-reëls bepaal dat die voorste tien deelnemers met stofgapings van drie minute uitmekaar wegspring, waarna die volgende tien motors elke twee minute wegtrek. Daarna is die gaping gap net een minuut, wat beteken Poulter/Howie se wegspringposisies het hulle in die middel van die stadiger deelnemers se stof geplaas.

“Hulle het egter uitgehaal so wat hulle kon,” het die verligte spanhoof, Glyn Hall, by die oornagtentkamp by Termas de Río Hondo gesê. “Hulle het ’n string stadiger deelnemers verbygesteek en ’n baie goeie sneltrajektyd opgestel, wat hulle Dinsdag in die sesde plek sal laat wegspring.”

Die derde Toyota Gazoo Racing SA Hilux met Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, het egter ’n frustrerende tydjie in Sneltrajek 2 beleef.

Hulle het die oggend in die 20e posisie weggespring, en hoewel hulle aansienlik daarop verbeter het, wonder hulle wat die uiteinde kon gewees het as hulle nie vroeg in die sneltrajek in die stof van stadiger motors vasgevang was nie.

Gister se sneltrajek is een wat die voormalige wenners Nani Roma (MINI) en sy spanmaat Orlando Terranova sal wil vergeet. Al twee motors het aansienlik tyd weens water en modder verloor, maar nogtans daarin geslaag om die sneltrajek te voltooi. Carlos Sainz (Peugeot) het ook heelwat tyd verloor, en was uiteindelik meer as 11 minute agter die sneltrajekwenner. De Villiers en Von Zitzewitz was amper ook slagoffers van dieselfde diep modderbad, maar De Villiers het vinnig gedink en sy voertuig na die bank aan die kant gemik en deur ’n droë, oop veld gejaag. Hulle het heelwat minder tyd daar verloor, wat gehelp het om hul posisie naby die voorjaers te behou.

Die sneltrajek is deur die voormalige veelvuldige WRC-tydrenkampioen Sebastien Loeb en sy navigator, Daniel Elena (Peugeot), gewen, gevolg deur hul spanmaat Stephane Peterhansel in die tweede plek. Die Russiese jaer Vladimir Vasilyev (Toyota Hilux) het die derde vinnigste tyd van die dag aangeteken en was 2:28 agter die voorloper. De Villiers se sneltrajektyd was 3:31 stadiger as Loeb, maar goed genoeg vir die vierde plek.

Hoewel dit nog vroeg is en nog net die voorren en Sneltrajek 2 ’n rol in die stand van die deelnemers gespeel het, is Loeb voor in die ren, met Peterhansel tweede en Vasilyev derde. Altesaam vyf Toyota Hilux-renvoertuie is op die oomblik onder die voorste tien.

“Giniel was tot 40 kilometer voor die einde stewig op pad na ’n podiumposisie,” het Hall verduidelik. “’n Aantal waarskuwingsligte op die voorpaneel het egter aangeskakel en hy het besluit om dit rustig te vat. Ons sal vanaand ’n paar veranderings aanbring, want die waarskuwings was niks ernstig nie,” het Hall gistermiddag gesê.

Ander Suid-Afrikaanse deelnemers het ook hul merk in die ren gemaak, en die vierwielmotorfietsjaer Brian Baragwanath was die tweede vinnigste in Sneltrajek 2.

In die afdeling vir motors het Sean Reitz (Nissan) en Colin Matthews (Century) ook hul Dakar uiteindelik begin nadat die voorren op 2 Januarie gestaak is voordat hulle weggespring het.

Die volgende sneltrajek neem die Dakar-brigade van Termas do Río Hondo na Jujuy in Argentinië. Die wegspring van Sneltrajek 3 is aan die suidelike punt van die roete en behels onherbergsame terrein met tydrenagtige skerp draaie, wat selfs nog meer ratwisselings as die 1 522 wat De Villiers in Sneltrajek 2 gedoen het, sal verg. Die sneltrajek self is 314 km lank, met ’n bykomende 349 km se ooppadgedeelte ná die eindpunt.

Altesaam elf sneltrajekte wag nog op die jaers namate die Dakar-veldtydren koers kry na Bolivia voordat die roete na Argentinië terugdraai. Die 2016-ren eindig op 16 Januarie in Rosario in Argentinië.

Posted on by jonckie

Comments Off on Goeie begin vir Toyota Gazoo Racing SA-jaers nadat Dakar 2016 hervat