De Villiers skuif op na tweede in Dakar 2016

Giniel

Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het hard deur Sneltrajek 3 van die 2016-Dakar-ren gejaag en tot tweede algeheel opgeskuif. Die sneltrajek, wat Dinsdag 5 Januarie beslis is, het die deelnemers van Termas de Río Hondo na die dorpie Jujuy in die noorde van Argentinië geneem. Swaar reën het weer ’n rol gespeel, maar vir De Villiers/Von Zitzewitz (#301) was dit hoofsaaklik ’n skoon lopie.

“Ons het sowat 30 kilometer voor die einde ’n lekband opgedoen wat stadig pap geword het,” het De Villiers by die eindpunt van dié sneltrajek gesê. “Ons het besluit om nié die wiel te ruil nie en deur te druk, maar het as gevolg daarvan sowat 25 sekondes verloor. Die band was sowat tien kilometer voor die einde heeltemal pap, wat ons nogal besig gehou het. As dit nie daarvoor was nie, sou ons maklik in die derde posisie vir die dag geëindig het.”

Op die ou einde was De Villiers se tyd egter goed genoeg vir ’n vierde plek in Sneltrajek 3 ‒ net twee minute en twee sekondes agter die sneltrajekwenner, Sebastien Loeb (Peugeot).

Die sneltrajek het vir Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319), oortuigend afgeskop. Hulle was die tweede vinnigste by die eerste kontrolepunt en net vier sekondes agter Loeb. Maar toe het die reën behoorlik uitgesak, en hoewel dit reeds halfpad deur die sneltrajek was, het Poulter met die oog op die res van die ren wat nog voorlê, die voet effens gelig en as voorsorgsmaatreël effens versigtiger gejaag. Hulle was aan die einde van die 190 kilometer van Sneltrajek 3 die sewende vinnigste deur die sneltrajek, maar net drie minute en drie sekondes agter die sneltrajek-wenners. Dit het hulle egter een posisie ‒ van vyfde tot sesde – in die algehele stand van sake laat terugsak.

Intussen het die derde lid van die span, Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, hul sneltrajek in die 13e wegspringposisie begin. Hulle is die vorige dag met vyf minute beboet nadat hulle te vinnig in ’n beperkte sone in Sneltrajek 2 gery het. Hulle het egter ’n bestendige ren gehad en hul algehele posisie tot negende verbeter danksy ’n sneltrajektyd wat net 4:54 stadiger as dié van die wenners was.

Dit was egter ’n fantastiese dag vir die Suid-Afrikaanse vierwielmotorfietsjaer Brian Baragwanath, wat sy afdeling in Sneltrajek 3 van die 2016-Dakar met ’n gaping van vier sekondes gewen het nadat hy die vorige dag tweede in Sneltrajek 2 was. Hy is steeds tweede algeheel, maar het homself duidelik as sterk aanspraakmaker in vanjaar se ren gevestig.

Die ren sit Woensdag 6 Januarie sy pad noordwaarts tot in Bolivia voort met die sogenaamde marathon-sneltrajek wat noord van Jujuy beslis word. Sneltrajek 4, wat ’n renafstand van 429 km behels, moet sonder enige steun of hulp van die tegniese spanne by die oornaghalte geskied, wat die deelnemers dus dwing om twee agtereenvolgende Dakar-sneltrajekte sonder die hulp van ’n diensspan tussenin af te lê.

“Dit plaas uit die aard van die saak groot druk op ons,” het die spanhoof, Glyn Hall, by die oornagtentkamp in Jujuy gesê. “Die Toyota-Hilux het gelukkig al bewys hoe betroubaar hy werklik is, maar ons kan steeds geen kanse waag nie en dit sal dus ’n lang nag wees waarin die tegnici die voertuie op die marathon-gedeelte sal voorberei.”

Die gebrek aan tegniese steun sal egter nie die enigste kopsorg vir Sneltrajek 4 wees nie. Dit is ook die eerste van ’n aantal sneltrajekte wat hoog bo seevlak beslis word, en hoewel Sneltrajek 4 se hoogste punt ‒ 4 050 meter bo seespieël ‒ nie so erg is as dié van die sneltrajekte wat in Bolivia op die deelnemers wag nie, sal dit gewis ’n invloed op die verrigting van die turbolose V8-petrolenjins van die drie Toyota Gazoo Racing SA-Hilux-renvoertuie hê.

Die deelnemers sal ná die marathon-sneltrajek in Jujuy oornag voordat hulle die grens na Bolivia vir die begin van Sneltrajek 5 oorsteek. Dit sal die begin van drie sneltrajekte in Bolivia wees voordat die Dakar-ren vir die rusdag na Salta in Argentinië sal terugkeer. Die ren eindig op 16 Januarie in die Argentynse stad Rosario.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers skuif op na tweede in Dakar 2016