Stewige dag vir Toyota SA Dakar renspan in Sneltrajek 3 van Marokko-tydren

Morocco dune 2

Groot duine in Sneltrajek 3 van die vyfdaagse Marokko-tydren het die deelnemers vandag van ’n stewige uitdaging voorsien, en die dag het sonder haakplekke vir die Toyota SA Dakar-renspan verloop. Al twee jaers het hul algehele posisies ná nog ’n gesonde vertoning met een posisie verbeter.

Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, was die vierde vinnigste in vandag se sneltrajek oor 273 km, wat naby Zagora in die suide geëindig het. Dit het hulle tot vyfde algeheel opgeskuif – net vyf minute agter die span voor hulle.

Vandag was vir Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, iets wat aan hul karakter gebeitel het toe hulle ’n string duine wat selfs deur die ervare De Villiers as ‘nogal moeilik’ bestempel is, moes baasraak. Poulter-hulle was sesde vinnigste ten spyte van die feit dat hulle in ’n ouer Toyota Hilux met ’n vaste agter-as eerder as die onafhanklike vering van die jongste Dakar-voertuie deelneem.

“Leeroy en Rob het hulle puik van hul taak gekwyt,” het die Toyota SA Dakar-spanbaas, Glyn Hall, uit Zagora gesê. “Hulle het nie net by die meer moderne masjinerie gebly wat spoed betref nie, maar boonop tyd ingehaal!”

Die veteran-tydrenjaer en voormalige Dakar-winner Carlos Sainz (Peugeot) het weer die sneltrajek gewen. Die Spanjaard se voorsprong was hierdie keer 3:56 teenoor Nasser Al-Attiyah (MINI) van Qatar. Die Finse jaer Miko Hirvonen (MINI) was vandag derde, wat hom drie posisies tot sewende algeheel laat opskuif het.

Sainz het ná drie moeilike sneltrajekte ’n gesaghebbende voorsprong van 5:20 teenoor Al-Attiyah, met die Russiese jaer Vladimir Vasiliyev (Toyota Hilux) in die derde plek algeheel. Yazeed al Rajhi (Toyota Hilux) het vandag een posisie teruggesak, terwyl De Villiers die vyfde plek en Poulter die sesde plek beklee.

“Ons het steeds vyf Toyota Hiliux-renvoertuie onder die voorste tien halfpad deur die byeenkoms,” het Hall gesê. “En hoewel dit reeds ’n puik vertoning is, het ons nog drie Hilux’e wat net buite die Top 10 hunker, wat beteken dinge kan aan die einde van die byeenkoms moontlik nog verder verbeter.”

Die byeenkoms verskuif môre (Donderdag 8 Oktober) na die kusstad Agadir. Die byeenkoms hervat met Sneltrajek 4 oor ’n afstand van 293 km wat eerste aan die beurt kom, gevolg deur ’n ooppadgedeelte van 348 km. Die verwagte terrein vir môre se sneltrajek behels talle parallelle spore deur die woestyn, wat groot klem op die navigasiewerk plaas.

Die Marokko-tydren sluit Vrydag 9 Oktober af wanneer die laaste sneltrajek oor 237 km in Agadir eindig.

Aanhangers kan die Toyota SA Dakar-span volg by www.toyota.co.za, www.facebook.com/toyotasouthafrica of @toyotaSA op Twitter.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige dag vir Toyota SA Dakar renspan in Sneltrajek 3 van Marokko-tydren