De Villiers behou 3de plek in sneltrajek 11 van Dakar 2016

120116_giniel3_880x500

SAN JUAN, ARGENTINIË – Die Dakar-veldrenbrigade het gister (Donderdag 14 Januarie) die laaste off-piste-gedeelte (waar die deelnemers hul eie roete tussen navigasiepunte volg) van die Argentynse dorpie La Rioja na San Juan afgelê namate die 2016-ren se uurglasie besig is om leeg te loop. Die roete oor 431 kilometer is deur baie as een van die moeilikstes in vanjaar se ren bestempel, en net om die eindpunt in een stuk te haal, was vanself ’n puik prestasie. Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301), het egter nie net hierdie moordende sneltrajek sonder enige skade aan hul Toyota Hilux voltooi nie, maar ook hul derde plek algeheel behou.

“Dit was nogtans alles behalwe maklik,” het De Villiers in die skroeiende hitte by die oornagtentkamp in San Juan gesê. “Ons het twee pap wiele gehad, en dit het ons meer as vyf minute gekos.”

Dit beteken De Villiers/Von Zitzewitz was uiteindelik net twaalf minute agter die sneltrajekwenner, Nasser Al-Attiyah (MINI), maar iets wat belangriker is, is dat hulle goed genoeg gedoen het om voor Miko Hirvonen (MINI), wat op die oomblik vierde is, te bly. Dié Finse jaer het vier minute 57 sekondes in Sneltrajek 11 opgeskuif, wat De Villiers-hulle onder groot druk vir die eindlopie plaas.

Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (#319), het nog ’n skoon lopie gehad en hul Toyota Hilux ongedeerd by die oornagtentkamp aangebring. Hulle het egter effens tyd in die sneltrajek verloor toe hulle aan die begin in die stof van ’n stadiger motor was en ’n afdraai gemis het. Hulle kon eers 3,5 kilometer verder omdraai om na die regte roete terug te keer.

“Die gevolg daarvan was dat Leeroy en Rob net meer as twintig minute agter die sneltrajekwenners by die eindpunt aangekom het,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Dit het hulle in die vyfde posisie algeheel geplaas, en hulle sal gewis in die laaste oorblywende twee sneltrajekte moet uithaal so wat hulle kan.”

Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305), het ’n triestige dag in die vorige sneltrajek (Sneltrajek 10) gehad, maar het gister hard teruggeveg en goed herstel. Hulle was aan die begin van die dag twaalfde algeheel, maar het ten spyte van die feit dat hulle aansienlik versigtiger as voorheen was, steeds die vyfde vinnigste tyd in Sneltrajek 11 opgestel en tot elfde opgeskuif.

Sneltrajek 12 ‒ die voorlaaste sneltrajek van die 2016-Dakar-ren ‒ is volgende aan die beurt. Die rengedeelte is 481 kilometer lank, gevolg deur ’n ooppadgedeelte van 450 km wat die deelnemers tot by Villa Carlos Paz sal neem. Dit maak Sneltrajek 12 met ’n algehele afstand van 931 km op een dag die langste van die byeenkoms. Die algehele afstand van die 2016-Dakar sal aan die einde van dié sneltrajek op 9 000 km te staan kom, waarna nog net die veel korter laaste sneltrajek tot in Rosario volg.

“Sneltrajek 12 beteken heelwat meer druk op ons jaers as wat ons wou gehad het,” het Hall bekelmtoon. “Die 481 kilometer se renafstand op sigself veroorsaak heelwat druk, maar ons besef ook dat Hirvonan tot aan die einde sal aanval. Daar is ’n groot moontlikheid dat hy dele van die roete weens sy vorige ervaring in die wêreldtydrenkampioenskap sal ken, en die MINIs was vandag reeds vinniger as wat ons verwag het. Ek dink dit sal more weer die geval wees, en met Nani Roma (MINI) wat net ses minute agter Leeroy is, beteken dit dit gaan ’n baie spanningsvolle sneltrajek wees. Yazeed sal ook probeer om ’n goeie tyd op te stel, wat beteken dit gaan maar ’n gespanne affêre afgee.”

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers behou 3de plek in sneltrajek 11 van Dakar 2016