De Villiers skuif op na 3de algeheel terwyl Dakar 2016 sy tande wys

120116_giniel2_880x500

LA RIOJA, ARGENTINIË – Sneltrajek 10 van die 2016-Dakar het die vreesaanjaende sandduine van die Catamarca naby die dorp Fiambalá behoorlik laat geld toe ’n string van die topspanne onder die genadelose Suid-Amerikaanse son gestruikel het. Die Dakar-gode het egter gister (13 Januarie) in die geval van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan ’n wisselvallige dag gehad, hoewel Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301) daarin geslaag het om tot derde algeheel op te skuif.

Dié twee Hilux-jaers het egter halfpad deur die sneltrajek ’n dryfas-probleem opgedoen en besluit om dit te vervang, wat hulle nege minute gekos het. Hulle het later ook nog vier minute verloor deurdat hulle pad moes maak nadat Carlos Sainz (Peugeot) uitgeval het.

“Ten spyte daarvan is ons baie tevrede dat ons tot derde algeheel opgeskuif het,” het De Villiers gesê nadat hulle by die oornag-tentkamp in La Rioja aangekom het. “Ons het egter nog meer as 1 000 kilometer oor, dus kan enigiets nog gebeur. Ons moet nou vir die oomblik gefokus bly en teen ’n goeie pas voortbeur.”

De Villiers/Von Zitzewitz het buiten die dryfas geen probleme met hul Toyota Hilux gehad nie. Volgens Von Zitzewitz het die motor gister baie goed geloop. “Die Hilux was lekker sterk in die duine, en ons is baie tevrede met die verrigting.”

Dit was ’n besondere goeie dag vir die Duitse navigator aangesien baie van hul sukses aan die gehalte van sy navigasiewerk toegeskryf kan word. Alles het in gister se sneltrajek vir Von Zitzewitz gewerk, en hy het sy teenstanders aan die begin van die roete behoorlik uitgestof.

Toe De Villiers later die pad moes “vee” omdat hulle alleen voor gejaag het, het die onus van foutlose navigasie vierkantig op die skouers van Von Zitzewitz gerus, maar hy het die bykomende druk met algehele selfvertroue hanteer.

“Ek is baie tevrede met Giniel en Dirk se vertoning vandag,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê nadat motor #301 aan die einde van Sneltrajek 10 by La Rioja aangekom het. “Hulle het goed gejaag, en dit is indrukwekkend hoe vinnig hulle die dryfas vervang het. Al die opleiding en oefening voor die byeenkoms was dus die moeite werd, en hul navigasiewerk was behoorlik in die kol.”

Hul spanmaats Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319), het vroeg in Sneltrajek 10 bykans ’n halfuur verloor, maar daarna daarin geslaag om hul tydverlies te beperk. Hulle het gisteroggend in die elfde posisie op die pad weggespring, en die negende vinnigste tyd van die dag opgestel ‒ 34:32 agter die sneltrajek-wenner Stephane Peterhansel (Peugeot). Hulle is nou vyfde algeheel ‒ net tien minute agter die MINI-jaer Miko Hirvonen, en met nog drie sneltrajekte oor sal hulle hard moet jaag om nog ’n plek op te skuif.

Die vreesaanjaende sandduine by Fiambalá het gister behoorlik onder sommige van die ander topspanne gemaai. Nasser al-Attiyah het sy MINI vroeg in die sneltrajek gerol, maar herstel en sy tydverlies tot 52 minute beperk. Dit het hom sy tweede plek algeheel laat behou, maar hy is nou onder groot druk van De Villiers/Von Zitzewitz van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan met net 12 minute wat die twee spanne van mekaar skei.

Die Nederlandse jaer Erik van Loon was nog ’n slagoffer van die duine toe hy sy MINI gerol en heeltemal uitgeval het, terwyl die voormalige Dakar-wenner Carlos Sainz se Peugeot nie die sneltrajek voltooi het nie. Nog ’n slagoffer in Fiambalá was die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305), wie se Toyota Hilux vroeg in die sneltrajek ’n wiel verloor het.

Die motor is só erg beskadig dat hulle noodgedwonge vir hulp van die T4-vragmotor moes wag. Dit is ’n voertuig wat afsonderlik ingeskryf word en op dieselfde roete as die motors jaag, maar onderdele vervoer en tegnici het wat opgelei is om noodherstelwerk diep in die sneltrajek te doen.

“Yazeed het ’n baie teleurstellende dag gehad,” het Hall verduidelik. “Hy het ure verloor terwyl hulle vir die ondersteuningsvragmotor moes wag, en is nou ver buite bereik.”

Vanjaar se Dakar-veldtydren behels nog drie sneltrajekte, en Sneltrajek 11 op Donderdag 14 Januarie neem die deelnemers met ’n renafstand van 431 kilometer na die Argentynse dorpie San Juan, waarna ’n ooppadgedeelte van 281 km volg. Die sneltrajek behels sand, sand en nogmaals sand, waaronder die sogenaamde fesh-fesh, ’n fyn stofpoeier wat die jaers se sig gewoonlik erg beperk. Dit is die laaste off-piste-sneltrajek van die 2016-Dakar waar die renveld bloot van navigasiepunt tot navigasiepunt sonder ’n bestaande roete jaag en self hul pad moet vind. Daarna verander die roete terug na tydrenpaaie tot by die einde.

Die ren eindig Saterdag 16 Januarie in Rosario in Argentinië.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers skuif op na 3de algeheel terwyl Dakar 2016 sy tande wys