Toyota weer aangewys as wêreld se waardevolste voertuigfabrikaat

Toyota Hybrid

Toyota is steeds die wêreld se waardevolste voertuig-fabrikaat en een van die Top 10-handelsname algeheel. Dit volg uit die jongste jaarlikse verslag van die internasionale handelsnaam-agentskap Interbrand. Dit is die vierde jaar ná mekaar dat Toyota die voorste maatskappy in sy sektor is, en sy vertoning is vanjaar versterk deur ’n styging van 16 persent in sy berekende handelsnaamwaarde, wat sy gradering met twee posisies na sesde beste van al die ondernemings wat deel van die peiling was, verhoog het.

Interbrand se 16e jaarlikse gradering identifiseer die 100 waardevolste wêreldwye handelsname deur die al verskillende maniere waarop ’n handelsnaam ’n maatskappy bevoordeel, te ontleed – van die feit dat die maatskappy aan klante se verwagtinge voldoen tot ekonomiese waarde.  Die gradering is gegrond op ’n kombinasie van eienskappe wat ’n bydrae tot ’n fabrikaat se saamgestelde waarde lewer: die finansiële prestasie van die handelsnaamprodukte en -dienste, die rol wat die handelsnaam speel om ’n klant se keuse te beïnvloed, en hoe sterk die handelsnaam is ten einde ’n premieprys te kan invorder of verdienste vir die maatskappy te verseker.

Moving at the Speed of Life, die titel vir vanjaar se verslag, is ’n ingeburgerde filosofie vir Toyota wat ’n klantegerigte benadering tot vervoer en die ontwerp van immer beter voertuie gebruik.

Daardie soort denke is die dryfveer agter Toyota se voortdurende ontwikkeling van tegnologie om in die uiteenlopende behoeftes van klante te voorsien.

Toyota glo byvoorbeeld dat elektriese voertuie die beste vir ’n stedelike omgewing is en die maatskappy is besig met ’n vervoer-proeflopie in Grenoble met die i-Road en t COMS, twee vernuwende elektriese voertuie wat in ’n gemeenskaps-deelvoertuighoedanigheid gebruik word.

Toyota verwag dat hibried- en inprop-hibriedvoertuie die keuse van die meeste van sy klante vir algemene rywerk sal wees, terwyl ’n nuwe generasie brandstofselvoertuie wat deur waterstof aangedryf word, in die behoeftes van langafstand-mobiliteit vir ’n gemeenskap wat toenemend besorg is oor besoedeling en luggehalte, sal voorsien.

Toyota het in ’n poging om die ontwikkeling van brandstofseltegnologie te help bevorder, sy regte op meer as 5 680 van sy brandstofselpatente vir vrye gebruik vir vanjaar oopgestel. Dit sluit dié van die Mirai, die wêreld se eerste massavervaardigde brandstofsel-sedan, in.

“Ons is uiters geëerd om die vierde agtereenvolgende jaar as die waardevolste voertuigfabrikaat aangewys te word. Die bekendstelling van die baanbreker-waterstofaangedrewe Mirai-passasiersvoertuig beklemtoon Toyota se verbintenis en belegging in die voertuig van die toekoms,” sê Kerry Roodt, Hoofbestuurder van Bemarkingskommunikasie by Toyota Suid-Afrika Motors.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota weer aangewys as wêreld se waardevolste voertuigfabrikaat