Hartseer Terugslag vir Castrol Toyota renspan toe Poulter en De Villiers faal

rally spectators

Die Toyota-Kaap-Handelaarstydren, die voorlaaste ronde van die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, was ’n uiters moeilike byeenkoms vir die Castrol-Toyota-renspan. Maar in dieselfde asem het die twee Toyota Etios-motors wat in Klas S1600 jaag, die afdeling vir voorwielaangedrewe motors geheel en al oorheers. Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, het nog ’n oorwinning in hul Yato-Toyota Etios aamngeteken, terwyl hul spanmaats Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden in ’n Fragram-geborgde weergawe van dieselfde motor as naaswenners uit die stryd getree het.

Die Toyota-Kaap-Handelaarstydren het die verdedigende kampioene Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee (Castrol-Toyota-Yaris-S2000) ’n geleentheid gebied om hul hardverdiende voorsprong in die kampioenskap te vergroot.

Hulle het die byeenkoms met ’n voorsprong van sewe punte voor die voormalige kampioen Mark Cronjé aangepak, en met nog net twee rondes in die reeks was die kampioenskap op ’n mespunt gebalanseer.

“Ons het Kaap toe gekom met die wete dat ons ’n goeie uitstlag nodig het om ons titel te verdedig,” het Poulter by die eindpunt van die tydren in Malmesbury in die hartjie van die Swartland gesê.

“Ons het reg van die begin af hard gedruk, maar dinge het nie so uitgewerk nie.”

Die Toyota-Kaap-Handelaarstydren het met twee teersneltrajekte by die Killarney-renbaan in Milnerton begin voordat die opwinding na Brackenfell vir nog twee kort teersneltrajekte by die plaaslike Toyota-handelaarskap verskuif het.

Dié soort teersneltrajekte staan in tydrengeledere as kinderspeletjies bekend, maar vanjaar se tydren het net weer bewys hoe hard hierdie kort teersneltrajekte kan byt.

“Leeroy het ’n lae muurtjie in die tweede Killarney-sneltrajek getref,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, verduidelik. “Die slag het die Yaris laat tol en die linker-agterwiel afgeruk. Leeroy en Elvéne het ten spyte van die skade daarin geslaag om die sneltrajek te voltooi en die dienspunt te haal waar die span aan die werk gespring het om die motor reg te kry.”

Poulter en Coetzee kon ná ’n uitmergelende poging van die Castrol-Toyota-renspan tegniese brigade vir die dag se laaste twee sneltrajekte aantree.
Hulle het dié twee sonder voorval voltooi en hul Toyota Yaris-S2000 in een stuk aan die tegniese span vir verdere herstelwerk deur die nag oorhandig.

Die verdedigende kampioene het die tweede dag van die Totota-Kaap-Handelaarstydren weens die tyd wat hulle op Killarney verloor het, met ’n agterstand van twee minute teenoor die voorjaers begin.

Hulle het die eerste sneltrajek van die dag – een van nege grondsneltrajekte in die Malmesbury-omgewing waaruit die laaste dag van die tydren bestaan het – gewen en aangehou om in elke sneltrajek nog waardevolle sekondes teenoor die jaers voor hulle in te haal.

“Ons het goed tyd opgemaak en so hard as wat ons kon gejaag,” het Poulter verduidelik. “Maar in Sneltrajek 9 het ons ’n string moeilike afdraande-hobbels teen hoë spoed bereik. Ons was net te vinnig toe ons die eerste een tref, en van toe af het alles verkeerd geloop.”

Die Toyota Yaris-S2000 se neus het in die grond geduik en die voertuig en sy bemanning laat bollemakiesie slaan. Poulter en Coetzee het egter sonder ernstige beserings uitgeklim en weggestap.

Die motor is verwoes, wat Poulter en Coetzee se hoop om die kampioenskap nog te wen, ’n ernstige knou toegedien het.

“Dit was ’n ongelukkige gevolg van die feit dat ons te hard moes druk nadat ons soveel tyd op die eerste dag verloor het,” het Hall verder gesê. “Ons is net baie dankbaar dat die bemanning ongedeerd is, en met nabetragting lyk dit asof Leeroy en Elvéne dalk tweede sou gewees het as dit nie vir hul ongeluk was nie.”

Hoewel Poulter-hulle op die tweede dag soos blits gejaag het, het ’n string jaers voor hulle probleme opgedoen.

Dit sluit sy spanmaats Giniel de Villiers Carolyn Swan in die tweede Castrol-Toyota-Yaris-S2000 in. Hulle was ná Sneltrajek 9 waar Poulter-hulle uitgeval het, in die tweede plek algeheel, maar met nog net vier sneltrajekte oor het die noodlot hulle ook getref.

“Ons het in Sneltrajek 10 effens wyd deur ’n draai voor ’n watergat gekom,” het De Villiers verduidelik.

“Ek het dit nie tóé besef nie, maar ons het ’n pap wiel opgedoen toe ons wyd gedraai het, wat die motor by die watergat stadiger laat indraai het as wat ek verwag het.”

Die motor het wyd gedryf en ’n hekpaal getref. Dit het hulle dwars laat swaai waarna die wiele ’n grondwalletjie langs die watergat getref en gerol het.
De Villiers het die motor ten spyte van die impak weer aan die gang gekry en verder gejaag, maar het by die dienspunt ná die sneltrajek besef die skade is te erg en halt geroep.

“Dit was dus ’n dubbele slag vir ons,” het Hall gesê. “Maar dit is motorsport, en op hierdie vlak kan die verskil tussen ’n skoon lopie deur ’n hele sneltrajek en ’n massiewe rolslag in millimeters gemeet word. Ons is egter gelukkig dat ons twee jaers het wat hul motors selde beskadig ten spyte van die puik uitslae wat hulle gewoonlik aanteken.”

Die tydren is deur Mark Cronjé en sy navigator, Gerhard Snyman (Ford) gewen, met die Volkswagen-jaers Gugu Zulu en Hergen Fekken wat die tweede en derde plekke ingeneem het.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe motors met enjins van 1,6ℓ betref, het Toyota sake geheel en al oorheers.

Die verdedigende kampioene, Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, het hul klas met ’n voorsprong van bykans ses minute teenoor hul spanmaats Matthew Vacy-Lyle en sy navigator, Schalk van Heerden, gewen. Hulle was ook die enigste twee wat die eindpunt in dié klas behaal het – iets wat net weer bewys hoe moeilik die byeenkoms werklik was, maar ook hoe betroubaar die plaaslik ontwikkelde Toyota Etios-S1600 is.
Die S1600-titel is met nog net een ronde in die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap steeds wyd oop, hoewel Botterill/Vacy-Lyle se jongste oorwinning hulle ’n effense voorsprong teenoor Vacy-Lyle/Van Heerden vir die laaste ronde gegee het.

Die laaste tydren van die jaar, wat nou al tradisie geword het, is die Polokwane-tydren in Limpopo waar die 2015-seisoen op 16 en 17 Oktober 2015 sal afsluit.

“Die Polokwane-Motor-Tydren sal die laaste kans wees,” het Hall die naweek in Malmesbury gesê. “Leeroy en Elvéne het steeds ’n kans om die kampioenskap te wen, en solank daar ’n kans is, sal ons aanhou probeer.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Hartseer Terugslag vir Castrol Toyota renspan toe Poulter en De Villiers faal