Verfrisde Toyota Avanza staan reg vir Uitdaging

Capture

Die Toyota Avanza het ’n stewige reputasie opgebou – een wat op die betroubaarheid, veelsydigheid en gebruikersvriendelikheid van die kompakte veeldoelvoertuig berus.

Die nuwe Avanza bied ’n vars, nuwe buite-ontwerp wat Toyota se nuwe, maklik herkenbare ontwerpbenadering inspan om ’n selfs nog sterker identiteit te skep en die status van die produk te verhoog.

Die verbeterings word ook onder die dop aangetref waar die nuwe model minder geraas, vibrasie en grofheid (NVH) en beter ritgehalte en verfyning bied.

Nuwe buite-identiteit

Die buite-ontwerp van die nuwe Avanza is danksy die gebruik van Toyota se ‘korporatiewe gesig’ omvattend hersien. ’n Groot verkoeler-sierrooster vorm die hoof-fokuspunt aan die voorkant, en word deur ’n sterk gekleurde ‘wenkbrou’ waarin die kenteken vervat is, beklemtoon. Dié ‘wenkbrou’ strek tot aan die kante waar dit by die trapesiumvormige kopligte aansluit om ’n sterk, eenvormige voorkoms te bied.

Die onderste deel van die sierrooster volg die gekurwe vorm van die boonste deel, wat opswaaikante het en op sy beurt die kant-luginlate uitskakel. Die TX-modelle se luginlate sluit die misligte in om beter sig te bied.

Kyk ’n mens na die agterkant, is daar hersiene stertligte en groter stertdeur-afwerking om die hersiene beeld af te rond.

Hersiene binneruim

In die kajuit word die insittendes deur nuwe binneruim-dekor met ’n gevoel vir gehalte verwelkom. ’n Klassieke enkele skakering swart binneruim-kleurskema vorm die grondslag van die nuwe binneruim, en skep ’n gerieflike en welkom atmosfeer.

Moderne binneruimbeslag en -panele word deur die duursame sitplekbekleedsel met stylvolle insetsels aangevul.

Die bestuurder kry ’n nuwe instrumentehuisie wat treffende gekleurde insetsels inspan, en ’n silwer omhulsel en wit beligting snags om sig te verbeter en dit meer gebruikersvriendelik maak.

Al die modelle het ’n nuwe eko-aanwyser wat die bestuurder terugvoer oor ekonomiese bestuur gee en ’n bydrae tot selfs nog beter brandstofekonomie lewer.

Daarbenewens word duursaamheid verder verhoog danksy ’n hak-voering in die bestuurder se voetruimte wat die mat teen swaar gebruik beskerm.

Groter gerief

Die Avanza is steeds ’n uiters veelsydige voertuig, en ’n sterk fokus is op bykomende gerief vir al die insittendes geplaas.

Die nuwe verdeelde derdery-sitplekke kan onafhanklik verstel word, wat die passasiers die gerief van verskillende sitplekindelings bied. Daarbenewens kan die derde ry getuimel word om die laairuim te vergroot indien nodig.

Die verstelbare tweede en derde ry sitplekke bied gebruikers die moontlikheid om die binneruim-uitleg aan te pas om in hul presiese behoeftes te voorsien, wat verskillende kombinasies tussen passasier- en vragruimte moontlik maak – ’n perfekte voertuig vir gesinne en hul toerusting.

Die bestuurder se venster kan nou met die enkele druk van die skakelaar heeltemal oop- of toegemaak word, wat gebruik vergemaklik. ’n Nuwe middelkonsolebakkie aan die voorkant naby die 12V-kragsok bied gerieflike bergplek vir los goedjies binne maklike bereik van die bestuurder en voorste passasier.

Die agtervenster se ruitveër het nou onderbroke werking bygekry, terwyl die binneliggie outomaties afskakel om die gevaar van ’n pap battery uit te skakel.

’n Gevoel van veiligheid

Die tweedery-sitplekke lewer ’n bydrae tot groter veiligheid deur die toevoeging van ’n middelste kopstut. Die middelste kopstut het ’n slim gesplete ontwerp sodat die sitplekke individueel platgevou kan word. Die middelste sitplek het nou ’n driepunt-sitplekgordel, wat veiligheid verder verbeter.

ISOFIX-kindersitplekmonterings word ook hier aangetref, en word verder deur ’n waarskuwingstelsel vir die bestuurder en voorste passasier se sitplekgordels aangevul, sowel as lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier – alles deel van die hele reeks se standaard-toerusting.

Elektroniese remkragverdeling (EBD) is ook by al die modelle gevoeg ten einde die aktieweveiligheidspesifikasie van die nuwe Avanza, wat sluitwerende remme (ABS) insluit, te verhoog. ’n Diefwerende stelsel met alarm en immobiliseerder rond die veiligheidspakket af.

Onder sy dop

Loer ’n mens onder die nuwe Avanza se dop, sal jy sien die veerstelsel is aansienlik verfyn om selfs nog beter hantering en stabiliteit, stuurgevoel sowel as verbeterde ritgemak te bied. Hierdie ontwerpveranderings dra ook minder geraas na die kajuit oor, wat ’n verdere bydrae tot minder NVH lewer wanneer die voertuig ry.

Aandrywing

Twee nuwe enjins word in die nuwe Avanza-reeks aangetref – in 1,3ℓ en 1,5ℓ-gewaad. Hierdie enjins word met die Etios-luikrug gedeel en bied spesifieke instelling om dit vir gebruik in die Avanza aan te pas. Die 1,3ℓ-weergawe lewer 70 kW met 121 Nm se wringkrag, terwyl die 1,5ℓ-weergawe met ’n ratse 77 kW en 137 Nm pronk.

Brandstofekonomie is ook verbeter en ’n suinige 6,1ℓ/100 km word vir die 1,3-model genoem, terwyl die 1,5ℓ-model se verbruik as 6,3ℓ/100 km aangedui word. Die weergawe met outomatiese transmissie se verbruik is 6,7ℓ/100 km.

Kopers het die keuse van ’n vyfgang-handratkas of ’n outomatiese viergang-transmissie in die 1,5ℓ-model wat die agterwiele aandryf.

Modelgradering vir elke smaak

Die Avanza-reeks is met drie verskillende graderings op grond van kopers se individuele behoeftes besklikbaar.

Die reeks met sy sterk fokus op goeie waarde begin by die S-gradering. Dit behels elektries beheerde vensters, afstand beheerde sentrale sluiting, ’n middelkonsoleboks, onderbroke werking vir die ruitveërs en ’n diefwerende stelsel as deel van die standaard-toerusting.

Die SX-weergawe bied bykomende gemak en styl met kleurgepaste deurspieëlhulsels met elektriese werking, ’n verfrissende lugversorgingstelsel en ’n smukspieëltjie vir die voorste passasier.

Die vlagskip van die Avanza-reeks is die TX-weergawe met nuwe 15”-lemspeeksierwiele en met chroombehandeling vir die voorste wenkbrou-gedeelte. ’n Drukvin agter op die dak gee die voertuig ’n meer stylvol voorkoms.

Binneruim-vermaak vir die gesin se langpadritte word aan die hand van ’n klankstelsel met vier luidsprekers en ’n USB-sok vir bykomende gerief gebied. ’n Multivertoon-skerm gee die bestuurder ook verskillende inligting en terugvoer.

Die reeks het steeds ’n 1,3ℓ-paneelwa wat die perfekte nutsvoertuig met puik maneuvreerbaarheid, brandstofekonomie en ’n ruim vragruim bied.

Capture.JPG 2 

Pryse en modelreeks

1.3 S – R 193 400

1.3 SX – R 208 500

1.5 SX – R R214 900

1.5 SX AT – R 231 600

1.5 TX – R 245 600

1.3 Paneelwa – R 198 000

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Verfrisde Toyota Avanza staan reg vir Uitdaging