Castrol Toyota slaggerreed voor tydren in Tshwane

Capture

Die Castrol-Toyota-renspan is met nog net drie rondes in die 2015-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap oor, onder groot druk om sy 2014-titel suksesvol te verdedig. Hoewel die Ford-jaer Mark Cronjé ná die eerste vyf rondes bo-aan die punteleer is, is daar geen twyfel nie dat die momentum ná twee agtereenvolgende oorwinnings in die vorige twee rondes in die rigting van die verdedigende kampioen, Leeroy Poulter, begin swaai het. Hierdie naweek se Imperial-Toyota-Tshwane-Motor-Tydren sal ’n belangrike rol in die uitslag van die seisoen speel.

Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, het hul Castrol-Toyota-Yaris-S2000 in almal behalwe een byeenkoms vanjaar op die podium parkeer. Die enigste uitsondering was in die Secunda-Motor-Tydren toe hulle net sewe punte aangeteken het, wat Cronjé die kans gegee het om ’n bykomende sport op die punteleer te klim. Poulter-hulle is ná hul oorwinnings in Bela-Bela en Port Elizabeth egter net nege punte agter die voorjaers.

“Iets wat dinge net nog interessanter maak, is dat die reëls bepaal dat die kampioenskap uit die sewe beste van die reeks se agt uitslae bestaan,” verduidelik die spanhoof, Glyn Hall.

“As ’n mens dít in ag neem, is die verskil op hierdie tydstip eintlik net vier punte.”

Die druk is op Poulter en Coetzee om nog ’n tydren te wen, maar in die ongenaakbare tydrenwêreld is niks seker nie. Hoe dit ook al sy – Poulter is vol vertroue dat hul Castrol-Toyota-Yaris se verrigting beter as ooit voorheen is.

“Die span het hard gewerk om die Toyota Yaris S2000 tot ’n fyn gebalanseerde tydrenmasjien te ontwikkel.”

Poulter sowel as Cronjé het hierdie byeenkoms al voorheen gewen, en die spoed aan die voorpunt van die renveld gaan blitsig wees.

Poulter se spanmaats Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, is agter die voorjaers in ’n warm stryd met die Volkswagen-jaer Gugu Zulu om die derde plek in die kampioenskap gewikkel. Die Toyota-jaers het Zulu in die onlangse Volkswagen-tydren uitgestof, wat hulle een posisie in die reeks tot derde algeheel laat opskuif het. Die gaping tussen hulle is ’n skrale 2,5 punte, dus sal nie een van hulle wil bes gee wanneer die groen vlag hierdie naweek vir die Imperial-Toyota-Tshwane-Motor-Tydren val nie.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe 1.6ℓ-motors betref, is dit die Toyota-Etios-jaer Matthew Vacy-Lyle wat hom aan die voorpunt van dié afdeling bevind.

Hy en sy navigator, Schalk van Heerden, wat deur Fragram geborg word, het nog in elk van die seisoen se byeenkomste tot dusver op die podium in hul klas geëindig, en hoewel hulle nog nie die soete smaak van ’n klasoorwinning ervaar het nie, het hulle genoeg gedoen om bo-aan die punteleer in hul klas te wees.

Die verdedigende kampioene, Guy Botteril en sy navigator, Simon Vacy-Lyle (Yato Tools-Toyota Etios) is derde en net 1,5 punte agter die naasvoorlopers, Paul Franken en Henry Kohne (Volkswagen). Die S1600-kampioenskap is alles behalwe verby, en enige van vyf jaers is nog binne bereik van die titel.

Die Tshwane-Motor-tydren begin Vrydag om 12:00 met ’n seremoniële wegspring by een van Pretoria se bekendste geskiedkundige aantrekkings, Fort Klapperkop. Die tydren behels tien sneltrajekte in die omgewing om Cullinan en Bronkhorstspruit in Gauteng. Saterdag se aksie begin die oggend om 9:00.

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota slaggerreed voor tydren in Tshwane