Toyota SA Dakar Span gaan aan Marokko Tydren deelneem

Poulter Howie rally

Die Toyota SA Dakar-renspan is op die vooraand van die 2016-weergawe van die Dakar-veldtydren oor net drie maande hard besig met voorbereidings vir dié reuse-byeenkoms. En as deel van die voorbereiding gaan die span aan die jaarlikse Marokko-veldtydren wat op 3 Oktober in dié land in die noorde van Afrika begin, deelneem.

“Ons deelname aan die Marokkaanse byeenkoms bied ons die geleentheid om ons voertuie in toestande soortgelyk aan dele van die Dakar-ren te toets,” verduidelik die Toyota SA Dakar-spanhoof, Glyn Hall. “Dit bied ons die geleentheid om te sien hoe ons voertuie in werklike rentoestande wat in ’n sekere sin baie soortgelyk aan dié van die Dakar-ren is, sal vaar.”

Die Tydren van Marokko is deel van die FIA se Veldtydren-wêreldbekerreeks, en talle van die deelnemers wat vir die wegspring van die 2016-Dakar gaan aantree, sal ook daar wees.

“Hoewel baie van die spanne die byeenkoms as ’n werklikheidstoets vir die Dakar beskou, bied dit ons ook die geleentheid om te sien hoe die verskillende voertuie teenoor mekaar vertoon,” sê Hall.

“Ons sal vanjaar met twee voertuie deelneem. Giniel de Villiers het verlede jaar een van ons Toyota Hilux-renvoertuie hier kom beproef en met skitterende spoed vorendag gekom. Ons het vanjaar besluit om Leeroy Poulter en Rob Howie die geleentheid te gee om ook deel te neem, hoewel hulle in ’n ouer Dakar-voertuig sal wees om hoofsaaklik meer ondervinding van dié soort ren op te doen.”

Wat dit betref, sal die span ook ’n verskeidenheid nuwe komponente en veringverstellings in Marokko op die proef stel. Die byeenkoms begin op 5 Oktober 2015 en skop af met ’n sneltrajek van 330 kilometer naby Zagora in Marokko. Die word gevolg deur:

Sneltrajek 2 – 6 Oktober: 224 km, Drâa-skof

Sneltrajek 3 – 7 Oktober: 274 km, M’hamid-skof

Sneltrajek 4 – 8 Oktober: 293 km, Zagor-Agadir

Sneltrajek 5 – 9 Oktober:  237 km, Agadir-skof

“Ons het verlede jaar ’n goeie byeenkoms gehad,” sê Suid-Afrika se Dakar-legende, Giniel de Villiers. “Ons het ’n paar probleme gehad wat ons verhinder het om die ren te probeer wen, maar het wel een van die sneltrajekte algeheel gewen. Ons sien baie daarna uit om die sandduine in die noorde van Afrika weer aan te durf.”

Die sanderige terrein maak die navigasiewerk baie uitdagend, en dit is dus ook goeie voorbereiding vir die span se twee navigators, Dirk von Zitzewitz en Rob Howie.

“Die Marokko-veldtydren is ’n Dakar-ren in die kleine,” sê Hall. “Dit is presies wat ons op hierdie tydstip nodig het – nie net wat die ontwikkeling van Toyota se ren-Hilux betref nie, maar ook om die span te help om hul gedagtegang vir die Dakar reg te kry.”

Ontwikkeling en toetswerk sal in Suid-Afrika voortgaan nadat die span op 11 Oktober teruggekeer het. “Ons sal daarna nog een groot toetssessie in Suid-Afrika doen voordat die voertuie en toerusting vir die Dakar-ren na Suid-Amerika verskeep sal word,” sê Hall.

Veldtydrengeesdriftiges kan die Toyota SA Dakar-span by www.toyota.co.za, www.facebook.com/toyotasouthafrica of op Twitter by @toyotaSA volg.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota SA Dakar Span gaan aan Marokko Tydren deelneem