De Villiers in puik posisie vir 1ste snaeltrajek van Dakar 2016

Capture

ROSARIO, ARGENTINIË – Dakar 2016 is aan die gang! Die Toyota Gazoo Racing SA-renspan het vandag (Saterdag 2 Januarie) die seremoniële wegspring in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, afgelê voordat hulle aan die voorren oor 11 kilometer deelgeneem het. Die voorren word gebruik om die wegspringposisies vir Sondag se Sneltrajek 1 te bepaal, en vir die Dakar-veteraan Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, kon dit skaars beter gegaan het.

“Hierdie kort sneltrajekte is moeilik,” het De Villiers by die tentkamp in Rosario gesê nadat hy hul Toyota Hilux veilig oor die eindstreep gestuur het. “As jy te hard jaag, kan jy die ren verloor nog voordat dit werklik begin. ’n Mens moet terselfdertyd ook seker maak dat jy nie te veel tyd teenoor die voorste motors afstaan nie. Vir my sou enige plek onder die voorste tien ideaal wees.”

Op die ou einde het die ster-jaer van Stellenbosch die agtste vinniogste tyd van die dag aangeteken ‒ net nege sekondes swatdiger as die sneltrajek-wenner, Bernhard ten Brinke van Nederland, wat ook in ’n Hilux jaag. Dit plaas De Villier-shulle in ’n perfekte posisie vir Sondag se eerste sneltrajek, aangesien die jaers voor hom sal help om die roete te “vee” en die pad te wys.

Die voorren het vir die Toyota Gazoo Racing-jaer Yazeed al Rajhi en Timo Gottschalk in motor #305, ’n Suid-Afrikaanse Toyota Hilux, in ’n minder goeie wegspringposisie geëindig. Hulle het tyd in ’n waterkruising naby die wegspringpunt verloor, en hoewel hulle tot die einde kon deurdruk, was hulle 21e ‒ 25 sekondes agter Ten Brinke.

Die grootste terugslag van die dag was egter toe die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, se Hilux skaars 2 km ná die wegspring agter die Brasilianer Guilherme Spinelli (Mitsubishi) gesit het.

Spinelli het iewers verkeerd afgedraai en net voor Poulter/Howie terug op die roete beland. Howie-hulle het tot aan die einde van die sneltrajek in die Mitsubishi se stof gesit en 29 sekondes in die proses verloor.

“Dit was ’n baie teleurstellende voorren,” het Poulter by die eindpunt gesê. “Ons kon soveel vinniger gewees het, maar dit is maar die Dakar, en sulke goed is alles deel van die ren. Dit gee ons egter baie ekstra werk vir die volgende paar dae, maar ons is steeds slaggereed en vol vertroue vir die pad vorentoe.”

Die spanhoof, Glyn Hall, was vol vertroue dat Poulter en Al Rajhi beter wegspringposisies sou kry: “Ons het alles gedoen wat ons kon om die jaers die beste moontlike kans te gee. Ongelukkig het die geluk in die voorren teen hulle gedraai, maar daar is nog 13 sneltrajekte.”

Die dag is ongelukkig deur die nuus van ’n ernstige ongeluk in die voorren bederf. Die nuus is nog skraps, maar dit blyk dat een van die jaers beheer verloor en deur toeskouers gejaag het. Die voorren is oomblik gestaak, wat beteken die Suid-Afrikaanse deelnemers Sean Reitz (Nissan) en Collin Matthews (Century) moet nog hul Dakar-veldtogte begin.

Die Suid-Afrikaanse vierwielmotorfietsjaer Brian Baragwanath, wat op ’n Yamaha ry, het die sewende vinnigste tyd onder die motorfietsjaers opgestel ‒ net elf sekondes stadiger as die sneltrajekwenner Ignacio Casale van Chile. Die motorfietsafdeling is gewen deur die Spaanse jaer Joan Bort Barreda.

Sneltrajek 1, wat volgende aan die beurt is, is ’n ware Dakar-uitdagfing. Dié sneltrajek behels 404 km se oop pad, en ’n stewige 662 km se sneltrajek-afstand. Hoewel die hoogste deel van die roete net 1 400 m bo seevlak is, sal die Andes-gebergtes in die agtergron d sigbaar word as waarskuwing van die dun lug wat op die deelnemers wag. Die sneltrajek behels ook ongelyke tweespoorpaadjies op die laaste gedeelte met ’n aantal oop, vinnige gedeeltes kort ná die wegspring.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers in puik posisie vir 1ste snaeltrajek van Dakar 2016