Lexus het ’n goeie motor geneem en dit ’n fantastiese motor gemaak…

Lexus ES

’n Dapper stelling, maar danksy die jongste verbeterings neem die ES, wat reeds die samevatting vir luuksheid is, neem weelde tot die volgende vlak. Die nuwe ES, wat met ’n meer sportiewe voorkoms, sterker agterstilering, verfynde binneruimafwerking, opgedateerde afwerking en verbeterde dinamika pronk, is werklik ’n pakket wat aan die ‘meer is meer’-etiket voldoen.

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking by Lexus, sê die ES het ’n benydenswaardige reputasie vir ruimte, bestuursgerief, waarde vir geld en suiwer gemak verwerf. “Die ontwerpers het nou suksesvol daarop voortgebou deur die jongste weergawe selfs nog meer elegant te maak en dit in sy geheel van ’n meer sportiewe, varser houding te voorsien. Ons is vol vertroue dat die nuwe Lexus ES die leier in sy klas sal bly terwyl hy aansienlik meer aandag sal geniet. Die feit dat die motor teen ’n selfs nog aantrekliker beginprys beskikbaar is, is bloot ’n bonus.”

“Hersiene gesigseienskappe”

Die hersiene en verfrisde vooraansig van die nuwe ES behels Lexus se kenmerkende uurglas-sierrooster wat in ’n helder satynchroom-omhulsel geraam is, sowel as twee nuutontwerpte kopligte wat nou ligdiode-projektortegnologie gebruik. Ikoniese “L”-vormige pylpunt-dagligryligte (DRL) strek verby die kopligsamestelle en bied ’n kenmerkende voorkoms wat dit met ander Lexus-modelle verbind. Daarbenewens is die hersiene ligdiode-misligte na die buitenste onderste deel van die voorkant verskuif waar dit die voertuig se breë houding beklemtoon en die vloeibaarheid van die ontwerp beklemtoon.

Die slanke vorm strek voort tot in die ES se grasieuse daklyn wat moeiteloos na agter vloei waar ’n meer moderne stertligontwerp die “L”-vormige tema in ’n oombliklik herkenbare glans voortsit. Die agterkant pronk ook met ’n herontwerpte, stylvolle verchroomde nommerplaathulsel wat sigbaar tot in die helder dele van die stertligte invloei om met die voertuig se nuutgevonde gespierheid te kommunikeer. Nuutgevormde verchroomde reghoekige stertpype van die ES 250 bied aansienlike flair aan die voertuig se reeds sportiewe houding.

Die indrukwekkende nuwe vorm word aangevul deur twee nuwe sewentiensduim-wiele met rigtingspeke wat spesiaal vir die ES ontwikkel is. Die standaard-weergawe vir die ES 250 is ’n uittakkende donkergrys twintigspeekwiel met masjienafwerking, terwyl die ES 350 met ’n tienspeek-roteerontwerp met masjienafwerking op ’n medium grys agtergrond pronk.

Nuwe rompkleure is by die pallet gevoeg: Sonic Quartz (wit), swart en diepblou, wat elk aangebring is deur middel van Lexus se vernuwende en hipermoderne verftegnologie wat ontwerp is dat die verf se helder-bolaag ligte skade vanself kan herstel. Elk van die altesaam agt kleure is versigtig gekies om die ES se dinamiese oppervlak te beklemtoon en word deur ’n nuwe veelfase-verfproses wat Lexus-modelle hul diep, juweelagtige glans gee, aangebring.

“Suiwer gehalte met elke aanraking”

Lewxus ES 2

Lexus het geen gelyke wanneer dit by montering en afwerking kom nie. Sy vloeiende voorpaneel-uitleg, instinktiewe ergonomie en die fynste materiale en omvattende standaard-toerusting laat die ES van suiwer gehalte met elke aanraking spreek.

Nuwe beslag-opkikkerings aan die deure se binnekantste oppervlakke en middelkonsole voeg die binneruim se weelde-gevoel en -ontwerp saam. Kleurgepaste bekleedsel word ook in die middelkonsole gebruik, terwyl die rathefboom ’n nuwe leerrompie het.

’n Nuwe, dunner sportstuurwiel sorg vir groter bestuursgenot. Die nuwe volkeur-dunfilmtransistorskerm (TFT) van 4.2” gee alle belangrike voertuiginligting sowel as inligting oor die multimedia-klankstelsel voor en in die middel.

Ander uitstaande kenmerke sluit in volle leerbekleedsel regdeur met hoëgehalte stikwerk en ’n nuwe verhewe patroon. Die ES deel nou ook baie eienskappe met die GS, soos die groot syferhorlosie, agtergrondbeligting en die Nano-e-klimaatbeheerstelsel. Bykomende standaard-geriefskernmerke sluit in ’n glasdak, afstand beheerde sleutellose toegang, elektries beheerde sitplekke met ingeboude verwarmers (met geheurwerking vir die bestuurdersitplek), ’n elektro-chromatiese truspieël, trurat-gidsmonitor met ’n nuwe slimkamera, en parkeerhulp (PDC).

“Towertapyt-rit met verfrissende dinamiese kinkel”

Die ES is die maatstaf vir sy klas wat ritgemak en algehele rysamestelling betref. Trouens, die woorde wat die meeste rondgeslinger word, is ‘heerlik’, ‘towertapyt-rit’, ‘gedemp’, en ‘ontspannend’. Die nuwe 2016-ES behou daardie tradisie – en durf ons waag om te sê selfs beter gemak – maar bied ’n verfrissende kinkel in die wese van gevorderde dinamiese eienskappe.

Lexus se ingenieurs het rompversterkings regdeur aangebring om die voertuig se onderkant verder te versterk. Dié soort onderstel-instelling, wat van die Lexus IS-sportsedan oorgeneem is, gee die ES ’n gevorderde ritgehalte en interaktiewe hantering.

Daarbenewens het die ES ook ’n klankdempende laag agter die voorpaneel om enjingeraas nog meer doeltreffend uit die kajuit te hou.

Lexus es 3

Onder die dop

Dinge is onder die dop nog net so ernstig soos altyd, wat beteken jy kry ’n fyningestelde kragbron wat aan die hoogste vereistes op die gebied van gehalte en verrigting voldoen.

• Die ES 250 word aangedryf deur Lexus se satyngladde dubbele VVT-i-tweelingnokas-viersilinderenjin van 2.5 liter wat 135 kW se krag teen 6 000 r/min opwek en wringkrag van 235 Nm teen 4 100 r/min ontwikkel. Die Lexus ES 250 versnel met die hulp van sy standaard outomatiese sesgang-transmissie in minder as tien sekondes (9,8 om presies te wees) van 0 tot 100 km/h en kan 200 km/h oorskry. Die draaiknop waarmee verskillende rymodusse gekies kan word, gee die bestuurder toegang tot die ECO-, NORMAL- of SPORT-verstellings. Dit maak ’n wye spektrum ry-ervarings in die ES moontlik – van uiters ekonomies en ontspanne in ECO (waar eienskappe soos versnellerreaksie en lugversorging vir die beste moontlike ekonomiese verbruik aangepas word) tot die aansienlik meer sportiewe en meer direkte verrigting in die SPORT-modus. Die beligting in die instrumentehuisie weerspieël die soort verrigting: sagte blou vir ECO en rooi vir SPORT. Brandstofverbruik kom op ’n baie prysenswaardige 8ℓ/100km in die gekombineerde siklus neer.

• Die Lexus ES 300h gebruik ’n enekel-VVT-i-tweelingnokas-Atkinson-viersilinderenjin van 2,5 liter (118 kW teen 5 700 r/min en 213 Nm teen 4 500 r/min) wat inskakel by ’n elektriese motor van 105 kW en gevoed word deur ’n 650V-nikkelmetaal-hibriedbattery om ’n gesamentlike 151 kW-verrigting te lewer. Die Lexus ES 300h, wat ’n ECVT-stelsel inspan, lê die 0-100 km/h-naelloop in 8,5 sekondes af voordat die motor elektronies tot 180 km/h beperk word. Sy brandstofekonomie is uit die aard van die saak uitmuntend – die ES 300h slurp ’n skrale 5,5 ℓ/100km in die gekombineerde siklus. Iets wat natuurlik met die hibried-weergawe in gedagte gehou moet word, is die feit dat hoe drukker die verkeer, hoe laer die brandstofverbruik, aangesien dit die elektriese motor toelaat om sy eintlik ding te doen.

Wat veiligheid betref, bied die nuwe ES ’n magdom gevorderde aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe, soos tien lugsakke, ’n blindekol-monitor met baanwisselhulp, voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), sluitwerende remme (ABS) met noodremhulp (EBD) en remkragverdeling (BA) sowel as Isofix-kindersitplekmonterings. ’n Belangrike eienskap wat onlangs by die standaard-toerusting gevoeg is, is die agterkant-dwarsverkeerwaarskuwingstelsel (RCTA). Dié stelsel help veral wanneer ’n mens byvoorbeeld agteruit uit ’n parkeerruimte ry. Die RCTA-stelsel gebruik die blindekol-monitor (BSM) se radar om voertuie wat van weerskante af aankom en moeilik raakgesien kan word, te bespeur. Wanneer die stelsel ’n aankomende voertuig ‘sien’, waarsku die RCTA die bestuurder met ’n visuele waarskuwing in die deurspieëls sowel as ’n gonser. Nog ’n nuwe eienskap is wegtrekhulp (Hill Assist Control) wat nou deel van al twee modelle se standaard-toerusting is.

Wat???? Die nuweling is eintlik goedkoper?

Glo dit of nie, maar die antwoord is ‘Ja!” Die nuwe ES se prys is effens laer as dié van die uitgaande model deurdat die lys van toerusting op slim wyse aangepas is. Eintlik net een stukkie toerusting – die ingeboude navigasiestelsel. Die verwydering van dié duur toerusting* het Lexus in staat gestel om die prys van die ES 250 met R14 700 en die ES 300h met R16 600 te verlaag:

• ES 250 – R464 200
• ES 300h – R549 100
Al die modelle in die nuwe ES-reeks word net soos die res van die Lexus-modelreeks deur ’n waarborg van vier jaar of 100 000 km gedek, met ’n bykomende 8 jaar en 195 000 km vir die hibried-battery van die ES 300h. Wat instandhouding betref, word die ES 250 en 300h deur Lexus se “Distance Plan Plus” gedek.

Nog besonderhede is beskikbaar by www.lexus.co.za, 08611 LEXUS of op Lexus se Facebook-blad by www.facebook.com/LexusSouthAfrica.

* Interessant genoeg is ingeboude satelliet-navigasie deesdae minder gewild weens slimfone wat hierdie funksie toenemend oorneem.

Besoek Ook:

Vehicle Finance, Car Insurance and Road Safety

Buying and Selling a Vehicle – Informed decisions and the Vehicle Retailer

 

Lexus es 4

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus het ’n goeie motor geneem en dit ’n fantastiese motor gemaak…