Castrol Toyota renspan maak skoonskip in Tshwane

Poulter and Coetzee rallyDie Castrol-Toyota-jaer Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee (Toyota Yaris S2000), het hul stryd om hul Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskapstitel suksesvol te verdedig, nuwe lewe gegee toe hulle die strawwe en stowwerige Imperial-Toyota-Tshwane-Motor-Tydren op skitterende wyse gewen het. Hulle is nou gelyk met die Ford-jaers Mark Cronjé en sy navigator, Robin Houghton.

Hierdie naweek se oorwinning was egter ’n titaniese stryd wat toeskouers vasgenael gehad het terwyl die jaers tien moeilike sneltrajekte tussen Cullinan en Bronkhorstspruit in Gauteng afgelê het.

Die opwinding het Vrydag 14 Augustus by die bekende Fort Klapperkop in Pretoria afgeskop.

Dag Een het net vier sneltrajekte in die omgewing van Cullinan behels, en hoewel Poulter/Coetzee deurentyd in aanraking was, het hulle die eerste dag as naasvoorlopers sowat twaalf sekondes agter Cronjé-hulle, die vroeë voorlopers, afgesluit.

Dag Twee sou egter die deurslaggewende faktor aan die hand van ’n aantal lang sneltrajekte in uiters moeilike toestande wees. Poulter/Coetzee het Saterdag die eerste opstopper geplant toe hulle in die oggend se eerste sneltrajek net meer as agt sekondes van Cronjé/Houghton afgerokkel het.

“Ons het in net die volgende sneltrajek ongelukkig ’n pap wiel gehad,” het Poulter ná die tydren gesê. “Ons het uit die aard van die saak tyd teenoor Mark-hulle verloor, maar in net die volgende sneltrajek was dit hul beurt om ’n pap wiel te kry en ons het ons verlore tyd teruggekry.”

Die gaping het halfpad deur die dag tot net twee sekondes gekrimp, en met nog net twee sneltrajekte oor was almal se oë op die stophorlosie aan die einde van die sneltrajek. Cronjé/Houghton het egter nie by die eindpunt opgedaag nie – hulle het ’n klip getref wat hul Fiesta se stuur beskadig het. Dit het die druk op Poulter/Coetzee verlig, en hulle het die res van die tydren sonder verdere voorval voltooi. Die Ford-jaers het hul motor weer op die pad gekry en uiteindelik 15e geëindig.

“Dit was ’n epiese oorwinning,” het die Castrol-Toyota-spanhoof Glyn Hall ná die podiumgeselligheid by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan gesê. “Leeroy en Elvéne het ten spyte van ongekende druk die oorwinning wat ons so nodig gehad het om ons kampioenskap aan die gang te hou, opgelewer. Dit was ’n skitterende vertoning.”

’n Ewe epiese stryd het agter die twee voormotors om wat toe nog die laaste podiumposisie was, gewoed. Die Castrol-Toyota-jaers Giniel de Villiers en Carolyn Swan, wat aan die begin van die Imperial-Toyota-Tshwane-Motor-Tydren reeds derde in die kampioenskap was, was in ’n wipplankstryd met die Volkswagen-jaer Hergen Fekken en sy navigator, Pierre Arries, vasgevang.

Fekken/Arries, wat al twee keer die nasionale kampioenskap gewen het, het ’n skitterende tydren gehad en die tweede Castrol-Toyota-renspan herhaaldelik om die derde plek algeheel uitgedaag. De Villiers/Swan het egter uiteindelik die oorhand gehad nadat hulle ’n paar skitterende tye opgestel het.

En toe Cronjé/Houghton terugsak nadat hulle hul motor in die voorlaaste sneltrajek van die byeenkoms beskadig het, het De Villiers-hulle opgeskuif om Toyota die boonste twee trappies van die podium te besorg, terwyl Fekken/Arries die derde plek algeheel – net 7,3 sekondes agter De Villiers/Swan – ingeneem het.

In Klas S1600 was dit die Yato-Toyota Etios van Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, wat nog ’n klasoorwinning aangeteken en die voortou in die klaskampioenskap teruggeneem het.

Hulle het ’n foutlose tydren gehad en die wenstreep ’n hele een minuut en 40 sekondes voor die Volkswagen-jaers Paul Franken en Henry Kohne oorgesteek.

Die Klas 1600-fokuspunt was egter die skouspelagtige ongeluk van Matthew Vacy-Lyle en Schalk van Heerden, wat voor die Imperial-Toyota-Tshwane-Motor-Tydren bo-aan die punteleer in hul klas was. Die Fragram-Toyota Etios het ná ’n groot sprong in Sneltrajek 8 sleg geland en ’n paar keer teen hoë spoed gerol. Die jaer en sy navigator het ongedeerd uit die wrak geklim, maar die voorval het hul kampioenskapsveldtog ’n ernstige knou toegedien.

Nog net twee rondes bly in die 2015-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap oor, met die Toyota-Kaap-tydren op 18 en 19 September volgende op die kalender.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota renspan maak skoonskip in Tshwane