Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika-renspan veilig in Suid-Amerika

dkr16-5321_1800x1800

Die Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika-renspan het veilig hier by hul bestemming in Suid-Amerika aangekom en vorder goed met die voorbereidingswerk vir die 2016-Dakar-veldtydren wat eersdaags begin. Die span het ook toetswerk van die drie deelnemende Toyota Hilux-renbakkies afgehandel, wat bevestig dat hulle gereed is om die wêreld se moeilikste motorsportbyeenkoms, die Dakar-veldtydren wat op 2 Januarie in die Argentynse hoofstad Buenos Aires begin, aan te durf.

“Vandag se oefenlopie was nog ’n massiewe mylpaal in ons aanloop tot die begin van die Dakar-byeenkoms,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, ná afloop van die toetswerk gesê. “Die span het egter steeds ’n massiewe klomp werk om te doen voordat die groen vlag vir die wegspring val.”

Die span is op die oomblik naby Toyota van Argentinië se aanleg by Zarate, sowat ’n uur se ry noord van Buenos Aires, wat ook as renhoofkwartier vir hierdie laaste voorbereidingsfase dien. Dit was ook die omgewing waar die toetslopie gehou is wat gebruik word om die motor se komponente in te loop en seker te maak alles werk reg nadat die voertuie weer aanmekaar gesit is. Die voertuie is vroeër in Desember per vliegtuig na Suid-Amerika vervoer, tesame met ’n magdom onderdele en die toerusting wat nodig is om die drie voertuie vir die Dakar-veldtydren deur Suid-Amerika te ondersteun.

“Ons grootste taak nou is om al daardie onderdele en toerusting in ons twee T5-ondersteuningsvragmotors te pak,” het Hall bygevoeg. “Dit is ’n veeleisende taak, maar een wat ’n kritieke komponent van die hele proses is. Ons moet uiteindelik ons hande in ’n oogwink op enige onderdeel of gereedskapstuk kan plaas, dus is hierdie logistieke uitdaging van kardinale belang.”

Sodra die span hul finale voorbereidingswerk gedoen het, moet hulle ’n omvattende voorondersoek by die renhoofkwartier in Buenos Aires bywoon. Die voertuie sowel as die renspan en al die personeel moet aan die veeleisende reëls van die ren voldoen voordat hulle toegelaat word om aan die seremoniële wegspring op 2 Januarie deel te neem.

Die Toyota Gazoo Racing SA-renspan bestaan vanjaar uit drie Toyota Hilux-renvoertuie wat beman word deur die voormalige Dakar-wenner Giniel de Villiers, die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Veldtydrenmotor-kampioene Leeroy Poulter, en die Saoedi-Arabiese rensensasie Yazeed Al-Rajhi. Hulle word deur die navigators Dirk von Zitzewitz, Rob Howie en Timo Gottschalk gesteun.

Hierdie weergawe van die Dakar-veldtydren behels die wegspring in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, op 2 Januarie 2016, waarna die roete noordwaarts deur Argentinië tot in Bolivia kronkel voordat die deelnemers na Rosario in Argentinië terugkeer waar die ren op 16 Januarie eindig.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika-renspan veilig in Suid-Amerika