Toyota behou momentum en markleierskap met voertuigverkope in November

Toyota Quest cleaning

Toyota Suid-Afrika Motors het die voorlaaste maand van 2015 met nog ’n maand van onstuitbare markleierskap vir die elfde van die elf maande van die jaar tot nou afgesluit. Toyota is ver voor die kleinhandelbrigade danksy ’n massiewe 11 824 nuwe eenhede wat in November in die aanloop tot die jaarlikse somervakansie van die hand gesit is ‒ ’n stewige 4 654 eenhede voor sy naaste teenstanders.

Toyota se November-verkope verteenwoordig 23% van die algehele verkope wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) aangemeld is terwyl sy bydrae tot die uitvoermandjie op 5 425 eenhede (19% van uitverkope) te staan kom.

Hoewel die mark ’n baie effense styging teenoor November 2014 toon, was Toyota uiters veerkragtig. Die Hilux is stewig as Suid-Afrika se topverkoper-model geanker ‒ die Hilux het ’n rekord-aantal van 3 938 eenhede in November verkoop, wat sy naaste teenstander gemaklik met 1 330 eenhede (32 955 tot op datum) geklop het. Dit is ten spyte van die feit dat hierdie model besig is om uit te loop en sekere weergawes reeds skaars is.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie, veral in die lig van die uitdagende ekonomiese klimaat waarin die rentekoers die eerste keer in maande gestyg het. Toyota se verkoopsukses is bewys van die maatskappy se toegewyde personeel, handelaars en aggressiewe nuwemodelbekendstellings in die laaste kwartaal van die jaar, met splinternuwe produkte soos die Aygo en aansienlike opgraderings aan verskeie Toyota-gunstelinge soos die Land Cruiser die lig gesien het,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President vir Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika.

Wat passasiersmotors betref, het die Toyota Corolla/Quest-kombinasie altesaam 2 509 verkope aangeteken, met die Aygo wat ’n merkbare verbetering teenoor verlede maand met 275 eenhede teenoor 10 in Oktober gehaal het.

Die gewildheid van nutsvoertuie hierdie tyd van die jaar – Toyota se RAV4 het 384 eenhede aangeteken, wat hom die topverkoper in sy segment maak – het nuwevoertuigverkope in die aanloop tot die Desember-vakansie gehelp en 51 256 eenhede is in November verkoop.

Die nuwe Land Cruiser 200 wat pas bekend gestel is, het 102 nuwe tuistes gevind ‒ meer as dubbel die aantal wat in Oktober van die hand gesit is.

Hino Suid-Afrika het vandeesmaand ook met ’n skitterende poging vorendag gekom en 455 eenhede verkoop ‒ net oor die 100 eenhede meer as wat in Oktober 2015 verkoop is.

“Kleinhandel-marktoestande is moeilik en verbruikers is versigtig en konserwatief. Daarbenewens verkies sommige klante om hul aankoop van ’n nuwe voertuig tot vroeg in die nuwe jaar uit te stel. Dít, tesame met die stygings in die rentekoers en die brandstofprys, maak klante selfs nog versigtiger wanneer hulle nuwe voertuie aanskaf,” sê Hamman.

“Toyota het regdeur die jaar hard gewerk om sy Nommer 1-posisie vir al 11 maande van 2015 tot nou te behou en sy algehele markaandeel die vierde agtereenvolgende jaar te vergroot. Toyota bly daartoe verbind om ’n glimlag op sy klante se gesigte te sit en steeds hoëgehalte, betroubare en duursame vervoer in alle segmente van die mark te bied,” sluit Hamman af.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota behou momentum en markleierskap met voertuigverkope in November