Stylvolle einde vir Toyota tot 2015-Donaldson-veldtydrenkampioenskap

CaptureDie Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie (Toyota Hilux) wat die 2015-Donaldson-veldtydrenkampioenskap in die voorlaaste ronde van die reeks reeds beklink het, het die afgelope naweek die kersie op die koek gesit deur die Atlas Copco-450, die eindronde in die 2015-seisoen, oortuigend te wen. Die nuwe kampioene het Vrydag in die voorren vir die tweede wegspringposisie gekwalifiseer ‒ net twee minute agter hul spanmaats, die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy ‒ en Saterdag voortgejaag om die hoofren met ’n gaping van meer as ses minute te wen. Hierdie uitslag het die Castrol-Toyota-renspan skoonskip vir die jaar laat maak deur nie net elke voorren vir die voorste wegspringposisie te wen nie, maar ook elke ronde van die seisoen te beklink.

“Ons kan nie anders as om in ons noppies te wees nie,” het ’n uitgelate Glyn Hall, hoof van die Castrol-Toyota-span, by die eindpunt in Glenharvie, Gauteng, gesê.

“Die Toyota Hilux-renbakkie het homself vanjaar net weer bewys, en ons jaers en hul navigators het presies gedoen wat van hulle verwag is.”

Al twee die Castrol-Toyota-renspanne het vanjaar in die jongste weergawe van die Toyota Hilux-veldrenbakkie wat vroeg in Januarie 2016 in die Dakar-veldtydren ingespan sal word, gejaag. Taylor/Murphy het Vrydag 30 Oktober die voorren gewen, terwyl Poulter/Howie met die tweede wegspringposisie tevrede moes wees nadat hulle tyd weens ’n pap wiel in die kwalifiserende ronde verloor het.

Die twee Toyota-spanne het Saterdag in die hoofren gou ’n groot voorsprong teenoor die res van die renveld opgebou, maar Taylor/Murphy het heelwat tyd verloor nadat hulle ’n betonkegel by ’n padkruising getref het.

“Die padkruising was nogal steil ‒ op en oor die teerpad,” het Taylor, wat die 2014-kampioen was, ná die ren verduidelik. “Die pad het skielik regs gedraai net toe ons die teerpad kruis, en ek het ’n stuk beton aan die anderkant van die pad getref.”

Dit het die stuurkas van die Toyota Hilux beskadig, wat daartoe gelei het dat hulle halfpad deur die eerste rondte van die dag sonder kragstuur moes jaag. Die tegniese span het die Hilux egter gedurende die verpligte kuipebesoek by die aangewese dienspunt (DSP) reggemaak, en Taylor/Murphy kon verder jaag.

Poulter/Howie het intussen ’n skoon lopie buiten ’n pap wiel gehad, en munt geslaan uit Taylor se teenspoed deur die voortou oor te neem. Poulter-hulle het daarna die krane oopgedraai en hul Toyota Hilux-renbakkie ’n indrukwekkende vyfde keer vanjaar eerste oor die wenstreep gestuur.

Taylor/Murphy was in die derde plek terug op die pad nadat die oudkampioene Chris Visser en Japie Badenhorst (Ford) hulle tydens hul stuurprobleme verbygesteek het. Die Toyota-jaers het uitgehaal so wat hulle kon, maar moes uiteindelik met die derde en laaste podiumposisie tevrede wees deur ’n indrukwekkende aanslag van die jong Ford-jaer Gareth Woolridge af te weer.

Die 2015-seisoen het vir die Castrol-Toyota-renspan in elke ren ’n oorwinning beteken, terwyl hulle ook elke voorren regdeur die seisoen gewen het. Poulter/Howie het vyf van die reeks se ses rondes gewen, en net-net ’n algehele oorwinning in die Toyota-1 000-Woestynren misgeloop nadat hulle die eerste skof van dié moordende marathon-ren gewen het. Taylor/Murphy het die louere in Botswana ingeoes, wat beteken die Castrol-Toyota-renspan het skoonskip gemaak.

Wat Klas S vir voertuie met enjins tot 4 000 cc en vaste-as-agtervering het, het die stryd om die kampioenskap tot in die doodsnikke van die laaste byeenkoms van die seisoen geduur.

Die Toyota-jaers Heini Strumpher en Henri Hugo het die reeks ná vyf rondes gelei, maar hul voorsprong van net 6 punte teenoor hul teenstanders Romulo Branco en João Serôdio (Nissan), het bevestig dat dit ’n taai stryd soos min gaan wees.

Die Toyota-span het ’n vroeë terugslag gehad toe hulle tegniese probleme in die voorren opgedoen het en dit nie kon voltooi nie, wat beteken hulle moes Saterdag van heel agter af wegspring. Branco en Serôdio het intussen voortgejaag en die klasoorwinning beklink, terwyl Strumpher/Hugo daarin geslaag het om van heel agter af tot vierde te vorder. Dit het die klaskampioenskap met die kleinste denkbare gaping aan Branco/Serôdiobesorg, waarna die Toyota-renspen spyte van hul dapper aanval in die Atlas Copco-450 tot vierde gevorder het.

oudat die Suid-Afrikaanse veldtydrenseisoen agter die rug is, sal die Castrol-Toyota-renspan nou op die jaarlikse Dakar-veldtydren fokus waaraan Poulter/Howie weer saam met Giniel de Villiers en sy jarelange navigator, Dirk von Zitzewitz, gaan deelneem. Dié ren begin op 2 Januarie in die Argentynse hoofstad Buenos Aires.

Posted on by jonckie

Comments Off on Stylvolle einde vir Toyota tot 2015-Donaldson-veldtydrenkampioenskap