Skoon lopie vir Toyota SA Dakar renspan in Sneltrajek 2 van die Marokko-tydren

Rally grabel roads

Giniel de Villiers sowel as Leeroy Poulter het vandag skoon lopies regdeur die hele Sneltrajek 2 van die Marokko-tydren gehad, hoewel Poulter en sy navigator, Rob Howie, tyd verloor het toe hulle moes stilhou om hul ouergeslag Toyota Hilux se voorste ewenaar te ondersoek nadat hulle kommerwekkende geluide gehoor het.

“Alles was egter piekfyn,” het Poulter aan die einde van die sneltrajek oor 224 km gesê. “Ons was bekommerd dat ons dalk ’n dryfas verloor het, en het besluit om stil te hou en ondersoek in te stel. Toe ons sien alles was nog reg, het ons voortgejaag, maar ons kon nie die verlore tyd inhaal nie.”

Sneltrajek 2 het uit ’n mengsel vinnige grondpaaie, sagte sand en groot duine bestaan – die volmaakte voorbereiding vir die komende Dakar-veldtydren in Januarie. Die toestande het duidelik in die smaak van De Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, geval en hulle het hul Toyota Hilux tot ’n netjiese derde plek vir die sneltrajek aangevoer.

De Villiers-hulle het vanoggend in die negende plek weggespring nadat hul voertuig se een dryfas by gisteroggend se wegspring probleme gegee het. Hulle het vandag hard gejaag en die Hilux in die derde plek by die eindpunt aangebring, wat hulle tot sesde algeheel opgeskuif het.

“Ons het ’n skoon lopie gehad en goeie vordering gemaak,” het De Villiers by die tentkamp buite Zagora gesê. “Ons sal nou more-oggend (Woensdag) in die sesde plek kan wegspring, wat baie sal help wat die stof betref.”

Die sneltrajek het vir Poulter-hulle sterk begin en hulle het die eerste kontrolepunt in die vierde plek verbygesteek. Maar toe moes hulle stilhou om die motor te ondersoek, wat hulle tot sewende vir die dag laat terugsak het. Die gevolg is dat Poulter/Howie een posisie in die gesamentlike uitslae afgestaan het, en hulle spring more in die sewende plek weg.

Vandag se sneltrajek is deur die veldtydren-veteran Carlos Sainz (Peugeot) gewen, wat nou die voorloper is. Nasser Al-Attiytah (MINI) het die tweede vinnigste tyd van die dag aangeteken, en is nou 1 minuut 24 sekondes algeheel agter Sainz. Yazeed Al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk, is steeds die voorste Toyota Hilux nadat hulle vandag vyfde was, maar het tot derde algeheel teruggesak. Die Russiese jaer Vladimir Vasiliyev (Toyota Hilux) en sy navigator, Konstantin Zhiltsov, is nou in die vierde plek.

Sneltrajek 3 kom more aan die beurt, en behels ’n ooppadgedeelte van 141 km, gevolg deur die sneltrajek oor 274 km op grond, sand en duine. Daarna volg nog twee sneltrajekte waarna die byeenkoms op 9 Oktober in die kusstad Agadir afsluit.

Aanhangers kan die Toyota SA Dakar-span volg by www.toyota.co.za, www.facebook.com/toyotasouthafrica of @toyotaSA op Twitter.

Posted on by jonckie

Comments Off on Skoon lopie vir Toyota SA Dakar renspan in Sneltrajek 2 van die Marokko-tydren