Gemeenskap in Bloemfontein help met arrestasie van gewapende huisrowers

12265939_429879547222896_7007257187226042191_o

Gisteroggend het 3 huisrowers hulle rieme styfgeloop nadat lede van Bainsvlei CPF Sector 2 gehelp het om hulle te arresteer. Daar word vermoed dat een van die verdagtes ook met n ander ernstige misdaad verbind kan word, dit word tans ondersoek.

Kyk net na die verloop van sake, dit gee n goeie aanduiding van die toegewydheid van die gemeenskap, UITSTEKEND.

8:26 – ‘n GPF-lid bel bystand en rapporteer ‘n huisroof in van Blerklaan. Die huiswerkers is met ‘n pistool gedreig en van klere en selfone beroof. Nadat die vrou daarin kon slaag om haarself los te wikkel, het sy haar man ook losgemaak. Hulle het na die bure gehardloop en alarm gemaak. Dis toe die GPF-lid vir bystand gekontak het.

8:28 – Bystand laat weet oor die radio dat daar 3 verdagtes te voet deur die veld oppad is na die N1. Verskeie Bainsvlei CPF Sektor 2 lede haas hulle na die omgewing.

8:35 – Een van die GPF-lede wat op die N1 ry, rapporteer dat hy die 3 verdagtes sien stap oor die N1, en beweeg in Nelson Mandelaweg rigting stad.

Op daardie stadium was die eerste Bainsvlei SAPD-voertuig op die toneel in van Blerklaan. Omdat die patrolleerders almal tweerigting-radio’s het, kon iemand in van Blerklaan die SAPD-voertuig begelei tot waar die verdagtes gesien is in Nelson Mandelaweg.

Die oomblik toe die 3 verdagtes die SAPD-voertuig sien, het hulle laat spaander. Pandemonium het losgebreek. SAPD-lede en GPF-lede het agter die verdagtes aangehardloop. Die verdagtes het oor die agterste muur gespring van een van die huise in Jac van Rhynstraat.

Gedurende die tyd het bystand op die Whatsapp-groepe ook laat weet van die jaagtog wat oorgegaan het na Universitas-rif. Verskeie lede van die publiek, sekuriteits-maatskappye, selfs ‘n Polisieman wat van diens af was het op die Whatsapps gereageer en na die toneel gegaan.

‘n Kordon is getrek om die blok huise waar die verdagtes geskuil het. Een vir een is die huise se tuine deursoek en stelselmatig is die vlugtendes gevang deur SAPD en/of patrolleerders.

10:00 – Die laaste verdagte word vasgetrek.

Bainsvlei SAPD se bystand was blitsig en uiters professioneel, en ons as gemeenskap sê baie dankie aan Kolonel Francis en sy hele span vir julle vinnige optrede. Baie dankie vir elkeen wat kom help het.

12246816_429880260556158_2922991963949999980_n

Posted on by jonckie

Comments Off on Gemeenskap in Bloemfontein help met arrestasie van gewapende huisrowers