Nuwe voertuig hou Amadea-tehuis van veilige bewaring mobiel

Capture

Die Amadea-tehuis van veilige bewaring vier ’n nuwe Toyota Avanza wat deur Toyota Suid-Afrika Motors geskenk is.  Die voertuig sal gebruik word om kinders van die veilige hawe af skool toe en terug en na en van doktersafsprake en soortgelyke plekke te vervoer.

“Ons het al lank ’n bykomende voertuig nodig, en dié nuwe Toyota Avanza is ’n antwoord op ons gebede,” sê Rina Malan, stigter van die Amadea-tehuis van veilige bewaring. “Ons is baie dankbaar vir Toyota Suid-Afrika Motors se skenking. Die voertuig sal ons baie op ’n daaglikse grondslag help.”

Amadea tree hoofsaaklik op as plek van veilige bewaring vir weeskinders, gestremde en mishandelde kinders en ook kinders wat HIV/VIGS het en daardeur benadeel word. Die kinders word versorg om hul fisieke, kreatiewe en intellektuele groei te stimuleer, en word uiteindelik in veilige en liefdevolle sorg geplaas.

Daarbenewens reik Malan na die gemeenskap uit deur in noodsaaklike behoeftes te help voorsien, sowel as met menslike ontwikkelingsprojekte wat lede van die gemeenskap ’n verskeidenheid vaardighede leer.

“Amadea het ’n groot verantwoordelikheid teenoor die kinders wat hulle ondersteun. Hierdie verantwoordelikheid is een van die redes waarom ons besluit het om hierdie voertuig aan hulle te skenk. Dit sal baie met die mobiliteit van die kinders na wie hulle omsien en ook met die daaglikse bestuur van die tuiste help,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Toyota Suid-Afrika Motors.

“Ons het ’n Toyota Avanza 1.5 TX geskenk danksy die sewe sitplekke wat genoeg sitplek vir ’n hele paar kinders bied, terwyl die voertuig ook oorgenoeg ruimte het om goedere te vervoer wanneer die sitplekke platgevou word. Ons wens hulle talle gelukkige en veilige kilometers in hul nuwe Avanza toe,” het Hamman afgesluit.

Amadea, wat “liefdevolle kind van God” beteken, is meer as 15 jaar gelede as tehuis van veilige bewaring op die been gebring en het sedertdien sowat 300 kinders versorg.

Nog inligting oor Amandea of besonderhede oor hoe om skenkings aan die Amadea-tehuis van veilige bewaring te doen, is beskikbaar by www.amadeasafehouse.co.za

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe voertuig hou Amadea-tehuis van veilige bewaring mobiel