De Villiers op Podium, Poulter neem 5de en Yazeed 11de in Dakar 2016

dakar 1

ROSARIO, ARGENTINIË – Die dertiende en laaste sneltrajek van die 2016-Dakar-veldtydren was dalk net 180 kilometer lank, maar wat dit in afstand kortgeskiet het, is deur naelbytspanning vervang. Sneltrajek 13 was vir die Toyota Gazoo Racing SA die laaste uitdaging wat die Dakar-veterane Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301), van ’n plekkie op die wenverhoog kon beroof. Die veelvuldige wêreldtydrenwenner Miko Hirvonen (MINI) het gedoen wat hy kon om hulle hul plek op die podium te ontneem, maar die Toyota-veterane het vasgebyt en die derde plek beklink deur net oor die drie minute agyter die sneltrajekwenner Sebastien Loeb (Peugeot) te eindig.

“Ons het geweet Miko sou so vinnig in die sneltrajek wees,” het ’n oorstelpte De Villiers by die eindpunt in Rosario gesê. “Die sneltrajek het ’n paar dele gehad waarmee hy weens sy deelname aan WRC-renne in Argentinië vertoud sou wees, dus het ons hard maar veilig gejaag en dinge netjies gehou. Dit was uiteindelik goed genoeg om voor die Finlander te bly.”

Hirvonen het hard probeer en aanvanklik tyd teenoor De Villiers/Von Zitzewitz ingehaal, maar die Suid-Afrikaanse jaer het daarin geslaag om sy derde plek suksesvol te verdedig en selfs die gaping teenoor Hirvonen aan die einde van die sneltrajek te vergroot.

Dit was De Villiers/Von Zitzewitz se tweede agtereenvolgende podiumposisie nadat hulle verlede jaar as naaswenners uit die stryd getree het. De Villiers-hulle het sedert hul skuif na die Toyota Hilux tweede in 2012, derde in 2013, vierde in 2014 en weer tweede in 2015 geëindig, en nou derde.

“Dit is duidelike bewys van waartoe die Toyota Hilux in staat is en dat hy op die hoogste vlak kan meeding,” het die spanhoof, Glyn Hall, aan die einde van die ren wat uiteindelik 9 597 kilometer lank was, gesê.

“Dis nie al nie ‒ dit beklemtoon ook die feit dat ons ’n uiters bestendige span in Giniel en Dirk het, en vanjaar se uitslag is nog ’n skitterende prestasie.”

Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319), wat in die tweede Toyota Gazoo Racing SA-Hilux gejaag het, was vyfde in die laaste sneltrajek en het ’n stormende Nani Roma (MINI) agter hulle gehou. Hulle het hul vyfde plek algeheel behou ‒ Poulter se beste vertoning nog nadat hy in sy eerste Dakar-ren in 2014 33e was en verlede jaar in die 16e plek geëindig het.

“Ons is baie tevrede met vanjaar se ren,” het Poulter opgewonde vertel nadat hy sy Toyota Hilux Saterdag 16 Januarie oor die eindpunt-verhoog op die oewer van die Paraña-rivier in Rosario gery het. “Die enigste werklike teleurstelling was dat ons uiteindelik nié Sneltrajek 12 gewen het nie, maar daarbenewens het ons oorgenoeg rede om tevrede te wees.”

Hulle was meer as vyf uur lank los voor in die moordende Sneltrajek 12 en het hul eerste sneltrajekoorwinning net-net misgeloop as gevolg van ’n skerp draai wat in die stof van ’n stadiger voertuig voor hulle versteek is.

Die 2016-Dakar het vir Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, wat in die derde Toyota Gazoo Racing SA-Toyota Hilux gejaag het, meer uitdagings ingehou as wat hulle verwag het. Hulle het in die 2015-ren ’n opskudding met hul rou talent en spoed veroorsaak toe hulle derde algeheel was totdat hulle kort voor die einde in Sneltrajek 11 van verlede jaar se Dakar-ren uitgeval het. Vanjaar het hulle weer gewys hulle is ’n span waarmee rekening gehou moet word, maar het ure se tyd in Sneltrajek 10 verloor nadat ’n wiel van hul Toyota Hilux afgebreek en dit hulle heeltemal buite bereik geplaas het.

“Yazeed het nogtans skitterende sneltrajektye vroeg in die ren opgestel en was derde vinnigste in Sneltrajek 6. Hulle het later besluit om in die laaste twee sneltrajekte meer beskeie te jaag en ’n gesonde elfde plek algeheel te verseker,” het Hall die Saoediese jaer se ren beskryf.

Die 2016-Dakar het op 2 Januarie met ’n voorren afgeskop, waarna die deelnemers die daaropvolgende twee weke bykans 10 000 km afgelê het.

Die opgekikkerde Peugeot-span het aanvanklik onkeerbaar gelyk, maar toe die ren Saterdag 16 Januarie ten einde loop, was daar net een Peugeot (die wenner, Stéphane Peterhansel) onder die voorste drie jaers op die wenverhoog, met die MINI-jaer Nasser Al-Attiyah in die tweede plek. Die voorste drie is deur De Villiers/Von Zitzewitz in hul Toyota Hilux afgerond.

Poulter/Howie was vyfde ‒ 25 minute agter Hirvonen, ’n voormalige WRC-wenner. Dit was ’n treffende vertoning deur die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioene.

“Die feit dat al drie ons fabrieksingeskrewe Toyota Hilux-renvoertuie die ren voltooi het, is fantasies,” het Hall gesê. “Maar om twee van hulle onder die voorste vyf en Yazeed in die elfde posisie algeheel te hê, is ’n puik prestasie. Ons het alle rede om trots te wees op die motor en die manne wat hulle so fantasties bestuur het.”

Die Toyota Gazoo Racing SA-Hilux is by Toyota Motorsport se werkswinkel by Hallspeed naby die Kyalami-renbaan in Midrand, Suid-Afrika, ontwerp en gebou. Bykans identiese weergawes van hierdie voertuie word ook in die Suid-Afrikaanse Veldtydrenkampioenskap gebruik, waar hulle die reeks die afgelope vier jaar geheel en al oorheers het.

Dakar 2

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers op Podium, Poulter neem 5de en Yazeed 11de in Dakar 2016